Gaste-besigheid verrys uit ‘niks’
Elize Greeff noem haar gastehuis op Fauresmith De Nada – Spaans vir “iets uit niks”. Met min geld het sy onder meer ’n ou klip-melkstal in ’n onthaalsaal omskep.
Hoe het die onderneming ontstaan? Tydens die Fauresmith-perde-uithourit in 2008 het ons spontaan verblyf vir ’n paar mense gegee toe hulle niks op die dorp kon kry nie. Dit het elke jaar gegroei en ons het 11 kamers binne en buite die huis begin mooimaak. Vanjaar het 38 mense by ons gebly en elke aand by ons geëet. Ons verhuur ook deesdae verblyf aan groepe en huisves gaste van dag tot dag.
Wanneer het jy die melkstal gerestoureer? Ek het nog altyd die plaas se ou melkstal bekyk en gedroom om iets met dié mooi klipstal te doen. In 2013 wou een van ons kinders in die melkstal trou. Ek het geweet dis my kans – een maal reg vir ’n troue, altyd reg. Ons het begin regmaak en letterlik ’n 100 jaar se gemors uitgegooi – die stal is in 1875 gebou. Dit is sedertdien al gebruik vir doopplegtighede, partytjies, Moedersdagetes . . .
Ons omskep dit om vir enige geleentheid te werk. Ons het vanjaar ’n groot hoogtepunt gehad toe die plaaslike VLU-kongres hier aangebied is. Byna honderd dames het dit bygewoon. Daar word ook heerlik om die groot kampvuur in die kraal gekuier. Wat was die grootse uitdaging om die gasteverblyf op die been te bring? Dit was sekerlik om iets uit niks te maak, boonop sonder die nodige geld. Ek het sinkplate geverf en daarop geskryf om versierings te skep en ou houtbalke gebruik om stewige deure te maak. Dis waar die naam De Nada vandaan kom: Dit beteken “uit niks gemaak”.
Watter spyseniering bied jy aan? Ek is baie lief vir kos maak en het ’n groot familie, daarom is dit vir my makliker om vir 30 mense kos te maak as vir 10! Ek is veral lief vir tradisionele boerekos, soos wildspastei, pampoenpoffers, patatrolletjies, malvapoeding, kerrie-afval en tuisgebakte brode.
Hoe bemark julle jul besigheid? Ons is bevoorreg om die wonderlikste mense te huisves en sedertdien was dit word of mouth. Mense wat een keer hier tuisgaan, kom weer en weer terug en word soos familie.
As ek ’n spesiale ete aanbied, bemark ek dit soms op sosiale netwerke of sit plakkate op die dorp op. Die jaarlikse perde-uithouritte help egter baie met blootstelling, asook die troues, want ons kan die bokstal in ’n onthaalsaal BO: omskep as daar meer as 100 gaste is.
Wie is jou ondersteuningsnetwerk? Ek het twee werkers, Marta Molosiwa en Petrus Maruping, wat my regterhande is. Wanneer ons groter onthale het, kry ons nog ’n vrou of twee by om ons te help.
Ek kan nie die spyseniering en al die organisasie alleen hanteer nie. My man, Koos, help om al die planne wat ek uitdink, ’n werklikheid te maak. Hy help ook kosmaak – hy moet regtig enige ding doen en hy doen dit altyd met geduld en liefde. ’n Mens het mense nodig om ’n sukses te maak. Ek het al moeilike tye beleef, maar die lewe het my geleer om die bondeltjie vreugde of moeilikheid wat in jou pad val, op te tel en daarvan werk te maak – jy kan nie om of oor dit loop nie. Ek werk hard en probeer altyd iets uit niks maak om te bespaar. Hoewel De Nada nie vyfster-status geniet nie, sal die gasvryheid, boerekos en plaasatmosfeer jou verseker van ’n tienster-ervaring. 079 299 3575, welgelegendenada@gmail.com,