Boschendal se skrophoenders help grond genees
Die landbou was die laaste plek waar mnr. Rico Vergotine hom wou bevind, maar toe val hy hárd vir dié bedryf. Hy verkoop meer as 1 000 eiers van skrophoenders per dag en boer op ’n manier wat die grond bevoordeel.
Hy’s is ’n outjie van Idasvallei – ’n bruin buurt op Stellenbosch waar ouers hul kinders voor die boeke kry met die vermaning “jy gaan op die plase werk as jy nie leer nie”. Om te boer was dus die allerlaaste beroep waarin mnr. Rico Vergotine homself gesien het, maar nadat hy die bekende Farmer Angus, oftewel Angus McIntosh, Spier se holistiese boer, ontmoet het, het sy lewe ’n nuwe rigting ingeslaan. Een wat gelei het tot sy eie eier-en-hoenderboerdery wat organiese produkte aan uitsoekmarkte lewer.
“Ek het ná skool elektriese hekke herstel. Ek het my opgewerk tot die tweede in bevel by die maatskappy, maar toe het dit begin boring raak, want ek het alles geweet oor hekke wat ’n mens kan weet,” vertel Rico. Dié werk het hom egter na Angus gelei. “Ek moes sy hekke regmaak en ons het begin gesels, en net daar het ek verlief geraak op agriculture.”
Angus het Rico se geesdrif raakgesien. Toe daar ’n paar maande later onderhoudswerk by Spier opduik, het hy Rico gebel.
“Hy’t gesê ek kan anyway alles regmaak, ek moet kom, dan kyk ons of daar later ’n kans by die boerdery opduik. Toe’t ek nooit iets reggemaak nie, maar dadelik begin boer – met hoenders, beeste en skape,” sê Rico met sy kenmerkende grinniklag.
Rico het vier jaar lank onder Angus se vlerk gewerk, en Angus het hom touwys ge- (regenerative) maak oor herlewende
“Ek verkoop nie eiers nie; ek verkoop sustainable agriculture. Maar dit gaan nie net oor volhoubaarheid nie.
“Sustainability is nie meer goed genoeg nie. Alles wat jy doen, moet met elke siklus die omgewing beter en beter laat as waarmee jy begin het.”
Rico skoei sy eier-en-hoendervleisboerdery, wat hy op die bekende wyn-en-beesplaas Boschendal naby Franschhoek bedryf, op die beginsels van die Amerikaanse boer Joel Salatin, wat daarna streef om die impak wat boerdery op grond het, om te keer (reverse impact farming).
Sy hoenders loop en skrop bedags op natuurlike weiveld. Saans keer hulle terug na verskuifbare hoenderhokke – ’n skuurstelsel op wiele. Die hokke het nie ’n vloer nie, maar ’n maasbodem van staal waardeur die hoendermis val en oor die plaas heen versprei word.
Die hokke word elke dag aan ’n bakkie gehaak en 25 m tot 30 m geskuif.
“Die grasse se bounce back is iets verskrikliks. Jy kan sommer sien waar die groen patches gras opkom waar die hoenders was,” sê Rico.
Hardnekkige onkruid is natuurlik die eerste om op te spring, maar dit pla Rico glad nie.
“Die onkruid sê vir jou iets oor wat in die grond aangaan, watter tekorte daar is. Die hoenders vreet in elk geval enigiets. Vat nou maar ramnas. Die boere dink dis gif, maar die hoenders sal dit heeldag vreet.”
Namate die grond verbeter en die hoenders die onkruid afvreet, begin ’n verskeidenheid grasse groei.
Rico het met die aanvang van sy besigheid grondmonsters geneem. Oor twee jaar wil hy dit weer laat toets, om te sien hoe die grond se waardes verander – en hopelik verbeter – het. boerderybeginsels.