WAAR LÊ DIE KNOOP?
’n Onwelkome afleiding van die regte probleme wat Suid-Afrika in die gesig staar. Dít is wat die studente-optogte is. Klasgeld en lewenskoste is hoog, ja, maar dit was nog altyd so. Daar is lenings en ander bystand beskikbaar en mense het nog altyd ’n plan gemaak. Die koste kan laer en verdienstelike studente moet doeltreffender bygestaan word, maar die harde werklikheid is dat 41% van alle studente nooit hul grade behaal nie. Sonder hulle sou universiteite ’n klomp geld bespaar. Dít is waar die gesprek behoort te begin.
Dan behoort ’n mens te vra hoekom die land se wanfunksionele skoolstelsel nie genoeg universiteitsmateriaal oplewer nie, en daarna hoekom wanvoeding steeds honderdduisende kinders verstandelik strem lank voor hulle skool toe gaan. Dan kom jy aansienlik nader aan die oorsaak van die probleem.
Soos met water. In die Wes-Kaap begin die wintergraanoes al plek-plek inkom. Die verwagting is dat die oes gemiddeld tot bogemiddeld gaan wees. Aansienlik beter as verlede jaar, al word hier en daar nog reën benodig en ondanks die koringinvoertarief-debakel wat ’n demper op die mark geplaas het. Maar daar is kommer oor afloopwater. Baie damme is aansienlik leër as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. En die bloedige somer lê nog voor.
Oor Suid-Afrika se mielie-oes is die Amerikaners sommer heel optimisties met ’n voorspelling van ’n wafferse 13 miljoen ton in die 2016-’17-produksiejaar. Dít ondanks die Oranjerivierstelsel se damme wat op 60% staan teenoor verlede jaar se 78%. Dit het meegebring dat besproeiingswater met 15% ingekort is. Die Vaalrivierstelsel se damme staan op ’n karige 52% teenoor verlede jaar se 74%, met ’n aansienlike inkorting van 20% op besproeiingswater. By 40 damme is daar reeds beperkings, met ’n verdere 10 wat binnekort gaan kry. Al reën dit dat dit bars, gaan dit ’n ruk duur om damme weer vol te kry. Die impak wat hierdie waterbeperkings kan hê op die stabiliserende uitwerking van Suid-Afrika se besproeiingsmielies (en veevoer) op die totale landboubedryf, laat jou maar ’n bietjie senuagtig.
Die mielieprys is ook kwaai af teenoor vroeër vanjaar se hoogtepunte. Skielik is daar weer ’n gebrom oor die ondeursigtigheid van Safex. Hoekom kan spekulatiewe en ware transaksies nie van mekaar geskei word nie, en hoekom is inligting nie vrylik beskikbaar, soos by die reuse-Chicagobeurs nie? Dit help ook nie dat ons betreklik klein mieliemark deur elke gerug en sprong van die wispelturige rand geswaai kan word nie.
Dan is daar die gesukkel met die pluimveebedryf. Prof. Johan Willemse voorspel daar gaan vanjaar ’n halfmiljoen ton hoendervleis ingevoer word. Volgens hom “verplaas” dit omtrent ’n miljoen ton plaaslike veevoer, en die pluimveegrootbaas Kevin Lovell reken dié invoer kan Suid-Afrika tot 50 000 werkgeleenthede kos.
In die veegebiede het dit verlede week nog plek-plek geryp en weiding raak ál skrapser. Dinge lyk op plekke erg benard. In ’n opname op landbou.com het 73% van die respondente gesê hulle ervaar erge kontantvloeiprobleme wat die voortbestaan van hul ondernemings bedreig. Reën sal help, maar daar is groter probleme wat op die lang duur ingewikkelder oplossings verg. En baie van dié oplossings moet kom van die mense wat tans ons universiteite wil afbrand. Dít maak jou regtig senuagtig. — CHRIS BURGESS Media24 Weeklikse Tydskrifte GESIN SPESIAAL