BOERE KRAP KOP OOR UITGEDIENDE STANDAARDE
DIE bemarkingstandaarde wat die maatskappy Prokon vanaf 1 April volgende jaar namens die Regering by alle varsproduktemarkte moet toepas, is met amper 30 jaar verouder. Die bedryf krap tans kop oor hoe om dié struikelblok te oorkom, veral by produkte waarvoor daar nie ’n bedryfsliggaam is nie.
Mnr. Derek Donkin, uitvoerende hoof van die produsenteliggaam Subtrop, het ná afloop van ’n vergadering oor die regulasies met Prokon en regeringsverteenwoordigers gesê dit is vir Subtrop ’n knelpunt dat die amptelike standaarde nie relevant is nie.
“Hierdie regulasies is jare gelede opgestel, maar nooit toegepas nie en het verouder. ’n Lietsjie of ’n mango van vandag lyk en smaak anders as 26 jaar gelede. Ons sal voor 1 April die standaarde saam met die departement hersien en dit aanpas om by vandag se verbruikersvoorkeure in te skakel,” sê hy.
ONBEWUS
Boere wat met kleiner gewasse boer, soos Brassica-soorte en wortels, het egter nie bedryfsliggame wat hierdie verantwoordelikheid kan oorneem nie.
Volgens mnr. Rudi Engelke van die Edwern-Heim-groenteboerdery op die Kaapse Vlakte is van sy mede-groenteboere selfs nog onbewus daarvan dat hulle vanaf 1 April ’n bykomende heffing op alle vars produkte sal moet betaal. Hulle is ook onbewus daarvan dat nuwe standaarde nou vir bemarking geld.
“Die gradering van groente wat volgehou aan supermarkte gelewer word, soos wortels en beet, is al goed gestandaardiseer.
“Ek sien egter ’n probleem op die mark vir dinge, soos ’n bossie wortels of ’n krat vol kopkool, wat so te sê voor die voet uit die landerye bymekaargemaak word en nie gegradeer of verpak word nie,” sê Engelke.
“Ek weet nie wat die wet voorskryf nie en het ook nog geen kommunikasie van die departement of Prokon ontvang in dié verband nie.”
HANDE VAT
Mnr. Billy Makhafola, hoof van landbouproduktestandaarde by die Departement van Landbou, het bevestig dat die departement reeds met die meeste produsenteorganisasies en boereverenigings geskakel het.
“Daar sal natuurlik diegene wees, kommersiële en kleinboere, wat nie hierdie kommunikasie ontvang het nie. Ons sal egter in die eerste jaar van die proses, saam met Prokon, boere se hande vat en hulle goed inlig en oplei oor watter standaarde verwag word.
“Indien ’n boer nie aan die voorskrifte voldoen nie, sal regstellende riglyne aan die boer gekommunikeer word. Indien die boer egter herhaaldelik oortree, sal daar stappe teen hom of haar gedoen word,” sê hy.
Mnr. Carl Gathmann, ’n Brassica-boer van die KwaZulu-Natalse Middelland, is nie bekommerd oor die komende tariewe of die standaarde wat uit 1990 dateer nie. “Logika en sin sal seëvier. Daar i ste min Bras sic a-boere om’ n kommoditeit s organisasie staan te maak, maar ons almal is al jare in die bedryf en voldoen lank reeds aan baie streng standaarde net om ons produkte op winkelrakke te kry.
“Ek dink die proses is geldmors, juis omdat die meeste boere reeds aan GlobalGap of ander gehalte beheerstelsels gehoor gee. Ek voel amper in die gesig gevat dat hierdie wet nou, ná jare, op ons afgedwing word.
“Maar daar is seker verdienste as jy in gedagte hou dat daar boere is wat nie die verskil tussen ’n rooi- en ’n groen-etiket-gifstof ken nie,” sê hy.
‘Ek sien egter ’n probleem op die mark vir dinge, soos ’n bossie wortels of ’n krat vol kopkool, wat so te sê voor die voet uit die landerye bymekaargemaak word en nie gegradeer of verpak word nie.’