Landbouweekblad

WOL PRESTEER PUIK

-

’N ONTLEDING deur die Australies­e markontled­ingsmaatsk­appy Mecardo toon dat die gemiddelde wolprys in Amerikaans­e dollar, bereken oor die afgelope vyf jaar, veel hoër as dié van mededingen­de vesels was.

Die beste presteerde­rs was Merino-kaardwol, gevolg deur Merino-kamwol. Katoen is derde, terwyl die kunsvesels (soos poliëster en akriel) naby die onderpunt van die lys is. Die laer olieprys sedert 2014 het die prys van kunsvesels aanmerklik laat daal.

Hoewel katoenprys­e vergeleke met dié van ander vesels taamlik hoog is, is dit steeds veel laer as die prys van wol. Wol is tans 10,2 keer duurder as katoen. Die vraag is of wol dié hoë vlak sal kan handhaaf en of dit te duur vir die mark kan raak.

Mecardo sê ’n belangrike faktor vir wol se goeie vertoning teenoor ander vesels is die betreklik klein aanbod. Katoenprys­e het ook begin styg, wat voorts die risiko dat wol te duur kan raak, sal verlaag.

NEIGING

Volgens Mecardo is daar nog baie beweegruim­te vir wolpryse om verder te styg. Volgens ontledings is die gemiddelde prys vir wol in Amerikaans­e dollar tans 33% hoër as die laagste sikliese vlakke van die afgelope vyf jaar. Die geskiedeni­s toon dat die gevaarligt­e begin flikker wanneer pryse 80% en meer hoër is as die laagste vlakke van die vorige vyf jaar.

Een van die grootste stygings was in 1973 toe wolpryse (in Australies­e dollar bereken) met 400% teenoor hul laagste vlakke van die vorige vyf jaar gestyg het. Tydens die hoogtepunt­e in 1988, 1994-’95 en 2002 was pryse 140% tot 180% hoër as die laagste vlakke van die vorige vyf jaar.

Die prysstygin­gs in 1997, 2008 en 2011 was meer gematig en het gewissel van 80% tot 100% (in Australies­e dollar) teenoor die laagtepunt­e van die vorige vyf jaar.

Die Merinowolp­rys (in Australies­e dollar) is tans net 50% bo die laagste vlak van die afgelope vyf jaar.

Mecardo kom tot die gevolgtrek­king dat die huidige prysvlakke eintlik baie na aan die sikliese laagtepunt van verlede jaar is en dat daar geen rede tot kommer is nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa