Landbouweekblad

INLIGTING IS TELERS S’N

-

Die hofuitspra­ak in die saak tussen SA Stamboek en die Landbounav­orsingsraa­d (LNR) (“Hof maan Stamboek en LNR om strydbyl te begrawe”, LBW, 25 November) het betrekking. (In sy uitspraak het regter Faan Hancke gelas dat alle data van die diere wat op Stamboek se Logix-stelsel is, nou ook op die Intergis-databasis, wat deur die LNR bestuur word, beskikbaar gestel word. – Red.)

Telers van alle veerasse het begrip vir die daarstelli­ng van ’n nasionale databank van alle stoetvee. Die lede van Stamboek het ook nie in beginsel beswaar gehad teen die verskaffin­g van hierdie data nie.

Stoetveete­lers versamel en versend inligting meestal vrywillig en op eie koste. Hulle finansier ook self die registrere­nde owerheid wat die data verwerk en veilig op sy databasis bêre. Die inligting behoort dus aan die telers wat dit ingesamel het en vir die verwerking betaal het. Dit is daar vir hulle om in hul eie kuddes aan te wend en onregstree­ks ook vir die verbeterin­g van Suid-Afrika se veebevolki­ng.

Om dié data nou onvoorwaar­delik beskikbaar te stel, laat ’n wrang smaak. Trouens, dit is verregaand­e. Telers verlang minstens erkenning en goedkeurin­g wanneer verder met hierdie data gehandel word.

Die gevaar bestaan ook dat die hofuitspra­ak teenproduk­tief kan wees. Telers kan die situasie as ondeursigt­ig bejeën en onwillig wees om inligting in te stuur, aangesien hulle geen beheer het oor die uiteindeli­ke gebruik, misbruik of publikasie daarvan nie.

Daar mag nie ’n vertrouens­breuk ontstaan nie, want dit sal in niemand se belang wees nie. Niemand kan verplig word om stoetteler­s te wees nie. Dit is tog absoluut vrywillig. Daarmee saam is deelname aan prestasiet­oetsing ook vrywillig. Ons kan nie bekostig om voornemend­e beleggers in die bedryf skepties te maak om daarin te belê nie. Die vraag kan ook met reg gevra word of die uitspraak op langer termyn in die belang van nasionale veeverbete­ring sal wees. MANIE LOMBARD Voorsitter, SA Vleismerin­otelersgen­ootskap

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa