GESUKKEL MET BRAK BESPROEIINGSWATER
Ek het sowat twee hektaar lusern in die Klein-Karoo tussen Ladismith en Montagu in die Anysberge-omgewing, langs die Touwsrivier. Die besproeiingswater is baie brak en die sanderige grond is ook reeds brak. Ek het al twee keer misluk. Die boonste grondlagie word hard en ek vermoed die nuwe lusern sukkel om deur te breek. Ek besproei elke oggend ongeveer twee uur lank. Soutbos floreer egter en ons moet dit gereeld uithaal. Ek het pas die plaas met wildsheining toegespan en wil lusern plant vir aanvulling.
Wanneer ons van verbrakking praat, aanvaar ons soute het opgebou en só vermeerder in die grond tot ’n punt waar plantgroei nadelig beïnvloed word. Natrium (Na) is die element wat primêr verantwoordelik is vir die grondverbrakking. In die daaglikse gebruik word natrium onder meer as natriumchloried in gewone tafelsout aangetref.
Dit is min of meer wat in die grond ook gebeur. Dit is ’n versouting van die grond. Wanneer dit gebeur, sien ons dikwels dat gronde dispergeer aan die oppervlak, of dan blus. Ons praat dus van ’n grondstruktuur wat drasties agteruitgaan en dan slaan die grond toe. Wanneer dit gebeur, is die gevolg hoofsaaklik vertraagde water binnedring in gen verswakte gas wisseling. Du sis die besproeiing ondoeltreffend en wortelontwikkeling word ondermyn. Dit is ook waarom die grond verhard.
Vanuit ’n plantvoedingsoogpunt is die nuus nie beter nie. Die oormatige soute skep ’n osmotiese potensiaal en plante se wortels droog as ’t ware uit. Die ironie is dat dit dikwels lyk soos droogtesimptome en dan reageer ons deur te besproei. Dit vergroot die risiko van moontlike versuiping. Die kans is goed dat die water baie soute bevat. Dit beteken hoe meer jy besproei, hoe meer soute voeg jy by tot ’n reeds soutryke omgewing. Wat staan jou dus nou te doen? Laat grondmonsters by ’n geakkrediteerde laboratorium ontleed. Dit is belangrik sodat jy kan sien wat die omvang van die probleem in die grond is. Dit gaan die grondslag vorm vir die herstel van die grond en die aanbevelings rondom die suksesvolle vestiging van lusern. Laat ook die besproeiingsbron se water ontleed. Só gaan jy vir die toekoms weet watter voortdurende, remediërende optrede nodig gaan wees.
Sodra jy daardie ontledings het, is dit raadsaam om by ’n grondkundige of ’n landboukundige aan te klop vir raad en aanbevelings.
Tradisioneel word verbrakking met die toediening van gips en opvolgende korrekte bewerkings teengewerk. Die resultate en welslae is gewoonlik wisselvallig omdat verskeie belangrike faktore ’n verskil maak in die doeltreffendheid van byvoorbeeld eksterne dreinering, die oplosbaarheid van die toedienings, ens.
Daar is egter toedieningsprodukte beskikbaar wat uiters doeltreffend is om verbrakking teen te werk, byvoorbeeld Dekompakt. Dit word gebruik om enersyds verbrakking reg te stel of alternatiewelik só te bestuur dat gewasse suksesvol verbou kan word.
Met die vestiging van lusern in sulke toestande is daar nog ’n paar stappe wat gevolg kan word om sukses te behaal, maar kry eers die groeimedium (grond) reg.
Mnr. Deon van Zyl is ’n akkerboukundige by Nulandis Precision Farming.