OUDISLANKNIE KOUD BY WINGERD
Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch het in ’n onlangse sensoriese evaluasie bevind daar is wel ’n merkbare gehalteverskil in Chenin blanc wat van druiwe uit ou wingerde gemaak is teenoor dié uit jonger wingerde.
Me. Renée Crous van die instituut vir wynbiotegnologie by Maties se departement van wingerd- en wynkunde het tydens die Chenin blanc Spotlight op Rawsonville gesê die aromas wat in Chenin blanc uit ou wingerd voorkom, stem ooreen met algemene Chenin blanc-aromas, maar dit is meer subtiel.
“Dis amper terughoudend. Die paneel het gevind dit bring kompleksiteit mee, want die wyne word nie gekenmerk deur een aroma nie, maar ’n groter verskeidenheid van meer subtiele aromas.”
Ouer wingerde se wyn het ook ’n meer prominente mondgevoel, het hulle bevind.
“Die tekstuur het die wyn van die ander onderskei. Mondgevoel is ’n sensasie wat jy in jou mond ervaar en dis nog nie voorheen goed nagevors nie, veral nie by witwyn nie.”
Vir die studie het die paneel klem gelê op 18 premie-wyne afkomstig uit wingerde van 40 jaar of ouer – dit is van die oudste wingerde in Suid-Afrika. “Dié wingerde is deel van Suid-Afrika se geskiedenis en het verskeie politieke en ekonomiese veranderinge aanskou. Party het selfs oorloë oorleef.”
Suid-Afrikaanse wingerde se gemiddelde lewensduur is 20 tot 25 jaar. “Enigiets ouer kan dus as ’n ou wingerd beskou word, maar dit het ook te make met die kenmerke wat ’n wingerd kry namate dit verouder,” sê Renée.
’n Lys van al die wingerde in Suid-Afrika wat ouer as 35 jaar is, is te kry by
Daar is sowat 417 ha Chenin blanc in die land wat ouer as 40 jaar is. Die oudste Chenin blanc-wingerd staan op Stellenbosch en is 1952 geplant. Mnr. Eben Sadie, Swartlandse wynmaker, gebruik die druiwe vir sy bekende Mev. Kirsten-wyn.
“Die kenmerke van hierdie ou wingerde sluit hul goed ontwikkelde wortelstelsel in. Dis ideaal vir droëlandtoestande, want die wortels kan af beweeg na vogtiger grond. Die wingerde gebruik ook nie so baie water nadat dit gereën het soos jonger wingerde nie. Navorsing het getoon dit is minder ontvanklik vir waterstres as jonger wingerde met oppervlakkige wortelstelsels. Dit is ook minder ontvanklik vir omgewingselemente, en veral virusse en siektes. Studies toon daar is ’n soort van ewewig tussen patogene organismes en voordelige mikrobes.”
Groei raak ook meer gebalanseerd namate wingerde ouer raak. Kleiner korrels en meer gekonsentreerde vrugte is kenmerkend van die grootjie-wingerde. Hulle is ook minder geneig tot oorproduksie.
“Dit beteken iets vir die wyn. Die wyne word beskryf as gebalanseerd, met ’n goeie struktuur en natuurlike suur. Die wyne het ook verouderingspotensiaal, konsentrasie en ’n bestendige gehalte en kompleksiteit.”
In Australië se Barossa-vallei is daar wingerde wat uit 1834 dateer. Hulle het ’n nie-amptelike dokument wat ou wingerde in vier kategorieë plaas: oud (35 jaar en ouer), oorlewendes (70 jaar en ouer), honderdjariges (100 jaar en ouer) en voorvaderwingerde (125 jaar en ouer).
In Kalifornië bestaan daar ook ’n organisasie wat hom beywer vir die bewaring van historiese wingerde. Wingerde moenie net oud wees nie, maar aan sekere vereistes voldoen voor hulle deel raak van die register.
Ook in Frankryk word wingerde nie op ’n sekere ouderdom as “oud” geklassifiseer nie, maar die Franse kyk eerder na sekere kenmerke van die wingerde. — Op die ouderdom van sowat vier tot ses weke kan tot die helfte van die lam se voedingsbehoefte deur ander voerbronne (weiding en/ of kruipvoer) aangevul word, terwyl melk in die res van sy behoefte voorsien.