Speenkalwers: Geen genade vir Nam-boere oor TB
VERWARRING heers in die Namibiese en Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf nadat daar vroeër uit Namibië berig is die toets vir beestuberkulose, wat deel vorm van die regulasies om speenkalwers uit Namibië na Suid-Afrika in te voer, is afgeskaf.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het egter kort ná die berigte in ’n verklaring gesê Suid-Afrika het nié afgesien van die invoervereistes rakende beestuberkulose ten opsigte van vee wat na voerkrale en abattoirs ingevoer word nie. Onder die vereistes is: Vee wat na ’n voerkraal of abattoir ingevoer word, mag geen teken van beestuberkulose toon op die dag van vervoer nie. Die vee moet kom van ’n kudde wat vry is van die siekte, of moes binne 30 dae voor uitvoer negatief getoets het vir die siekte. Die vee mag nie weens ’n uitwissingsprogram teen beestuberkulose uitgevoer word nie.
WETENSKAPLIK
Die departement sê hoewel Namibië homself as vry van tuber- kulose beskou en opname-inligting aan die veeartsenykundige owerhede van Suid-Afrika verskaf het, kan dié inligting nie wetenskaplik bewys dat Namibië wel vry van die siekte is nie.
Dr. Pieter Prinsloo, ondervoorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie, sê die regulasies kan in elk geval nie eensydig verander word nie, selfs al sou Suid-Afrika die regulasies wou opskort.
“Suid-Afrika moet aan die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) se regulasies voldoen. Die land het duidelike regulasies, waaroor daar ooreengekom is, wat bepaal vir watter siektes getoets moet word.
“Ongelukkig beskou die OIE alle lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap as positief vir tuberkulose, en totdat hierdie lande as tuberkulosevry beskou word, sal die regulasies nie kan verander nie,” het Prinsloo gesê.
Mnr. Paul Strydom, bedryfsbestuurder van die Namibiese Vleisraad, het aan Landbouweekblad gesê so ’n kwytskelding sou ’n uiters gunstige uitwerking op dierewelsyn en die finansiële welstand van die Namibiese bedryf gehad het.
“Dit sou beter vir die diere gewees het omdat daar minder hantering sou plaasvind, wat minder spanning onder hulle sou veroorsaak. Daar sou ook ’n ligter finansiële las op veeboere gewees het omdat die beestuberkulosetoets duur is.”
REUSE-IMPAK
Intussen gaan die toetsing van vee vir die siekte voort voordat hulle Namibië mag verlaat. Strydom sê die toetse behels dat die kudde van oorsprong en die individuele diere wat uitgevoer gaan word, getoets moet word.
“Die regulasies word ook in Namibië streng toegepas sodat die eerste uitvoer sowat 60 dae nadat die kuddetoetsing plaasgevind het, kan geskied. In dié tyd kan geen bemarking plaasvind nie. In die huidige droogte kan die diere weens ’n moontlike gebrek aan weiding nie na ’n versamelplaas geskuif word om later verkoop te word nie.”
Mnr. Piet Gouws, voorsitter van die Namibiese Lewendehaweprodusente-organisasie, het gesê die uitvoerkwessie het tot dusver ’n reuse- ekonomiese impak op speenkalfboere in die land gehad, met party boere wat verliese van N$400 000 tot N$500 000 gely het.
—