Hou daai kop skoon
’N PEL wat in die Karoo boer, vertel Manie die ander dag van navorsing wat in ’n groot landbougemeenskap in Noorweë gedoen is. Die manne met die wit jasse het bevind boere ervaar wel hoër vlakke van depressie as die algemene werkende bevolking, al lyk dit nie van buite af so nie.
Die verskil word ook groter met ouderdom. Dit is ’n situasie wat ongelukkig vererger word deur boere se gewoonte om nie oor sulke goed te praat nie, laat staan nog om sielkundige hulp te soek.
Boere is by uitstek individualiste. Op plase moet hulle die meeste goed alleen aanpak. ’n Boer maak mos ’n plan. Hoekom nou ’n kopdokker gaan sien? En dit geld nie net die manne nie. Vroueboere ondervind glo nog erger emosionele ongemak as mans.
Een van die redes wat die navorsers aanvoer vir dié stand van sake, is dat min beroepe sulke groot veranderings oor die afgelope paar dekades beleef het soos boerdery. Boere het te kampe met unieke stresfaktore, soos die natuurlike omgewing, die gesinstruk- tuur, ingewikkelde landbou-ekonomie, burokrasie, snelveranderende tegnologie en talle onsekerhede.
Nou ja, as dit só gaan in Noorweë met sy gul subsidies en betreklik gemaklike politiek, wil Manie nie weet hoe gestres Suid-Afrika se boere is nie. Veral met die droogte wat nog ver van gebreek is. En veral daar waar boerdery-inkomste van reënval alleen afhanklik is.
So ’n kwaai droogte kan ’n boer magteloos laat voel, verduidelik Manie se pel wat self sukkel met min reën. In sulke omstandighede word omtrent alles vir ’n boer ’n irritasie, en uiteindelik begin hy onder sy potensiaal funksioneer. Sy huwelik en gesinslewe sowel as sy verhouding met sy werkers en selfs sy bure kan dan erg, en heeltemal onnodig, ly.
In uitgestrekte, yl bevolkte distrikte voer talle boere reeds ’n taamlik eensame bestaan. Baie is as’t ware ’n gevangene op hul eie plaas, verduidelik Manie se pel. Dan is dit maklik om ingetrokke te raak. Maar, soos die spreekwoord lui, geen mens is ’n eiland nie
Boere is by uitstek individualiste. Op plase moet hulle die meeste goed alleen aanpak. ’n Boer maak mos ’n plan. Hoekom nou ’n kopdokter gaan sien? En dit geld nie net die manne nie.
Op sekere blokke is ’n halfton tot ’n ton meer per hektaar as in die vorige produksiejaar geoes. En dít op plekke met minder reënval.
en geen boer behoort ’n eiland van sy plaas te maak nie.
Dit is veral wanneer dit sleg gaan, sê die navorsers, dat mans en hul vroue belangstellings (en vriendskappe) buite die boerdery behoort te hê of te ontwikkel, al lyk dit of daar nie tyd daarvoor is nie. Elke stedelike beroep het sy eiesoortige probleme, maar ondersteuning en hulp is gewoonlik net ’n armlengte weg. Die gebrek daaraan is dalk een rede waarom boerderygemeenskappe sielkundig dikwels meer sukkel as die breër gemeenskap.
GENADEJAAR
’n Genadejaar. Dít is hoe 2016 in die Swartland in die geskiedenisboeke opgeteken gaan word. Só gesels mnr. Andries Theron van Moorreesburg en Graan SA-ringkop die ander dag by die Proteïennavorsingstigting (PNS) se geselligheid naby die Paarl met die bekendstelling van ’n herdenkingsboek van die stigting se 25ste bestaansjaar. In Mei het dit vir boere van dié streek gelyk of ’n totale misoes weens die droogte hul voorland gaan wees.
“Uiteindelik is dit fantasties dat ons enigsins iets kon oes,” volgens Andries.
En kanola was weer, soos verlede jaar, ’n ware staatmaker.
Ja, die weer was koeler vanjaar – net wat kanola soek. Maar wie sou kon dink toe kanola die eerste keer sowat 20 jaar gelede geplant is, dat dit ’n skaflike kontantgewas en ’n onontbeerlike wisselbou-opsie in die WesKaap sou word?
Ja, kanola vat meer as koring uit die grond, maar dit herstel ook vinniger van droogte. Vanjaar is heel skaflike oeste afgehaal, ondanks die droë toestande. Op sekere blokke is sommer ’n halfton tot ’n ton meer per hektaar as in die vorige produksiejaar geoes. En dít op plekke met minder as die helfte van die normale reënval.
Die feit dat boere dié nukkerige gewas vandag beter verstaan, is te danke aan baie rolspelers, onder meer die kanolaverwerker Soill, saadverskaffers, die Wes-Kaapse departement van landbou en natuurlik die PNS. En natuurlik boere se eie jare lange ondervinding. Dit bly darem ’n mooi storie.
KOÖPERASIEHEL
Twee boere jaag die middag om die Cheetahs se Curriebeker-eindstryd by die gholfklub te gaan kyk. Hulle vat al van vroegmiddag af, en hier anderkant Viljoenskroon verloor hulle beheer oor die bakkie en jaag in ’n telefoonpaal vas, albei morsdood.
Toe hulle by die poorte van die hel aankom, word daar aan hulle verduidelik dat boere ’n spesiale vergunning kry – die gewone hel of die koöperasiehel.
Maar wat is dan die verskil? vra dieboere.
Wel, verduidelik ou Nick, in die gewone hel geld die standaardprosedure: Jy word net gebrand en van tyd tot tyd met ’n vurk gesteek. In die koöperasiehel word jy aan ’n teerpaal met doringdraad vasgemaak en dan gebrand.
Die manne kyk senuweeagtig na mekaar. Nee wat, ons is mos boere, kom ons hou by wat ons ken, besluit hulle, en word na die regterkant gestuur. Toe hulle in die koöperasiehel aankom, is die ongemaklikste ding ’n klomp Blou Bul-ondersteuners wat tot in alle ewigheid ’n Curriebeker-oorwinning vier. Andersins is dit net meisies, kelkiedrankies en swembadpartytjies.
Verbaas loop hulle oor na ou Nick en vra wat die storie is. Waar’s die teerpale en doringdraad? wil hulle weet. Ou Nick skud sy kop, heel geïrriteerd. “Ek’s jammer, maar julle weet mos hoe koöperasies is. As dit nie die een ding is nie, is dit iets anders. Dan het hulle nie teerpale nie, en dan is die doringdraad op . . .”