Landbouweekblad

OM DIE MA VAN ’N PLAASSEUN TE WEES...

- Delmas

Jy weet ’n groot deel van die dag glad nie waar jou seun homself bevind nie, maar op ’n manier pla dit jou nie veel nie, want honger en dors ly hy nie. Een of ander plaaswerke­r by wie hy aanklank vind, sorg liefdevol vir hom. Deel sy “skaftien”, sy water . . . Boetman smul saam aan pap en hoenderpot­e, maar trek party dae sy neus op vir Mamma se kookvernuf!

Hy kan op die ouderdom van sewe enigiets met wiele bestuur. Jy leer om jou senuwees te beheer en vertrou volkome op die beskerming van Bo.

Jou tuin word altyd bewerk. Speelgoedt­rekkers en -werktuie maak oral hul verskyning. In jou nuut aangeplant­e bedding troon ’n draadspilp­unt (eintlik ’n seer oog, maar jy het nie die moed om dit vir hom te sê nie), sorgvuldig aanmekaar gesweis deur nog ’n vernuftige plaaswerke­r.

Die sandput moet gedurig volgemaak word, want die sand word uit die sandput gery en oral gestrooi, want in sy kleinseunt­jie-boerverbee­lding strooi hy kunsmis.

Hy dra elke dag een van twee T-hemde, gewoonlik skakerings van geel en groen. Kortbroeke van Pep werk soos ’n bom, en skoene is so vreemd soos Pappa in ’n langbroek.

Jy verander woordsomme by die huis dat dit net iets met ’n trekker bevat. Woordjies en letters vir huiswerk word uit Landbouwee­kblad geknip.

Om hom kaalbas in die dam agter die huis te sien swem, is niks snaaks nie. ’n Blik Flight bly in die stort. Gewone seep werk eenvoudig nie meer nie.

Jou mamma-hart wil saam met syne breek as jy trane op pad skool toe moet afvee en mooi moet verduideli­k waarom hy skool toe moet gaan en nie saam met Pappa kan plant nie. Wanneer jy hom weer by die skool gaan haal, kry jy so ’n vinnige soen en word dan gepeper met die vrae. Wat doen hulle op die plaas? Waar werk Pappa-hulle? Is hulle al klaar in so en so land?

Jy as Mamma besef dit is nie iets wat aangeleer word nie. Dit is iets in hul bloed; iets waarmee hulle gebore word. Daardie onverklaar­bare, onverstaan­bare liefde vir die grond onder jou voet; respek vir die weer om jou. Jy kyk met verwonderi­ng na jou klein seuntjie wat reeds die boer se afhanklikh­eid van ons Hemelse Vader verstaan. Jy vee die traan uit die hoek van jou oog as hy opreg bid en vra vir reën; vra dat dit nie moet hael nie, want dit slaan die mielies stukkend. Kinderlik onskuldig vra dat Pappa baie mielies sal hê.

En dan kom die dag wanneer dit voel of jou mamma-hart regtig platgedruk word. Jou klein boerseuntj­ie is nie meer so klein nie. Hy waai trots met oë wat blink uit die groot, bonkige trekker wat hy self bestuur. Alleen. Sonder hulp. Jy kyk na jou wederhelf hier langs jou in die bakkie en sien die traan so tussen die stof op sy wang raak. Trane van herinnerin­g en trots, want hy sien homself.

En dan bid jy weer en vra ons Vader in die Hemel, ag Here, hou my seuntjie tog veilig. Hou ons land tog veilig sodat hierdie seuntjie eendag kan volg in sy pappa se voetspore, in sy oupa se voetspore, in sy oupagrootj­ie se voetspore . . .

Want die liefde vir boer word nie aangeleer nie; dit bruis deur hul are vandat hulle aanmekaar geweef is in ons moederskoo­t. RONEL VAN DYK MODDERBAD . . .

 ?? FOTO: HENNING STREAK ?? JC Streak (18 maande) het die modderplas­se vreeslik geniet ná ’n lekker bui reën op hul plaas, Driekuil, in die distrik Vrede. Sy ouers is mev. Alet en mnr. Henning Streak. Henning boer saam met sy pa en broer — saaiery, beeste en skape. Die bui reën...
FOTO: HENNING STREAK JC Streak (18 maande) het die modderplas­se vreeslik geniet ná ’n lekker bui reën op hul plaas, Driekuil, in die distrik Vrede. Sy ouers is mev. Alet en mnr. Henning Streak. Henning boer saam met sy pa en broer — saaiery, beeste en skape. Die bui reën...

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa