SA WINGERDROBOT: ‘DIS NET DIE BEGIN’
Die Kaapse wynbedryf roem hom graag op die ryk plant- en dierelewe wat daar gevind word, maar in die toekoms kan ’n plaaslike “dassie” een van wynboere se getrouste bondgenote in die wingerd wees.
Die instituut vir wingerd- en wynwetenskappe (IWWW) aan die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs met die samewerking van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingraad (WNNR) ’n robotika-projek van stapel gestuur en die afstandbeheerde Robot X, ook bekend as die Dassie, is die eerste prototipe wingerdrobot. Die Dassie sal moontlik gebruik kan word vir oesskattings, om grondinligting te versamel en om stres- of tekortreaksies in die wingerdstok te diagnoseer. Dié outomatiese data-insameling sal wynboere help om beter produksiebesluite te neem.
“Dit is glad nie vergesog dat ’n wingerdrobot deel van toekomstige wingerdverbouing in Suid-Afrika kan wees nie, veral nie as ons dit op ’n kostedoeltreffende manier doen nie,” het die wetenskaplikes in ’n verklaring gesê. Dr. Albert Strever, prof. Melané Vivier, mnr. Berno Greyling en dr. Wyhan Jooste vorm tans deel van die US se span. Die WNNR-spesialiste is mnre. Peter Bosscha, Roel Stolper, Hein Swart, Hanno Schreiber en Willis de Ronde.
Volgens mnr. Conrad Schutte, VinPro se wingerdboukundige in die Stellenbosch-streek aan wie die Dassie gedemonstreer is, is dit so groot soos ’n huishoudelike grassnyer. “Dit skep ’n platform waaraan ’n klomp sensors, soos hoëdefinisiekameras, geheg kan word,” het hy op die Wineland-seminaar op Stellenbosch gesê.
Die prototipe is sowat 60 cm breed en 45 cm hoog en word vanaf ’n rekenaar of selfoon via WiFi beheer. Dit is ook met ’n laser-skandeerder toegerus en die kameras kan sywaarts en vorentoe kyk. Die robot kan ook ’n elektromagnetiese induksiesensor trek om grondverskille te karteer.
Sensors en data-opnemers op vaste punte in die wingerd gee slegs metings van daardie spesifieke punte, maar die Dassie beweeg op en af in die wingerdrye om ’n ruimtelike oorsig van die wingerd te gee. Só kan die hele produksiestelsel van naderby bekyk en inligting kan ingesamel word sonder om monsters te neem. “Die sensors samel ’n klomp data in, wat na ’n rekenaar gestroom word. Ons kan dit dan ontleed en aanbevelings oor die bestuurspraktyke vir ’n spesifieke wingerd maak,” sê Conrad.
Dit kan wingerdboukundiges byvoorbeeld help bepaal waar die beste plek is om grondvogmeters te installeer en hoe om dit met die res van die wingerd in konteks te plaas.
“Een van die moontlikhede is dat dit ons kan help om akkurate oesskattings te maak.”
Hommeltuie is natuurlik ook ’n manier om so ’n ruimtelike oorsig te kry, maar dit word deur weerstoestande (veral wind) en streng wetgewing aan bande gelê.
Volgens Albert is die verwerking van data hul grootste uitdaging. “Ons sit reeds met data van drie soorte sensors wat teen ’n hoë spoed ingesamel word. Dit moet sinvol verwerk word. Ons het ’n ingenieur wat tans daaraan werk.”
Volgens hom behoort die volgende prototipe selfs met meer en duurder sensors, soos termiese of hiperspektrale sensors, te spog.
Ander lande eksperimenteer ook met wingerdrobotte, maar ’n eg Suid-Afrikaanse robot sal goedkoper wees. “Baie van die tegnologie is ingevoer, dit word net plaaslik bymekaargesit en met sagteware geïntegreer.”
Dis maar nog net die begin, sê die betrokkenes, en die Dassie sal oor die volgende maande omvattend getoets en verfyn word.
“Ek dink nie elke boer sal in die toekoms noodwendig sy eie wingerdrobot hê nie, maar dit sal ’n stuk gereedskap vir konsultante en kontrakteurs wees,” voorspel Albert.