DORSLANDBOERE OP NAALDPUNT
Die Namibiese landbou-unie het by sy onlangse jaarlikse kongres ’n bestekopname gedoen van die verwoestende droogte se effek op die land se ekonomie. CHARL VAN ROOYEN berig.
DIE winsgewendheid van die landbou is onder groot druk en insetkoste het in die afgelope tien jaar twee keer vinniger as die inkomste gestyg, het mnr. Ryno van der Merwe, voorsitter van die Namibiese landbou-unie (NLU), op die opening van die jaarlikse kongres in Windhoek gesê.
Die inkomste uit veeboerdery het met 71% gestyg, maar produksiekoste het met 154% toegeneem.
Namibië se vierde nasionale ontwikkelingsplan (NDP4) het die landbou as een van die sleutelsektore van die ekonomie geïdentifiseer danksy die groot groeipotensiaal. Die algehele doelwit vir die landbou was groei van 4%, maar weens die ongunstige weerstoestande het dit met 0,06% gedaal. Die lewendehawesektor kon ook nie sy doelwit van 4,1% haal nie en het met 2,3% gedaal. Gewasverbouing se
STAAN SÓ OP SKOU
mikpunt was 3,9%, maar dié sektor het met slegs 2,4% gegroei.
Die landbou en die bosbou se gesamentlike bydrae tot die bruto nasionale produk bedra tans 3,2%, hoewel dit in 2014 nog 4,9% bedra het. “Die uitdaging is om die landbou se werklike potensiaal weer te ontsluit om méér groei te behaal,” het Van der Merwe gesê.
VERWAGTING
Van der Merwe het op die kongres uitgewys dat sowat 70% van Namibië se bevolking regstreeks of onregstreeks vir hul lewensbestaan van die landbou afhanklik is. Die sektor is boonop die grootste werkgewer (29%) van alle sektore.
“In die lig van die afgelope vier jaar se uiterste toestande moet die regering en alle betrokkenes in die landbou nuwe manie- re ondersoek om ’n gunstiger boerdery-omgewing te skep sodat boere hul produksie en volhoubaarheid as hul aandeel in voedselsekerheid kan verbeter. Die NLU is daartoe verbind om die land se ware landboupotensiaal te ontsluit, maar ons kan hierdie doelwit nie alleen behaal nie,”hethygesê.
Boere moet ook sélf na hul boerderye en die doeltreffendheid daarvan kyk en bepaal wat nodig is om ’n verskil aan die landbousektor te maak.
GRONDHERVORMING
DieNLUhethomselfas’nvennoot van die regering verbind om grondhervorming deur middel van ’n grondbelasting-proses suksesvol te maak. Só ’n belasting moet egter redelik en bekostigbaar wees. Die huidige model het swak plekke, “en sal nie armoede uitroei en genoeg aandag aan werkloosheid gee nie en sal buitelandse beleggings in die land ontmoedig”.
Dit is ook belangrik dat boere wat ingevolge ’n grondhervormingsprogram begin boer, ondersteuning kry om te verseker die program is suksesvol en die landbou bly mededingend.
Sowat 9,3 miljoen hektaar is reeds na voorheen benadeelde mense oorgedra.
Dr. Theo de Jager, voorsitter van die Suider-Afrikaanse Konfederasie van Landbou-unies (Sacau), het op die konferensie gesê Amerika en Europese lande het saam al meer as ’n biljoen Amerikaanse dollar aan ontwikkelingshulp vir Afrika bestee, en dat daar weinig te sien is van al hierdie hulp.
“As ons as kommersiële boere nie help om nie-kommersiële landbou te bevorder nie, het niemand ’n toekoms in Afrika nie,” hethygesê.
Hy het bygevoeg dat die landbou in Suider-Afrika die brandpunt van ontwikkeling is, waar voedsel in die komende dekades vir die wêreld gelewer moet word.
‘As ons as kommersiële boere nie help om nie-kommersiële landbou te bevorder nie, het niemand ’n toekoms in Afrika nie.’