VEILIGHEID | Polisie moet rieme ál dunner sny
Landelike veiligheid het voorkeur-aandag nodig, maar landbou-gemeenskappe moet ook besef dat stygende misdaad en openbare geweld meeding om die polisie se hulpbronne en aandag, het dr. Johan Burger, van die Instituut vir Sekerheidstudies, gewaarsku by ’n bespreking oor landelike veiligheid. Onder die statistiek wat hy genoem het is:
Die aantal gewelddadige byeenkomste wat polisie-optrede en -hulpbronne vereis, het die afgelope tien jaar met 436% van 660 per jaar tot 3 542 die afgelope boekjaar gestyg.
Vreedsame byeenkomste waar die polisie ook teenwoordig moet wees, het met 42% van 7 658 tot 11 151 toegeneem.
Die koers vir plaasmoorde is 97 per 100 000 van die bevolking teenoor 50 moorde op polisielede en 34 vir die res van die bevolking. “Dit wys dit is steeds dubbel so gevaarlik om te boer as ’n polisieman te wees en daarom moet landelike veiligheid ’n voorrangsaak wees.
“Alle mense op plase, ongeag ras of geslag, is potensiële slagoffers en die persepsie dat daar net wit slagoffers is, moet deur statistiek weerlê word,” het hy gesê.
Lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende polisiekommissaris, wat saam met die weermaghoof, genl. Solly Shoke, aan die debat deelgeneem het, het erken misdaadvoorkoming in landelike gebiede is nie altyd doeltreffend nie, en dat beskikbare hulpbronne nie altyd reg aangewend word nie.
“Die stryd teen misdaad kan nie net deur die polisie gewen word nie. Alle gemeenskappe se hulp is nodig en dit help nie om vingers te wys nie. Almal moet saamwerk om met die beperkte hulpbronne die stryd ’n werklikheid te maak.”
Weens die vereistes vir die vorige reserviste-stelsel is baie mense uitgesluit, maar daar word tans gekyk hoe dit vir meer mense oopgestel kan word om die polisie se hand te sterk.
“Almal van julle moet aktiewe deelnemers wees. Ek weet julle bloed is steeds blou vanweë julle betrokkenheid, en daarmee bedoel ek nie Blou Bulle nie.”
Phahlane en Shoke het albei hul verbintenis tot die bevordering van landelike veiligheid benadruk.