KARAAN-PLAN KRY ’N TWEEDE ASEM
’N UNIEKE ooreenkoms oor ’n uitbetalingsmeganisme vir die staat se 50%-bydrae tot grondhervormingsprojekte bied nou ’n geleentheid om die model van die Nasionale Ontwikkelingsplan (bekend as die Karaan-plan) weer in die praktyk te toets.
Die ooreenkoms oor ’n meganisme is tussen die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en die Land Bank bereik. “Die noodsaaklikheid van so ’n uitbetalingsmeganisme was een van die belangrikste lesse wat geleer is uit die eerste 50/50-loodsprojek, ’n sitrusplaas in Burgersfort wat in 2014 deur Bosveld Sitrus aangekoop en ontwikkel is,” sê dr.Theo de Jager, voorsitter van Agri Limpopo se transformasie-komitee.
“Agri-Limpopo het sedertdien in vennootskap met die mega-boeregroep Pro-Agri en AFASA ’n finansieringskema, gegrond op ’n gesubsideerde rentekoers, voorgestel. Dit sal die tweede fase van loodsprojekte nou moontlik maak.” Hy sê verteenwoordigers van Agri-Limpopo, die departement en Afgri einde September met prof. Mohammad Karaan, ’n kommissaris van die Nasionale Beplanningskommissie, vergader oor vyf nuwe loodsprojekte in Limpopo.
HOOFSTROOM
“Die projekte behels die aankoop van plase deur maatskappye waarin gevestigde boere en begunstigdes van grondhervorming (meestal plaasarbeiders) elk 50% aandele het. Die staat finansier die begunstigdes se aandeel.
“Só ’n vennootskap bied ’n geleentheid vir begunstigdes om voordeel te trek uit die ervaring, stelsels en toegang van suksesvolle produsente en vinniger in die hoofstroom te kom. Vir gevestigde boere bied dit ’n geleentheid om goedkoper uit te brei terwyl dit ook voordele vir grondhervorming en swart ekonomiese bemagtiging (Agri-SEB) inhou.” De Jager sê in die ontmoeting met