Perskebome dra swaar
EEN van die grootste taaipitperske-oeste tot nog toe word vanjaar verwag, maar dit sal afhang of daar genoeg water is om die hele oes groot te maak tot Februarie.
Mnr. Wiehahn Victor, hoofuitvoerende bestuurder van die Inmaakprodusentevereniging (IPV), sê die jongste skatting toon ’n reuse-oes van 172 200 ton.
“Dit sal die naasgrootste oes in die bedryf se geskiedenis wees,” het hy op ’n inligtingsdag op Worcester gesê. Verlede jaar is 164 459 ton taaipitperskes geoes. “Die boorde het goed geblom en die jong bome het puik geset. Die blomdatum stem ooreen met die
langtermyngemiddelde en die oes behoort op sy normale tyd (volgens die langtermyngemiddelde) gereed te wees.”
Volgens Victor het kultivars, soos Cascade, Supreme en Golden Pride, ’n “reuse-oes” aan die bome. “Die grootste probleem is die uitdunkoste – dit kos baie om by te bly met die uitdunwerk.”
Hy is bekommerd of daar genoeg water gaan wees om die boorde deur te dra tot oestyd. Water blyk ’n probleem te wees in die Koue-Bokkeveld, die Klein-Karoo en die omgewing van Villiersdorp.
“Dit gaan ’n probleem wees en water gaan bepalend wees vir die grootte van die vrugte. Dit sal bepaal of ons by die tonnemaat gaan uitkom. Die Theewaterskloofdam lê nou maar by 53% en daar is sprake van besnoeiings daar, asook by Brandvleidam. Ander
waterbronne is ook onder druk.”
Hy het boere aan die minimum vruggroottes herinner.
“As water ’n probleem is, neem asseblief die grootte in aanmerking. Vir perskes is dit 60 mm, met 7,5%-toelatings vir graad 1-vrugte. Daar is ’n verdere 5%-toelating vir graad 2-vrugte.”
APPELKOSE WISSEL
Na raming sal die appelkoos-oes vanjaar sowat 30 275 ton beloop – sowat 700 ton kleiner as verlede jaar. Victor sê koueskade net ná blomtyd het bygedra tot die kleiner appelkoos-oes. “Die boorde en die areas verskil baie. Dit lyk of boorde in die Klein-Karoo (plekke soos Barrydale, Ladismith en Calitzdorp) gemiddeld minder dra. Ashton en Bonnievale het ’n gemiddelde oes en in Robertson lyk dit na ’n uitstekende appelkoos-oes.
Water gaan egter bepaal of dit ’n oes van 32 000 ton of 29 000 ton gaan wees.”
VARSMARKSOEKPERE
Victor meen die Bon Chretien-peeroes gaan vanjaar sowat 4 000 ton tot 5 000 ton ligter wees weens rypskade in sommige areas en ’n swak blomtyd. Veral die vroeë Bon Chretiens lyk nie so goed nie.
“Ons weet nog nie hoe erg die rypskade is nie, maar ons sal dit sien namate die rypringe verskyn en watter vrugte gaan afspeen.”
Die vars mark vir pere is tans ook winsgewend, met ’n groot vraag na uitvoerpere.
“Iemand wat pere voorberei, gaan vanjaar kyk na grootte en eers die vars mark probeer tevrede stel. Die inmaak- en droogbedryf sal die res kry.” –