Is transformasiestrukture sleutel tot kapitaal?
Transformasie in die landbou gaan ál meer onder die vergrootglas kom. Die bedryf moet egter die kans benut om beskikbare private kapitaal – wat miljoene dollar beloop – tot sy voordeel aan te wend.
Die doel van transformasie in Suid-Afrika is om die manier waarop ons sake doen en die mense wat daardeur bevoordeel word, te verbreed. Dit beoog om die struktuur van die ekonomie sodanig te verander dat ’n meer inklusiewe ekonomie geskep word. ’n Verskeidenheid ingrypings of aksies word beoog om dit te bereik, naamlik opleiding, indiensneming, werkskepping, die skep van nuwe klein besighede (veral in swart gemeenskappe) en die skep van ’n mark vir nuwe toetredende swart deelnemers.
Hierdie beginsels geld ook die landbou. Die Regering het oor die afgelope twee dekades met verskeie planne vorendag gekom om grond en landbou-aktiwiteite binne swart mense se bereik te plaas.
Ongelukkig was baie van die planne doodgebore of té ambisieus, terwyl die planne wat wél ’n kans gehad het om te slaag, deur onbekwame regeringsamptenare en ondoeltreffende departemente in die wiele gery is.
Die kwessie van grondhervorming en transformasie in die landbou sal toenemend op die voorgrond tree. Die afgelope munisipale verkiesing het gewys dat die ANC toenemend stemme verloor in die metropole waar swart middelklasgemeenskappe – of die clever blacks, soos pres. Jacob Zuma na hulle verwys – hul rug op die ANC draai.
Die EFF se stempersentasie het min of meer dieselfde gebly, maar dit is ’n uitgemaakte saak dat die ANC in die toekoms merendeels ’n plattelandse party sal word. En daar sal die ANC en EFF nou meeding om stemme en sal die landbou en grondhervorming ál meer ’n populistiese speelbal word.
EIENAARSKAP BY WERKNEMERS
Die beginsel om werknemers ’n aandeel of belang in ’n onderneming te gee is niks nuuts nie. Dié model word ook tans in die landbou bespreek. Baie nywerheidslande, soos Duitsland en Japan, het ná die vernietigende uitwerking van die Tweede Wereldoorlog op hul ekonomieë besluit om werknemers te betrek by die besluitneming en bestuur van besighede ter opbou van hul lande.
In Duitsland maak die maatskappyewet voorsiening vir twee direksies en word werkerverteenwoordigers en unieverteenwoordigers in van dié direksies opgeneem.
Japan het ook veral werknemer- en gemeenskapsprojekte gebruik as gesamentlike eienaarskapstrukture om die arm en verwoeste landskap op te bou en sosiaal-ekonomiese probleme te takel. In ander gevalle, soos in Amerika en Europa, word werknemervoordele, soos pensioenfondse en mediese skemas, betrek by besluitneming in besighede om werknemers op te voed oor die werking van die besigheid, asook om ’n gevoel van eienaarskap by die werknemers te kweek.
Arm mynbougemeenskappe op die platteland in Suid-Afrika het ook al voordeel getrek uit trusts wat tot stand gebring is as deelnemende en begunstigde strukture. Die Royal Bafokeng in Noordwes is een van die bekendste begunstigde skemas, maar daar is heelwat ander ook.
Party boere het reeds die beginsel van werknemerbetrokkenheid begin toets. In die Wes-Kaap is daar byvoorbeeld verskeie gevalle waar die provinsiale regering die belange van almal suksesvol bevorder het.
GEE TOEGANG TOT KAPITAAL
Van die grootste voordele van die strukture vir huidige grondeienaars is moontlik die toegang tot kapitaal wat deur dié strukture moontlik gemaak kan word.
In die verlede het provinsiale regerings baie van die verkooptransaksies aan swart groepe gefinansier. Konvensionele finansiële instellings, soos banke, het tot dusver langtand gekou aan die beginsel om swartbemagtigingstrukture (wat geen finansiële bydrae tot die transaksie kan lewer nie) met finansiering te help.
VERLIGTING VIR LANDBOU
Dit kan in die toekoms verander, aangesien banke deur transformasieteikens in die finansiële bedryf hulself verbind het tot die finansiering van sodanige transaksies. Die bedrae waartoe hulle hulself verbind het, beloop miljarde rande.
Ál meer oorsese skenkers (groot korporatiewe instansies) kry belastingtoegewings van hul eie regerings vir maatskaplike bydraes in lande, soos Suid-Afrika. Korporatiewe instansies in Amerika is prominente rolspelers in dié verband.
Die finansiering van die buitelandse instansies word nie deur die Suid-Afrikaanse regering gekanaliseer of geadministreer nie, maar private administrateurs word vir die doel aangestel. Van die geld beloop ’n paar honderd miljoen dollar en is gemik op sosiaal-ekonomiese opheffing.
Die geld kan verligting bring vir landboubedrywe wat dringend kapitaal benodig – iets wat ons eie regering tans nie het nie. Werknemeren gemeenskapstrukture, soos trusts, kan nie net die transformasiedoelwit bereik nie, maar kan ook kapitaal ontsluit vir die uitbreiding van landbou-aktiwiteite. Dit is in belang van almal wat nie kapitaal uit konvensionele bronne kan bekom nie.
Gideon Gerber is ’n prokureur, en stigter en direkteur van Serr Synergy, wat onder meer spesialiseer in SEB-strukturering en -nakoming. Hy was betrokke by SEB-wetgewing, dien in werkskomitees, lewer bydraes vir tegniese komitees oor SEB-kodes en doen konsultasiewerk. legal@serr.co.za, 012 807 0682.