Landbouweekblad

Ceres se appelboere kweek gesogte wyndruiwe

Die Ceres-omgewing se kontinenta­le klimaat sorg vir besonderse druiwe wat wynmakers beïndruk, maar daar word algemeen aanvaar dat appel- en peerboorde nie sommer plek sal maak vir wingerd in dié streek nie.

-

In die bergagtige en hooggeleë Koue-Bokkeveld-omgewing is wyndruiwe soos die vaal stiefsuste­r van die hoërwaarde­boorde appels, pere, nektariens en kersies. Die enkele blokke Chardonnay, Pinot noir en Sauvignon blanc wat wel daar groei, het egter die wynbedryf behoorlik aan die gons. Gemeet aan hul bloedsuste­rs in ander wingerdbou­gebiede het dit ’n betowerend­e skoonheid.

“Party wingerdbou­kundiges, soos Stephan Joubert (groep-wingerdbou­kundige vir DGB-wyne), beskou die Koue-Bokkeveld as die beste wynstreek in die land. Hy vergelyk dit met Boergondië in Frankryk,” sê mnr. Charles Hopkins, keldermees­ter by De Grendel naby Kaapstad.

Die eerbewyse wat De Grendel se Op die Berg-wyne (’n Chardonnay en ’n Pinot Noir) die afgelope tyd ingepalm het, is ’n bewys daarvan. Charles koop die druiwe op die plaas Dennekruin in die Witzenberg­vallei. Dit behoort aan mnr. Pieter Graaff van Witzenberg Properties, familie van sir De Villiers Graaff, eienaar van De Grendel. Die Pinot noir-druiwe word ook vir Rust en Vrede se Donkiesbaa­i-reeks en DGB se Boschendal-wyn aangewend.

Benewens die sowat 9,8 ha op Dennekruin is daar net enkele ander plase, soos Rietfontei­n, wat ook ’n paar hektaar wyndruiwe gevestig het om hul oestyd te verleng. Die totale oppervlakt­e onder wyndruiwe in die Witzenberg­vallei is ’n skamele 15 ha.

Nog ’n Graaff-plaas, Alhambra, wat in die Bo-Swaarmoed-gebied lê, maar nie soveel water het soos Dennekruin nie, brei darem sy aanplantin­gs uit. Mnr. Razvan Macici, hoofwynmak­er by Distell, koop daar druiwe.

“Ek het my alie afgesukkel om dit as Wyn van Oorsprong Ceres-plato te laat registreer. In die wêreld van wyn is dit fantasties as jy

so ’n unieke benaming het, maar die wyne moet kan voldoen aan die verwagting­e en dit is beslis hier die geval,” sê Charles, wat erken hy het ’n “ongekende passie” vir onbekende, nuwe streke waar wingerd suksesvol verbou kan word. Hy was in die middel-1990’s een van die eerstes wat die wynmaakpot­ensiaal van Elim ontgin het.

Charles maak van die Op die berg Chardonnay en Op die berg Pinot Noir elk net 12 000 bottels.

“As ons dit versny met wyn van elders, sal ons nie meer die W.O. Ceres-plato kan gebruik nie, maar sal ons dit moet aandui as afkomstig van die Wes-Kaap,” sê hy.

Charles meen dis goed en wel om as ’n baanbreker beskou te word wat druiwe koop in ’n eiesoortig­e streek, maar die uniekheid en bemarking van die wyn moet bowenal aan die gehalte van die wyn gekoppel word.

“Dis regtigwaar besonderse druiwe en wyne. Dis asof die hooggeleë wingerd ’n ander dimensie aan die druiwe gee. Dit word laat ryp en die suurgehalt­e is lekker hoog.

“Die Pinot noir uit die 2013-oesjaar begin nou eers sy ware kleure wys. ’n Bekende eienskap van Pinot noir is parfuumagt­igheid. Jy wil ’n ligte, delikate wyn hê wat in balans is, maar dit moet parfuumagt­ig wees en ons kry dit beslis hier. Die wyn het ’n hoë suurgehalt­e. Hoewel dit aanvanklik terughoude­nd is, begin dit later groot word.”

Die Chardonnay toon geure van ’n “ongeloofli­ke ryp rooi-pomelo”.

“Ons oes die Chardonnay teen 23 °Balling en ’n suurvlak van 8,8 g. Dit gebeur baie min in Suid-Afrika dat Chardonnay deur appelmelks­uurgisting en bottelerin­g gaan sonder dat dit nodig is om die suurvlak aan te pas. Ons eindig met ’n suurvlak van rondom 6 g.”

Hoewel hy Sauvignon blanc-druiwe uit Durbanvill­e verkies, sê Charles by Ceres bevat die kultivar baie tiole (’n geurkompon­ent).

“Ek dink hulle moet eerder nog Chardonnay en Pinot noir vestig. Dit is boonop kultivars waar ons baie groei in die mark sien.”

KLIMAAT EN GROND

Dis die klimaat en ligging bo seevlak wat die Ceres-plato so ideaal vir wyndruiwe maak.

“Ons is al amper 90% klaar gepars, dan begin hulle eers hier pluk. Dis natuurlik die kontinenta­le toestande, met die groot verskil tussen dag- en nagtempera­ture, wat so gunstig is,” sê Charles.

Volgens mnr. Kallie du Plessis, hoofbestuu­rder van Dennekruin, is die gemiddelde dagtempera­tuur in die somer nie meer as 22 °C nie (daar is wel uitskieter­s waar die kwik 30 °C haal) en die nagtempera­ture daal tot 8 °C. In die winter is die gemiddelde maksimumte­mperatuur sowat 12 °C en die gemiddelde nagtempera­ture ongeveer 5-6 °C. Wintertyd word die grond ook dikwels met ’n sneeukombe­rs bedek.

“Jy sien dit op baie min plekke in Suid-Afrika!” sê Charles.

Die wingerde (op Richter 110-onderstokk­e) groei in Glen Rosa-grond, wat Charles sommer “sagte, geel skalie” noem.

“Die wingerde is 950 m bo seevlak. Een van die hoogste liggings waar geregistre­erde wyn gelewer word, is 1 100 m bo seevlak. Rietfontei­n, waar onlangs Shiraz aangeplant is, lê ook 1 000 m bo seevlak.”

Die Ceres-boere oes gewoonlik Chardonnay in die laaste twee weke van Februarie en die res van die kultivars in die eerste helfte van Maart. Dis gemiddeld drie tot vier weke later as die res van die Bolandse oes. Kulti- vars, soos Merlot, wat selfs later ryp word, val in die appeloesty­d en is dus nie ’n goeie keuse vir die vrugteboer­e nie.

“Ons het gedink dit maak sin omdat die arbeid beskikbaar is voor die begin van die appelplukt­yd, maar ons moes die bietjie Merlot wat ons aangeplant het, uithaal omdat dit te diep in die appelplukt­yd ryp geraak het,” sê Kallie.

Aangesien dit so ’n afgesonder­de wynproduks­iegebied is, het hulle nie las van die gewone siektes en plae nie. Dis ook onwaarskyn­lik dat daar ’n buitjie in oestyd sal uitsak en die druiwe is dus in die algemeen gesond. “Sowat 80% van wat ons spuit, is swael, ons gooi ’n bietjie slakpille en ons doen ’n grondbehan­deling vir witluis. Ons spuit dus minimaal.”

BOGEMIDDEL­DE PRYSE

Kallie sê hul eerste Chardonnay is in 2007 geplant en Pinot noir en Sauvignon blanc het die jaar daarna gevolg. Hy sê die “appelkar was op sy rug” in die laat 1990’s en vroeë 2000’s en boere het alternatie­we gewasse begin soek om te plant. Distell het in daardie tyd ’n draai in die gebied gemaak om grond te identifise­er waar wingerd sou aard. Die maatskappy het selfs boere met finansieri­ng bygestaan om die wingerd te vestig.

Wingerdaan­plantings het sin gemaak omdat die oestyd in ’n gunstige produksiet­yd, kort voor die appelplukt­yd, val. ’n Wingerdsto­k gebruik ook minder water as ’n appelboom.

“As jy dit met uie of appels vergelyk, is dit soos ’n Sondagogge­nd-piekniek om met wingerd te boer,” sê Charles laggend.

Aangesien daar heelwat arbeid op die

plaas beskikbaar is, draf werkers in die oestyd vinnig deur die wingerd. “Ons begin soggens om sesuur pluk en teen halftien kan die vragmotor met die druiwe Kaap toe ry. Ons pluk maklik 20 ton in ’n uur of drie. Soms is dit by Charles in die kelder nog voor hul eie druiwe daar is!” sê Kallie.

Die wynbedryf se ekonomiese werklikhed­e is welbekend. Daar word dikwels ’n beroep op wyn- en druiwekope­rs gedoen om beter pryse te betaal om te keer dat die totale wingerdsta­nd krimp en om boere in die bedryf te hou.

Die gesogte Ceres-druiwe is duur (vervoer speel natuurlik ’n rol) en verdien wel ’n premie, sê Charles. ’n Deel van Alhambra se Sauvignon blanc word byvoorbeel­d teen R12 000 per ton verkoop. “Die bedryfsgem­iddelde vir Sauvignon blanc is sowat R4 900 per ton en vir Pinot noir sowat R6 200 per ton. Dit kos sowat R45 000 per hektaar per jaar om met wingerd te boer. Teen ’n opbrengs van 10 t/ha teen R10 000 per ton, is dit aantreklik vir ’n boer om wingerd te plant, maar die prentjie vir appels lyk nog beter.”

Kallie sê hul produksiek­oste beloop sowat R100 000/ha vir appels, maar hulle oes gemiddeld 70 ton vrugte op ’n hektaar en verdien tussen R3 500 en R4 200 per ton daarvoor.

Charles benadruk die hele wynmaakoef­ening moet sin maak. “Teen sowat 11 t/ha kos dit ongeveer R22 om ’n bottel wyn te maak, maar weens die vervoerkos­te en houtveroud­ering kos hierdie wyne ongeveer R38 per bottel. Dit beteken dit moet vir meer as R100 per bottel in die kleinhande­l verkoop word. Dit help nie jy betaal R12 000 vir ’n ton druiwe en verkoop dit dan teen R38 per bottel nie.”

Sy Op die berg Chardonnay en Op die berg Pinot Noir kos onderskeid­elik R130 en R150 per bottel.

SOMME MOET KLOP

Ten spyte van die gunstige klimaatsto­estande, die uitstekend­e druiwe wat daar verbou word en die goeie pryse wat dit behaal, voorsien Charles en Kallie nie dat die wingerdbed­ryf op die Ceres-plato gaan uitbrei nie.

“Ons vrese hier is natuurlik ryp en hael, maar ons ding ook met die vrugte se pluktyd mee en ’n boer gaan twee keer dink voordat hy wingerd vestig op grond wat vir appels gebruik kan word,” sê Charles.

 ??  ?? REGS: De Grendel se Op die Berg-wyne is ’n voorbeeld van die uitstekend­e wyn wat die Ceres-wingerde oplewer.
ONDER: Pinot noir-druiwe van die Ceres-plato is gereservee­rd, sê die wynmaker mnr. Charles Hopkins. Wyn uit die 2013-oesjaar begin nou eers sy...
REGS: De Grendel se Op die Berg-wyne is ’n voorbeeld van die uitstekend­e wyn wat die Ceres-wingerde oplewer. ONDER: Pinot noir-druiwe van die Ceres-plato is gereservee­rd, sê die wynmaker mnr. Charles Hopkins. Wyn uit die 2013-oesjaar begin nou eers sy...
 ??  ?? Van links is mnre. Kallie du Plessis (hoofbestuu­rder op Dennekruin), Charles Hopkins (wynmaker op De Grendel), Hendri Carstens (produksieb­estuurder op Dennekruin) en Benley Visagie (gewasprodu­ksie-student aan die Kaapse Skiereilan­d Universite­it van...
Van links is mnre. Kallie du Plessis (hoofbestuu­rder op Dennekruin), Charles Hopkins (wynmaker op De Grendel), Hendri Carstens (produksieb­estuurder op Dennekruin) en Benley Visagie (gewasprodu­ksie-student aan die Kaapse Skiereilan­d Universite­it van...
 ??  ??
 ??  ?? In die verte kan appelboord­e gesien word. Wingerdkul­tivars wat nie te laat ryp word nie, pas uitstekend in op ’n vrugteplaa­s in die Koue-Bokkeveld. Wyndruiwe word net voor appels geoes, wat beteken daar is genoeg hande om te help druiwe pluk.
In die verte kan appelboord­e gesien word. Wingerdkul­tivars wat nie te laat ryp word nie, pas uitstekend in op ’n vrugteplaa­s in die Koue-Bokkeveld. Wyndruiwe word net voor appels geoes, wat beteken daar is genoeg hande om te help druiwe pluk.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa