Landbouweekblad

‘Ag, Heretjie, help my tog vannag dat Sieraad my nie sal byt of my voetjies raaktrap nie.’

-

“Vat!” het hy oomblikke later gebulder. Ek het vorentoe gespring en die span in die dowwe maanlig na die ploegvoor gelei. Agter het ek dofweg gehoor hoe hy die Rudsak inknip en toe kraak die trekkettin­g. Ronde vir ronde het die drieskaarp­loeg die aarde omgekeer en in die stil naglug het die geur van varsgeploe­gde grond gehang. Kort-kort het ’n esel agter my gehoes wanneer sy keel teen die borsplaat toetrek. Voor het die twee perde se tande op hul stange geknars. Kort-kort het een van die trekdiere ’n harde rogpoepie in die oggendstil­te gelos as die ploeg deur die taai klei sy pad oopskeur. Agter my kon ek die perde se warm, jagende asems ruik, want ploegtrek is nie speletjies nie. Die koue van die voordagmôr­e het stadig maar seker toegeslaan, want jy kon hoor hoe die grond kraak as die hoewe van die esels deur die kors trap. In die maanlig het die dou geblink op die sooie wat die ploeg gooi. ’n Geniepsige luggie het begin byt en my tandjies het opmekaar begin klap. My half verkluimde handjies het krom en styf verbete die tou probeer vasklem.

Die vrees dat Sieraad my kan byt, het vlak in my binneste kom lê en ek het kort-kort in my verbeeldin­g gesien hoe sy lang voortande my broekgat hap. Ek het my ruggie al krommer getrek, want hy kon my ou maer lyfie middeldeur byt, soos Lady met die muskeljaat­kat wat Ma se hoenders gevang het nou die dag. Ver agter my het oom Gideon ’n deuntjie gefluit en kort-kort die agteresels aangepraat. Onverwags het ’n verdomde naguiltjie vlak voor my opgevlieg. Verskrik het ek teruggeste­ier, terwyl die perde hul kop opruk. Ek het gegil toe Sieraad se groot klou my voetjie vastrap en ek het tussen die pote van die trekgoed beland. Ek het ’n hengse bek opgesit en oom Gideon het gelukkig met ’n lang, skril gefluit die trekspan gou tot stilstand gebring.

Die esels het elkeen ’n harde snork gegee toe die rasende ding tussen hul bene deurkruip. Oom Gideon het my soos ’n lappop opgetel en die nat grond van my kleertjies afgeslaan. “Sierraad het my raakgetrap,” het ek aanmekaar gesnik, terwyl hy my vashou. “Toemaar, as Oompie weer die koringmeul inspan, sal ek die vuiles se gat warm klop,” het hy my getroos. Hy het ’n vuurhoutji­e gestryk en na my voetjie gekyk. “Mastag, man, hy het mos jou hakskeen se vel afgetrap!” Toe ek die bloed sien, het ek harder gesnik. “My . . . hoed . . . is weg . . . ek wil nie meer lei nie . . .” Oom Gideon het besef dat hy sy kaarte nou reg moes speel, anders is hy sonder ’n touleier. Hy het weer ’n vuurhoutji­e gestryk en my hoedjie tussen die esels se pote uitgehaal en weer op my koppie gesit. “Vat jy die sweep – Oompie sal hulle tot by die land se koppenent lei en dan maak ek eers vir ons ’n lekker vuur.” Terwyl hy sukkel om die vuur aan die brand te kry, het my lyfie gebibber van die koue. Onderwyl die taaibosvuu­r lekker hoog brand, het ek my verkluimde handjies naby die vlamme gehou . . . toe loop my trane, want toe kom die pyn.

TROEFKAART

In die vuurlig het die span trekgoed gestaan en die wasem het uit hul natgeswete lywe getrek. Oom Gideon het my getroos en toe afgekyk na my geswelde voet. “Tag, ou Boesman, die bleddie perd het mos jou voet lelik getrap. Ek dink ons span hom met die volgende skof heel agter in – dan sal hy bars.” Hy het omgedraai en na die ooste gekyk. “Die dagster is al uit – netnoumaar­s breek die dag en as die son uitkom, span ons uit en dan eet ons brekfis.” Ek het my trane afgevee en met nuwe belangstel­ling na hom geluister. Hy het in sy baadjiesak gevroetel en sy troefkaart uitgehaal – ’n lekker, effe vuil van die tabakstof, en dit vir my gegee. Terwyl ek sukkel om dit skoon te suig, het hy liefdevol oor my koppie gevryf. “Nou’s ons lekker warm, gaan vat maar weer vir ons die tou dat ons die skof kan klaarmaak.”

Toe ek effe huiwer, sê hy weer: “Onthou, my kind, as ons uitspan, gaan ons lekker brekfis eet.” Ek het gehoorsaam die tou gaan vat en terwyl ons ploeg, was my gedagtes kort-kort by die brekfis.

Waar sou hy die vis vandaan kry? Later het dit begin lig raak en die akker het einde se kant toe gestaan. Toe die son oor Soutfontei­n se rand loer, het oom Gideon die ploeg regoor die wa uitgeknip en ’n lang fluit gegee. Ons het uitgespan en die esels gaan voer gee.

Ek kon nie wag om die vis te eet wat hy my belowe het nie. Toe die vuurtjie lekker brand, het hy vir ons elkeen ’n beker koffie gegooi en vir my ’n sny brood gegee. Terwyl my tande in die botter spoormaak, het ek by myself gewonder wanneer hy die vis uithaal waarmee hy voordagogg­end so gebrêk het. Ek het hom egter nie daarna uitgevra nie, maar sy belofte het in my koppie bly vassteek.

Eers in Wallekraal se laerskool het ek by antie Visser, ons juffrou, geleer wat brekfis beteken.

Gert Sarrisam is Gert Engelbrech­t wat op die plaas Sarrisam buite Garies boer. Die storie is ’n oorspronkl­ike verhaal. Verskeie boeke en kontreisto­ries uit sy pen het al die lig gesien, onder meer sy boek Vonke uit die koeroeklip – ’n eie verhaal uit Namakwalan­d. Om die boek te bestel, stuur e-pos aan die skrywer by

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa