Versekering in ’n nuwe gedaante?
Benoude katte maak benoude spronge, maar soms is dit net die impuls wat maatskappye nodig het om met ’n vernuwende produk na vore te kom.
KORTOM
■ Droogteversekering is in die knyp met premie-eis-verhoudinge wat onwinsgewend is. Vernuwende produkte verskyn stadig op die mark. Die inkoop van banke by sulke produkte sal deurslaggewend wees omdat dit aan banke ’n vorm van sekuriteit gee. stempel die toekomstige rol van multirisikooesversekering as beperk, veral as versekeraars hulle aan hoërisiko-gebiede onttrek.
PASGEMAAKTE WEERVERSEKERING
Het ons so afhanklik van multirisiko-oesversekering geword dat ons nie meer daarsonder kan klaarkom nie, of is daar alternatiewe?
Dalk kyk ons ná tien jaar terug na hierdie tyd en die dilemma waarin hierdie produk se ingewikkeldhede die bedryf geplaas het, en besef dat dié krisis vernuwing genoodsaak het.
Gedurende die afgelope paar maande het ek gesien hoe kundige rolspelers vernuwende denke toepas in die strewe na oplossings.
Die verhandelingsmaatskappy Bosveld Graan (BVG) het onlangs die afgeleide instrument WeatherInDe bekend gestel, waarmee boerderye en ander ondernemings hulle teen weersomstandighede kan verskans.
Sonder om te tegnies na hierdie risikobestuursinstrument te kyk, kom dit daarop neer dat graanprodusente (onder andere) hul spesifieke risiko’s in die gebied waarin hulle boer, kan hanteer.
Versekeringsdekking (as afgeleide instrument) kan pasmaak gekies word vir ’n spesifieke gebeurlikheid, periode en gebied.
Só kan ’n graanprodusent byvoorbeeld in die Middelburg-omgewing in Mpumalanga sy risiko teen te hoë temperature tydens bestuiwingstyd (tussen einde Januarie tot einde Februarie) verseker, asook die risiko van te min reënval tydens graanvullingstyd. Eweneens kan ’n sojaboonprodusent byvoorbeeld in Standerton sy risiko van te veel reën tydens strooptyd verseker.
Geskiedkundige data vorm die grondslag van die berekening van die versekering se prys. Ja, hierdie konsep is nuut. En gegewe, dit moet nog wye aanvaarding bereik, maar dit is hierdie soort vernuwing wat deur navorsing en ontwikkeling reeds jare gelede deur BVG aangepak is.
KLOUE VAN DROOGTE
In die September-Oktober-uitgawe van die Global Trade Review verwys me. Shannon Manders in die artikel “When the well runs dry” na die impak van die droogte op die landbou suid van die Sahara.
Mnr. Zhann Meyer, hoof van landboukommoditeite by Nedbank, sê daarin dat die bedryf dringend ’n vars uitkyk benodig oor die beskikbaarheid van vernuwende versekeringsprodukte.
Die inherente tekortkominge van weerverwante afgeleide instrumente word egter ook daarin uitgewys.
’n Droogtegebeurlikheid en die moontlike nie-betaling van landbouskuld kan breedweg gedek wees deur ’n weerafgeleide instrument, maar dit is nie noodwendig plaasspesifiek nie. Dus is daar steeds nie noodwendig spesifieke dekking vir die produsent se spesifieke aangeplante hektare nie. Dit spruit daaruit dat, byvoorbeeld, die werklike reënval vir WeatherInDe-dekking bereken word deur onder meer reënvalinligting van die Amerikaanse ruimte-agentskap Nasa, wat gemeet word in blokke van 10 km². In werklikheid kan daar egter wesenlike afwykings binne só ’n “blok” van 10 000 ha wees. As graanprodusente weet ons dat lyndrade soms die grens tussen ’n voloes en ’n misoes is.
Hoewel BVG na my mening vernuwende denke toegepas het en dit beslis ’n stap in die regte rigting is, bly die inkoop van die banke eenvoudig kardinaal. Multirisiko-oesversekering gee aan banke ’n vorm van sekuriteit waarteen hulle bereid is om geld aan graanprodusente te leen.