DIE LIEFDE GEE NIE OP NIE
As getroue leser van LBW en ’n landbouliefhebber wil ek graag my storie aan medelesers vertel.
Ek het op die dorpie Porterville in die Wes-Kaap grootgeword. My familie boer met aartappels in die Sandveld en van kleins af het ek ’n groot liefde vir die plaaslewe gehad. Op die plaas was my hart nog altyd die gelukkigste. En soos enige meisie reeds van kleins af oor haar trouman droom, het ek ook reeds vandat ek ’n klein dogtertjie was oor myne gedroom. Met my hele hart het ek nog altyd gewens dat my ridder nie op ’n wit perd sal kom nie, maar in ’n bakkie op ’n grondpad . . . ’n boer in murg en been.
’n Jaar gelede het ek my droomman gevind. Ek was ’n derdejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch en hy, ’n 27-jarige boer van Piketberg, het pas vanaf Caledon getrek en by ’n biologiese maatskappy op Somerset-Wes begin werk. Ons het egter altyd van mekaar se bestaan geweet, maar mekaar nooit werklik geken nie, ten spyte van byna bure wees, gereeld op skool sport teen mekaar speel, dieselfde geleenthede bywoon en in dieselfde plattelandse omgewing beweeg.
’n Hele paar jaar later, nadat ons albei wegbeweeg het vanaf ons naburige tuisdorpe en verskillende paadjies in die lewe gevolg het, het ons mekaar op Stellenbosch gevind. Heeltemal onbeplan. Heeltemal onverwags. Vandat ek die eerste keer met hom gepraat het, nadat hy my een aand uit die bloute met ’n
boodskap laat weet het hy trek Somerset-Wes toe, het ek geen ooghare vir hom gehad nie.
Maar steeds het hy aangehou. Aanmekaar probeer bel. Aanhoudend boodskappe gestuur.
Een Donderdagaand besluit ek toe maar om my selfoon ná die vierde oproep – en ’n menigte boodskappe – wel te antwoord. Lean Hanekom wil saam met my gaan koffie drink. Hoekom daardie aand het ek nie verstaan nie, maar die feit dat hy toe reeds op Stellenbosch was en ek juis op daardie oomblik op soek was na ’n ontvlugting van die boeke, was verseker al wat my oorreed het om in te stem. Min wetende dat daardie koppie koffie alles sou verander . . .
Daardie aand het ek my boer in sy bakkie gevind. ’n Man met ’n passie vir die plaas en boerdery. ’n Man wat met sy hele hart en siel wil boer en nie kan wag om naweke na sy ouers se plaas toe te gaan nie. ’n Man waarvoor ek nog altyd gebid en gewag het.
Sowat drie en ’n half maande gelede het ons verloof geraak. Dít is eintlik die storie wat ek julle graag wil vertel. Die verlowing was iets besonders en beslis iets waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Iets wat my stoutste verwagtinge en beste drome oortref het. Iets waarvoor elke meisie met ’n hart en liefde vir die plaas en platteland
sal wens. ’n Gebeurtenis wat nooit vergeet sal word nie.
Graansilo’s – ’n kenmerk van elke plattelandse dorp of boerdery-omgewing. Iets waarmee elke kind op die platteland grootword en ken as ’n plek waar boere hul koring opberg. ’n Mooi voorwerp in ’n foto. Iets besonders. Maar nog nooit ’n plek wat onthou sal word soos ná die aand van Vrydag 19 Augustus 2016 nie.
Met die verskoning “ons moet by die Langewens-proefplaas ’n draai gaan maak om proewe te spuit”, ry ons daardie Vrydagmiddag reeds om 13:00 uit die stad op pad Eenboom toe vir die naweek. Daar gaan ons saam met Lean se ouers tyd op die plaas deurbring om van die gewoel in die stad te ontsnap. Op die plaas aangekom, ongeveer 22 km anderkant Piketberg, vind ek dit baie vreemd dat ons skielik weer dorp toe gestuur word om ’n paar goedjies te gaan koop wat Lean se ma nodig het. “Nou toe, julle moet ry voor dit donker is! Spar maak al halfsewe toe.”
Só onthou ek nog die tannie se woorde.
Die pad dorp verander skielik toe die wit Toyota-bakkie afdraai na Pools se silo’s.
“Maar, Lean, ons moet Spar toe gaan voor dit toemaak! Dis al amper halfsewe!”
Met daardie woorde van my kry Lean ’n stout glimlag op sy gesig. “Ek het al so ’n paar weke gelede met oom Japie gereël dat ons vanaand die sonsondergang van die silo af kan gaan kyk. Jy wou dit mos nog altyd gedoen het.”
Ek kon nie glo wat ek hoor nie. Net ’n week of twee terug het ek Lean vertel hoe graag ek nog op ’n silo wil staan en die uitsig daarvandaan wil sien.
Niksvermoedend volg ek hom teen die trappe, trappe en nog trappe op. Tweehonderd trappe later kom ons by die deur wat na die bokant van die silo gaan. “Liefie, wag net gou hier binne sodat ek die ligte buite kan gaan aanskakel. Ons moet darem kan sien waar ons loop.”
Geduldig wag ek binne en verwonder my aan al die pype, bande, gaatjies en draadjies tot Lean my kom haal.
Ons stap by die deur uit, in die rigting van Piketberg. Die uitsig oor die koring- en kanolalande is asemrowend en die sonson- dergang iets wat nie in woorde beskryf kan word nie. Vir ’n hele rukkie lank staan en gesels ons oor al die verskillende plase en die omgewing. Soos gewoonlik, moet ek eers ’n geografieles ondergaan om net my rigting in orde te kry.
En toe word ek skielik omgedraai . . .
’n Groot, rooi piekniekkombers is oopgegooi. ’n Piekniekmandjie, blomme, kerse en duisende Kersfeesliggies flikker oral. Die woorde “trou met my” in groot, rooi letters opgeplak. Ek staan in verwondering. Net daar, bo-op Pools se silo, vra die man van my drome my om met hom te trou. Vandat ek ’n dogtertjie was, het ek nog altyd oor hierdie oomblik in my lewe gedroom, maar dit was baie meer spesiaal en romanties as wat ek ooit kon dink.
Ná ’n onvergeetlike aand en talle voertuie en vragmotors wat in die verbygaan van hulle laat hoor het, klim ek en Lean, verloof, die trappe af met ’n pragtige ring aan my vinger. Nooit weer sal ek dieselfde na ’n silo kyk nie. ’n Doodgewone silo op die platteland . . . die plek waar ’n nuwe fase van liefde en ’n toekoms saam begin het. Van daardie aand af klim ons die trappe van die lewe, net soos dié van die silo, saam. MARELIZE COETZÉ Stellenbosch