TOTSIENS KOEI, HALLO KRIEKBURGER
’N MENS kan deesdae selfs ’n biefstuk vervaardig met ’n 3D-drukker, en kriekhamburgers is reeds in Amerika te kry.
Met sulke drastiese veranderings in kosproduksiemetodes en verbruikersmaak sal boere moet spring om relevant te bly.
Dit was die boodskap van mnr. Ernst Janovsky, hoof van Absa-Agribesigheid se sentrum vir uitnemendheid, op die Namibiese Landbou-unie (NLU) se landbouvooruitskouings-konferensie in Windhoek.
Dit is reeds moontlik om ’n sel uit ’n bees te onttrek en vleis daarmee in ’n laboratorium te kweek. Vertikale voedselproduksie sal toeneem en voedsel sal danksy nuwe tegnologie geproduseer word waar dit benodig is.
Vanweë tegnologie gaan supermarkte oor ’n paar dekades iets van die verlede wees namate mense méér artikels oor hul selfone kan bestel. Bemarking sal op individuele basis geskied.
Hy voorsien dat die hele wêreld se bevolking teen 2050 sal kan bekostig om die vereiste 8 700 kJ per dag te kan inneem – vandag is die gemiddelde kilojoule-inname slegs in Afrika en Asië laer as dit.
Mnr Ben Amathila, ’n afgetrede voormalige Namibiese kabinetslid en boer, het gesê die land loop gevaar om sy beste teelmateriaal en die winsgewendheid van sy plase prys te gee omdat diere noodgedwonge weens die droogte geslag moes word.
ALTERNATIEWE
Amathila sê weens die onvoorspelbaarheid van boerdery en die weer moet boere nuwe planne maak, soos om sonkrag te gebruik om elektrisiteit op te wek.
“Sonlig is gratis. Namibië bestee R3 miljard per jaar om elektrisiteit by buurlande te koop. Dit sal ’n groot verskil aan die land maak as daardie geld eerder in ons eie land bestee word.”
Hy meen ook boere kan meer geld maak deur indringerbosse te verwyder en braaikole daarvan te maak.