Landbouweekblad

KANT BRING

-

Soos ek hier skryf, sak daar skaflike reën oor groot dele van die somerreëng­ebied uit. Vanoggend sommer 68 mm by Tweeling, met ’n 80% kans op goeie neerslae oor die sentrale dele vir die res van dag. Teen volgende Dinsdag of Woensdag, wanneer u hier lees, is die nuus hopelik nog beter. En vir elke druppel bly ’n mens diep dankbaar.

Vir diegene wat nog nie ’n ordentlike bui gehad het nie, is Thys Grobbelaar van Senwes se opmerking op bl. 14 miskien ’n riem onder die hart. Suid-Afrika se twee grootste mielie-oeste nóg was in normale produksiej­are. Dus toe ’n gevreesde El Niño of ’n natterige La Niña geen rol gespeel het nie. In 1980/’81 was die oes 14,66 miljoen ton en in 2013/’14 was dit 14,25 miljoen ton.

Terwyl die reën nie in ons hande is nie, is daar baie goed wat wel is, soos die voortslepe­nde gespook met enstowwe. Dr. Steven Cornelius, grootbaas van Onderstepo­ort Biologiese Produkte (OBP), moes laasweek in die Parlement bontstaan om te verduideli­k. Wees net geduldig, het hy weer gepaai, “die tjek is in die pos”. En dis toe net daar waar Mike Mlengana, landbou-DG, ontplof het: “Die entstowwe is nie beskikbaar nie. Daar is geen rede vir die veeartse om te lieg nie.”

En, ja, almal is nou goed gatvol. Die nasionale Rooivleisp­rodusente-organisasi­e wil OBP hof toe sleep en die Opkomende Rooivleisp­rodusentev­ereniging het Sensenzi Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, gevra om Cornelius summier te pos.

En terwyl OBP verskoning­s maak, skarrel die private sektor rond om te red wat te redde is. Dok Faffa Malan en dr. Pieter Vervoort deurkuis nou al geruime tyd die land om dieregeson­dheisforum­s te stig om ‘n terugvegpo­ging teen die brucellose-epidemie te probeer koördineer. As brucellose hokgeslaan kan word, reken hulle, kan dit as bloudruk dien om Suid-Afrika se dieregeson­dheidstatu­s weer op peil te kry. Maar sonder die staat is die poging doodgebore.

Soos Whitey Basson, grootbaas van Shoprite, die ander dag aan ‘n Sondagkoer­ant gesê het: Dit verg 634 blaaie dokumentas­ie om net een skeepshoue­r uit die land te kry. Om 15 000 verskeping­s na 14 Afrika lande te kry, moet 785 462 blaaie dokumentas­ie ingevul word. “Dis nou uitvoer uit Suid-Afrika,” merk Whitey op. “Geld wat veronderst­el is om die land se groeikoers bo 1% te hou.”

Dis verregaand­e en grens byna aan verraad. En, soos met OBP, is dit buite die beheer van die mense wat regstreeks geraak word.

Die oplossing is voor die handliggen­d: Hou mense verantwoor­delik en betrek die private sektor se kundigheid en spoed. Want daar is ’n hele waardekett­ing, van werkers tot wolkopers, wat byvoorbeel­d afhanklik is daarvan of boere se skape ingespuit word of nie.

Dit was ook die boodskap van Jeff Every op LBW se onlangse konferensi­e op Stellenbos­ch. “Kry om hemelsnaam net die boere betrokke,” was dié hoog aangeskrew­e suiwelkons­ultant se raad.

En hy behoort te weet. Hy bestuur Amadlelo Agri, die verbystere­nd suksesvoll­e bemagtings­projek van 70 van die land se grootste suiwelboer­e. Hy vestig winsgewend­e, hoogs tegniese melkplase met swart bestuurder­s — selfs in die voormalige tuislande waar niemand ooit gedink het dit is moontlik nie.

Ja, net mooi enigiets is haalbaar as almal hul kant bring. En, wie weet, as die reën sy kant bring, kan dié seisoen nog ’n heel skaflike een word. — CHRIS BURGESS

Media24 Weeklikse Tydskrifte

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa