Gerrit van Zyl: Kies vervangingsverse só
Tweede kanse kos jou geld. Wees streng met seleksiekriteria, soos vrugbaarheid en volhoubaarheid, om die ideale vervangingsvers te kry. Uit elke “aanstelling” op die plaas moet jy immers ’n wins kan maak.
Die mens het onder meer energie en proteïen nodig om te bestaan. Indien die mens dié voedingstowwe net uit plante kon kry, sou daar nie diere op die aarde gewees het nie. Omdat ons dit egter nie kan doen nie, het die Liewe Vader lewende wesens met rumens gemaak om natuurlike weiding van lae gehalte te omskep in ’n wonderlike proteïenbron genaamd rooivleis, ’n produk wat wêreldwyd gesog is.
Die grootste deel van die planeet Aarde bestaan uit natuurlike grasvelde of weiding, en dié natuurlike bron van proteïen en energie word veral deur beeste en skape goed benut.
Om die rede het bees- en skaapboere ’n voordeel bo hoender- en varkboere. Hoewel hulle ook in ’n vryloopstelsel kan presteer, is hulle minder doeltreffend met die omskakeling van laegehalteweiding in proteïen, veral as die stelsel baie ekstensief is.
DIE IDEALE WERKNEMER
Met bogenoemde in gedagte kan jy beeste op een vlak beskou as werknemers wat gehuur word om laegehalteweiding in sappige rooivleis om te skakel.
Daarom behoort ons so streng te wees met hom of haar soos met enige werknemer op die plaas wat tot winsgewendheid bydra.
Nes met ’n werknemer moet jy van hom of haar ontslae raak indien hy of sy nie produktief is en meer inbring as sy of haar salaris nie.
Hoekom doen ons dit nie met ons dierlike werknemers wat gehuur word om gras in vleis om te skakel nie? Ons kry altyd die een of ander onverklaarbare verskoning om hulle ná die dissiplinêre verhoor weer ’n kans te gee.
Hoe lyk die ideale werknemer dus? Jy behoort hierna te streef: ’n Rustige koei wat reeds vroeg in haar lewe elke jaar ’n kalf speen wat 48-50% van haar eie gewig weeg, en dit ten minste tien jaar lank doen met min insette benewens die natuurlike weiding wat beskikbaar is. As hierdie dier boonop mooi lyk, is dit ’n bonus.
SELEKSIE VAN VERVANGINGSVERSE
As jy vervangingsverse selekteer, is jy eintlik besig met “onderhoude” om te bepaal watter aansoeker het die potensiaal om die ideale werknemer te wees. Sy moet verkieslik beter wees as die een wat jy tans het.
Almal stuur CV’s wat dikwels lank en indrukwekkend lyk, maar jy moet self krap om te besluit watter een die beste is. Om uit die regte familie te kom, is al ’n tree in die regte rigting, maar beslis nie ’n waarborg van gehalte nie.
Dit is ’n goeie begin om soveel CV’s as moontlik te kry. Moenie te vroeg oormatig beïnvloed word deur ’n handskrif, skryfstyl of veral ’n foto nie. Ek dink die grootste fout wat ons normaalweg maak, is om te gou die dame met die lang bene, blou oë en blonde hare te kies. Ek sê nie hulle sal nie goed wees nie, want hulle is dikwels uitstekend, maar ek waarsku teen die gedagte dat ons te vroeg ’n besluit neem.
Sif dan deur die CV’s en haal die ooglopend skewes en krommes uit, dit wil sê dié met fisiologies ooglopende foute wat hulle sal keer om die ideale werknemer te word. Die eerste seleksienorm is dus funksionele doeltreffendheid.
Dit is ook belangrik dat die opvolger van die ouer werknemers verkieslik beter moet wees as die ouer dame wat aftree of beseer is.
Moet ook nie die “werk” wat gedoen word, uit die oog verloor nie. In dié geval is dit om natuurlike weiding winsgewend in proteïen om te skakel.
“Laat die bulle en moeder natuur toe om die belangrike seleksie te doen. Die natuur is slimmer as ons almal saam.”
Individuele omgewingsinvloede moet ook in ag geneem word wanneer ons die CV’s deurgaan.
As al die skewes en krommes uit is (voorkoms het nog nie ’n invloed gehad nie), moet ons die diere onderwerp aan ’n praktiese toets, verkieslik in die werkplek en in die voeding- en bestuursomstandighede waarin hulle in die toekoms gaan werk.
Hoe vroeër en strawwer die “toets” is, hoe minder probleme het jy later. My voorstel is ook om die bulle en moeder natuur toe te laat om die belangrike seleksie te doen. Daar is immers ’n spreekwoord wat sê: Die natuur is slimmer as ons almal saam.
Buiten die voortdurende jaarlikse sleutelprestasiegebied-gesprek, wat baie belangrik is, behoort die volgende drie toetse tydens die onderhoudsfase die beste potensiële werknemer te indentifiseer waarin jy tyd en geld kan belê: Vroeë geslagsrypheid en vrugbaarheid
Stel hulle vir ’n kort tydperk (42-63 dae) bloot aan bulle en hou net die dragtiges.
Sny so diep as wat jy kan. Jy kan hulle ook ’n langer tyd blootstel, maar dan moet jy die dissipline hê om net dié te hou wat in 63 dae kalf.
Onthou, die toets moet straf wees, want jy is besig om werknemers te soek wat die op lang termyn kan presteer. Ons soek nie getalle nie, eerder die regte werknemers. Moedereienskappe en produksie
Hou net die verse wat ’n aanvaarbare kalf speen (wat 48%-50% van hul eie gewig weeg).
So kan ’n mens sien of sy met die voeding en bestuur vir haar eie verblyf kan betaal. Daar moet ook geld oor wees om uitbreiding te verseker. Volhoubaarheid
Die finale strawwe toets is om die verse te hou wat weer binne 400 dae herbeset is. Die mikpunt is om seker te maak sy het genoeg energie om weer beset te raak. As sy die eerste twee hekkies oorkom het, is dié een die laaste, hoë hekkie. Slaag sy hierdie toets, het sy die potensiaal om oor die volgende tien jaar ’n topwerknemer te word.
Die verdere jaarlikse evaluasie sal bepaal of sy dit volhoubaar doen.
Dit is belangrik om gedurende die evaluasie nie soveel as moontlik werknemers te laat slaag nie, maar eerder die room te identifiseer wat die huidige swakker en ou werknemers kan vervang.
Die slaagsyfer is omtrent 50%, en daarom moet jy met soveel CV’s as moontlik begin.