LAE PRYSE DEMP OESVREUGDE
DIE Wes-Kaap het vanjaar besonder goeie graanoeste behaal in ’n produksietyd wat gekenmerk is deur gemiddelde reënval wat goed versprei is tot in September, en ongekende goeie oesweer.
Ongelukkig speel die koringprys nie saam nie. Die Desemberkontrak vir koring is sowat R1 000/t laer as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Daar is boere wat nie kans sien om hul koring teen daardie prys te verkoop nie. Hulle sal eersdaags opbergingskoste moet begin betaal as die prys nie verbeter nie. Met goeie oeste in die buiteland en hoë voorrade het boere boonop min hoop dat die prys noemenswaardig gaan styg.
Onsekerheid oor die invoertarief het koringverhandeling boonop bykans tot stilstand gebring, sê mnr. Andries Theron, ondervoorsitter van Graan SA.
Die garsoes van meer as 300 000 ton is wel die beste in 30 jaar en feitlik deur die bank as van moutgehalte gegradeer. Ongelukkig het die meeste boere meer as hul kwota geoes en kan hulle net hoop dat die surplusgars in die silo’s ook mettertyd as moutgars gekoop sal word.
Hoewel SAB Malters sy beoogde inname met 28 800 ton verhoog het, is daar heelwat gars wat nie verkoop is nie.
SWARTLAND BETER
Die Nasionale Oesskattingskomitee se vierde skatting van einde November skat die koringoes op 1 766 280 ton – 326 280 ton meer as laas jaar. Daarvan kom 969 000 ton uit die Wes-Kaap, met ’n 3:2-verdeling tussen die Swartland en Suid-Kaap.
Totale koringproduksie in die Swartland is vanjaar 60% beter as verlede jaar se oes. Mnr. Johan de Lange, hoofbestuurder van regstreekse verkope en dienste by Kaap Agri, sê gunstige weer in die oestyd het vanjaar een van die vinnigste oesinsamelingsjare in die Swartland gemaak.
“Daarmee saam het bogemiddelde opbrengste en grade gerealiseer. Wat die oes selfs uitsonderliker maak, is dat die totale reënval op die meeste plekke in die Swartland in die produksietyd laer as die vyfjaargemiddelde was. Dit was ook die grootste koringaanplanting sedert 2008.”
De Lange sê koringgehalte is vanjaar ook bogemiddeld en oorwegend van die grade B1 en B2. “Benewens goeie hektolitermassas was die proteïeninhoud bogemiddeld. Dit kan toegeskryf word aan die doeltreffende benutting van stikstof deur die loop van die produksietyd.”
Mnr. Wynand Heunis, landbou-adviseur by Overberg Agri op Moorreesburg, sê die afgelope oes was byna dubbeld soveel as verlede jaar se oes. Dit het weer bevestig hoe belangrik reënvalverspreiding en reën tot in September vir ’n goeie oes is. “Hoewel dit in vanjaar se produksietyd byvoorbeeld 31% minder gereën het as in 2013, die vorige goeie reënjaar, is vanjaar se oes tot dusver net 3% minder as in 2013 – net omdat die reën vanjaar so goed versprei geval het.”
Die distrikte Caledon en Bredasdorp het minder reën as die langtermyngemiddelde in die graanseisoen gehad. Koringopbrengste het van oos na wes afgeneem, sê mnr. Francois Human, landbou-adviseur by Overberg Agri. “In die oostelike dele van die Rûens is goeie opbrengste behaal, maar soos ’n mens wes beweeg na Caledon en verder wes was koringopbrengste gemiddeld tot ondergemiddeld.”
KOMMER OOR PRYS
Vreugde oor die goeie graanoes en hoë opbrengste word oorskadu deur boere se kommer oor die lae koringprys en die feit dat hulle dalk nie ’n koper vir al hul moutgars het nie.
Die goeie oesweer het beslis
bygedra tot die groot garsoes, wat hoofsaaklik as moutgehalte gegradeer is. “Die gars is vet en so mooi soos jy hom kan kry.”
Maar ook dié sukses het ’n angel, sê mnr. Pieter Gildenhuys van die plaas Kleinbosheuwel by Heidelberg.
“Ons is almal ver bo ons garskwotas. Ons het dit gelewer en hoop iemand sal dit koop. ’n Mens moet tog jou kwota bou.”
Hy meen heelparty boere het nie al hul koring verkoop nie. “Ons het ’n reuse-oes gehad, maar die prys is laag en daar is geen teken dat die prys sal verbeter nie. Weens die staat se gesloer met die invoertarief wag en kyk die meulenaars ook wat gebeur.
“Die meeste ouens het hul kanola en die gars wat hulle kon verkoop, verkoop. Die koring hou ons vas. Ek het ’n idee ons sal dit lank vashou.”
Tog het hulle ’n ongelooflike jaar gehad. “Ons het relatief min reën gehad, maar dit was mooi versprei. Ons het gemiddeld meer as 2 ton kanola per hektaar geoes, en die grane was van eenvormige gehalte. Daar was nie kampe wat baie swakker as die ander was nie.”
Hy glo ’n deel van die groot oes kan toegeskryf word aan die goeie weer wat hulle tydens oestyd gehad het. “Ons is gewoond daaraan dat ons pak kry in oestyd, en garsgehalte dikwels nadelig geraak word, maar vanjaar het ons koel dae gehad, maar nooit so lank dat dit kon skade doen nie.”