SÓ WIL DIE STAAT LANDBOUGROND BEWAAR
Landbougrond bly menigmaal in die slag wanneer ontwikkeling ter sprake kom, maar daar is hoop dat ’n nuwe wet dié hulpbron sal beskerm. JOYLENE VAN WYK berig.
ANDERS as in die geval van mynbou en residensiële ontwikkeling, waarvoor daar wetgewing bestaan om grondgebruik vir hul doeleindes te reguleer, is daar geen wette wat landbougrond beskerm vir kosproduksie nie.
’n Tweede weergawe van die wet wat hiervoor moet sorg, die wetsontwerp op die behoud en ontwikkeling van landbougrond, is onlangs in die Staatskoerant gepubliseer, en is oop vir kommentaar tot 30 Oktober.
Van Suid-Afrika se 122 miljoen ha grond het net sowat 13% hoë landboupotensiaal.
Die onderliggende beginsels van dié wetsontwerp is dat sulke grond op lang termyn vir landbou bewaar moet word, dat die hoofgebruik daarvan vir die landbou moet wees en dat die grond se geskiktheid daarvoor vir toekomstige geslagte bewaar word.
Die wet wil ook toesien dat die verlies aan landbougrond beperk word en dat die sekondêre gebruik van die grond verbindbaar is met die primêre landbougebruik. Ingevolge die wetsontwerp mag die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye ’n klassifikasiestelsel daarstel vir die geskiktheid van landbougrond, en ook grondgebruiksones daarstel na gelang van die tipe aktiwiteite waarvoor die grond geskik is.
Tans word grond in sewe kategorieë verdeel. Klas een tot drie is geskik vir gewasverbouing. Die res is meer geskik vir weiding.
Agri SA sê grond van klas een tot drie beslaan slegs 13% van die land en Suid-Afrika se voedselsekerheid hang van hierdie klein persentasie af. Nietemin kan ’n mens nie uit die oog verloor dat wetlike meganismes om produksie op landbougrond in sekere gebiede te beskerm, beperkings plaas op die eienaar se reg om sy eiendom te gebruik vir enige doel van sy keuse.
Daar moet óók besef word dat daar wetlike en mededingende belang vir grond in Suid-Afrika is wat fundamentele regte onderskraag, soos omgewings- bewaring, behuising en werkskepping. Logies gesproke kan dieselfde beskerming en beperkings dus nie vir alle landbougrond geld nie. Om hierdie rede stel Agri SA voor dat die klassifikasie van grond ’n regstatus moet kry sodat daar onderskei kan word tussen die verskillende vlakke van beskerming vir landbougrond teenoor mededingende grondgebruik.
Die TLU SA meen ook dat die eienaar se reg tot vryheid van keuse oor hoe die eiendom vir landboudoeleindes aangewend word, gerespekteer moet word.
Die staat moet sy voorneme om te onderskei tussen die gebruik van grond vir landbougewasse, weiding of ander landboudoeleindes, uitsluit, sê die organisasie.
Daar moet dringend oorweging gegee word aan die gebruik van grond wat geskik is vir die landbou, maar nie tans so geklassifiseer is nie.
“Baie van Suid-Afrika se landbougrond van hoë potensiaal is Die beleidsdokument vir die beskerming van landbougrond, waaruit die wetsontwerp spruit, stel sekere uitsluitings ten gunste van grondhervorming voor.
In beginsel sal die hersonering van landbougrond van hoë potensiaal nie toegelaat word nie, maar in die geval van grondhervorming en in sekere uitsonderlike omstandighede, sal dit toelaatbaar wees.
Verder, omdat daar so min hoëpotensiaal-landbougrond is, beveel die beleidsdokument aan dat dié soort grond slegs vir voedselgewasse gebruik moet word, en nie vir enige ander soort landbouproduksie nie.
Hiervolgens sal landbougrond nie in wildplase of ander soort landbouproduksie omgeskakel mag word waar die verandering níé voedsel voortbring nie, of tot die verlies van gewasproduksie lei. Verder moet die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye skriftelik toestemming gee voordat enige landbougrond vir doeleindes buite die landbou verkoop of onderverdeel mag word.
SEKTORALE PLANNE
Binne vyf jaar ná die bekragtiging van die wet moet elke provinsie en munisipaliteit landbousektorplanne opstel wat strook met hul geïntegreerde ontwikkelingsplan (IDP) om dit in ooreenstemming met die nuwe wet te bring.
Die TLU SA sê in sy kommentaar dat landelike veiligheid en -sekuriteit, met spesifieke verwysing na geweldsmisdade en die diefstal van vee, kunsmis en produkte, ’n groot bron van kommer bly. Die organisasie stel voor dat die sektorale planne ook vir wetstoepassing voorsiening maak.