‘Jy is so sterk soos jou span’
Fairfield Dairy Company, ’n enorme suiwelonderneming in die KwaZulu-Natalse Middelland wat nagenoeg 130 000 liter melk per dag verwerk, het bykans 30 jaar gelede uit desperaatheid ontstaan en lewer vandag puik produkte regoor Suid-Afrika.
As jy aan mnr. Kevin Lang, melkboer, sakeman en stigter van Fairfield Dairy, dink, sien jy ’n cowboy. ’n Visioenêre man met ’n blik wat ver die toekoms in tuur, maar met stewels vol stof op die rug van ’n perd wat goed versorg is. Kevin jaag egter nie alleen oor die vlaktes nie – hy het ’n hele span bekwame en bemagtigde mense om hom, want vir Kevin is dit dié span mense wat Fairfield se sukses bepaal.
Die onderneming strek oor vyf plase, waarvan twee aan die einde van 2014 bekom is. Gesamentlik word nagenoeg 470 ha weiding besproei om daagliks bykans 2 500 koeie te melk.
Hoewel die boerdery en veral ’n mooi melkkoei Kevin se voorliefde is, is die Fairfield-melkfabriek die kern van sy on- derneming. Die fabriek verwerk tans daagliks 130 000 liter melk. Ongeveer ’n derde daarvan kom vanaf Fairfield se eie boerdery, terwyl die res van onafhanklike boere ingekoop word om in die groot vraag te voorsien.
Kevin produseer al bykans tien jaar lank suiwelprodukte in die fabriek by Howick, hoofsaaklik vir Woolworths.
Kevin se pad het egter nie by melk begin nie en ook nie eens op ’n eie of ’n familieplaas nie. Hy was ná universiteit ’n bestuurder op ’n groenteplaas in KwaZulu-Natal. Die plaas is mettertyd aan die buurman verkoop en Kevin kon die grond terughuur. Hy het sy eie groenteboerdery op die been gebring. Deur die groenteboerdery het hy ’n goeie verhouding met supermarkte opgebou deur voorafverpakte groente aan veral Pick n Pay te lewer.
Die plaas, Fairfield, was oorspronklik ’n melkplaas, en Kevin het besluit om ekstra kontant wat hy uit sy groenteboerdery verdien het, in verskalwers te belê en die melkery-infrastruktuur wat reeds op die plaas was, te gebruik.
Voor hy sy oë kon uitvee, was sy melkproduksie bykans 1 000 liter per dag. Dit was in die vroeë 1990’s toe daar slegs twee groot melkverskaffers aan supermarkte in Suid-Afrika was, maar geeneen van hulle het in Fairfield se melk belang gestel nie. Uit die verhouding wat hy deur sy groenteverbouing met Pick n Pay opgebou het, die feit dat mededinging in die suiwelbedryf skraps was en dat hy teen ’n beter prys melk kon lewer, was Pick n Pay egter gretig om ook melksake met hom te doen.
Binne weke was die vraag na Fairfield se melk só groot dat Kevin melk van ander boere moes begin inkoop. In 2014 het Fairfield in vennootskap met mnr. Anthony Galliers, ’n melkboer van die KwaZulu-Natalse Middelland, getree. Op die plase wat Anthony bestuur, word bykans 1 800 koeie gemelk. Vir Ant is spanwerk net so belangrik soos vir Kevin. “Die grootste geleentheid vir boere is samewerking. Té groot klem word op eienaarskap geplaas, terwyl daar enorme krag en geleenthede in samewerking en rentmeesterskap van ’n hulpbron is,” sê Ant.
Kevin is nie iemand wat die detail te veel omroer nie. Hy is ’n “grootprentjiesakeman” wat die visie van die onderneming ontwikkel.
Jy het ná skool in Australië gewerk?
Reeds as kind was ek baie lief vir perde. Ek het daarvan gedroom om na Australië te gaan om ’n cowboy te wees. In een van my universiteitsvakansies was ek daarheen en het van smôrens vroeg tot saans laat op ’n perd se rug gesit. Ek het vandag nog ’n Quarter Horse-kudde op die plaas.
Wat is jou raad aan iemand wat ’n soortgelyke onderneming wil begin?
Enigiemand kan iets verbou, verpak of in ’n bottel sit, maar dit is jou mark wat saak maak. Die sleutel is egter jou roete na die mark – dít is waar die waarde opgesluit lê.
Wat is jou raad aan jong entrepreneurs?
Omring jou met ’n goeie span. Ek dink entrepreneurs is tipies “grootprentjiedenkers” en visiegedrewe mense. Juis daarom kan hulle uit die bus val as hulle nie die regte ondersteuningstruktuur om hulle het nie. Die wonderlike mense wat deurentyd aan my sy was, het my toegelaat om entrepreneuries en visionêr te wees, terwyl hulle die dinge laat gebeur het, die beplanning gedoen en na die detail omgesien het.
Die Suid-Afrikaanse melkbedryf is taai. Watter land moet ons naboots?
Ek sou graag in Kanada wou boer. Hulle het ’n ware verskaffingsbeheerstelsel met streng kwotas en ’n melkprys aan die boer wat dubbeld ons s’n is. Die marges in elke bedryf is deurentyd onder druk, maar in Kanada slaag hulle daarin om die kleiner boere op hul grond te hou deur die prys wat boere verdien, hoog te hou. Ons is egter ver verwyder daarvan vanweë die vryemarkstelsel. Dit verg baie regeringsinmenging, waarteen ek normaalweg gekant is. Die situasie in Kanada is die enigste voorbeeld van waar regeringsinmenging regtig goed gewerk het.
Watter soort bemagtiging werk vir jou?
Ek is glad nie ’n voorstander van bemagtiging wat deur wette afgedwing word nie. Bemagtiging behoort deel te vorm van wat ons as sakemense wil bereik. Ons het onsself voorgeneem om ses of sewe huise per jaar te bou en die titelaktes aan die mense wat al die langste by ons werk – sommige al 28 jaar – oor te dra. Ons het twee jaar gelede met die projek begin en het reeds 13 huise gebou.
Jy het klein begin, groot spronge geneem en risiko’s geloop. Daar was sekerlik ’n oomblik dat jy jouself afgevra het of jy werklik ’n sukses van die onderneming gaan maak?
Ek dink jy lewe maar deurgaans met ’n bietjie vrees. Ek dink nie jy voel ooit “nou het ons dit gemaak nie”. ’n Deel van entrepreneurskap is om met ’n bietjie vrees te lewe en skuld te hê. Ek dink skuld is ’n goeie ding – dit hou jou op die regte pad. Skuld is deel van besigheid. Jy moet net slim wees en dit goed bestuur.
Jou pa het nie geskroom om aan jou as kind te vertel hoeveel skuld hy gehad het nie. Was jy al van kindsbeen af ’n entrepreneur?
Ek het van jongs af belang gestel in geld en finansies. My pa was baie goed met my deurdat hy altyd sy onderneming se geldsake met my bespreek het vandat ek 12 jaar oud was. Ek was altyd bewus van hoeveel hy geskuld het en hoe ons uit die skuld sou kom, Hy het my ook deel gemaak van sy finansiële besluite en onderhandelinge.
Hoe klop julle vaste koste?
Mnr. Brian Macaskill, wat ’n derde van die melkery se kudde bestuur: Deur ’n toegewyde en passievolle span op te bou wat op produktiwiteit ingestel is, probeer ons om ons kudde op ’n optimum produksievlak te bestuur, onnodige aankope uit te skakel en van die “dooie hout” in alle fasette van die produksiestelsel ontslae te raak.
Hoe klop julle elektrisiteitskoste?
Brian: Ons het hitte-uitruilingseenhede in die melkerye geïnstalleer, wat ‘n taamlik besparing meegebring het. Ons besproei ook streng volgens ons grondvogmeters en het doeltreffender waterpompe geïnstalleer. Omdat verskillende spilpunte dieselfde pompe het, is Eskom se Ruraflex-tariefstruktuur ongelukkig nie vir ons ’n opsie nie.
Watter tegnologie het ’n omwenteling in jul boerdery meegebring?
Brian: My iPhone. Afgesien daarvan dat ek deurentyd in kontak met my hele span is, laat dit my ook toe om te alle tye belangrike produksie-inligting, soos koeiprestasies, grondvoglesings en besproeiingskedulering, in die palm van my hand te hê.
Anthony: Nieu-Seelandse teelmateriaal het ’n enorme verskil in ons boerdery gemaak sover dit produktiwiteit aangaan.