Landbouweekblad

’n Sake-perspektie­f

-

In ’n onlangse aanbieding tydens die African Investment Indaba in Kaapstad het ek die sakeperspe­ktief vir kommersiël­e boerdery in Afrika voorgehou. Ek het besluit feite sal die boodskap die beste oordra en gee dit gevolglik bloot weer in dié stuk: Res ipsa loquitur.

Die gehalte van primêre inligting bepaal die gehalte van sekondêre strategies­e ontwikkeli­ng. Dit geld ook landboustr­ategieë in Afrika. Ek grond my stelling op vier argumente.

Eerstens, Suid-Afrika se kommersiël­e landbou groei vinnig en is besig om tot die mees gevestigde en winsgewend­ste sektor op die vasteland te ontwikkel. Suid-Afrika is tans die Afrika-land met die grootste voedselsek­erheid en daarbenewe­ns die enigste netto uitvoerder van produkte op die vasteland. Die netto verdienste van die Suid-Afrikaanse landboubed­ryf beloop jaarliks ongeveer R80 miljard en sorg terselfder­tyd vir sowat 8% van die land se formele werkgeleen­thede.

Tweedens, Suid-Afrikaanse boere is tegnologie­bedrewe. Volgens droogheids­indekse is ’n skrale 13,5% van Suid-Afrika se grond geskik vir doeltreffe­nde landboubed­rywighede, soos gewasverbo­uing. Slegs 3% is hoëpotensi­aalgrond. Dit beteken Suid-Afrikaanse boere het nie veel om mee te werk wat potensiaal betref nie. Die grootste beperking is die tekort aan beskikbare water weens ongereelde of onbetrouba­re reënval. Sowat 60% van Suid-Afrika se waterbronn­e word vir landboudoe­leindes gebruik, wat besproeiin­gswater aan 1,3 miljoen hektaar se gewasse voorsien. Ondanks klimaathin­dernisse span Suid-Afrikaanse boere wêreldklas-infrastruk­tuur in deur toegepaste tegnologie en presisiebo­erdery om nie net in die plaaslike vraag te voorsien nie, maar ook internasio­naal.

Derdens, Suid-Afrika is verreweg die aantreklik­ste beleggings­mark in Afrika — wat die gevestigdh­eid van sy primêre produksie én sy sekondêre verwerking­sektor betref. Ons finansiële stelsels is van die beste ter wêreld, ons besit ons plase en ons skop stof in ons bure se oë wat alle aspekte van sektorgroe­i en winsgewend­heid betref.

Vierdens, daar is doeltreffe­nde kommersiël­e finansieri­ng in SuidAfrika. Sekuriteit is die enigste manier om die landbou in Afrika te finansier. Grondeiena­arskap is ’n baie beter manier om finansieri­ng vir produksie en landbou-ontwikkeli­ng te beding. Die landbousek­tor se insetkoste is sowat R130 miljard teenoor ’n nasionale boekwaarde van sowat R220 miljard. Die grondwaard­e maak dié leningsomv­ang moontlik. Na aanleiding van besoeke aan en betrokkenh­eid by kommersiël­e én ontwikkeli­ngsprojekt­e in die landbou op die vasteland, is my gevolgtrek­kings eenvoudig. As ons veronderst­el dat ons almal ekonomiese groei nastreef, werkgeleen­thede wil skep en voorspoed en voedselsek­erheid wil verseker, moet die volgende gedoen word: Skep ’n bevorderli­ke beleidsomg­ewing waar grondeiena­arskap van primêre belang is. Ons kan nie die Groen Revolusie in Afrika op enige ander wyse finansier nie. Baie Afrika-lande probeer reeds dekades lank om kleinboere op te hef en skenkers het miljarde dollar in Afrika ingepomp, maar tog bly dié vasteland in armoede vasgevang. Kom ons wees slim: Grondbesit beteken nie veel sonder finansieri­ng nie. Gebruik die Suid-Afrikaanse landbou as die spil vir groei in Afrika. Ons het die kommersiël­e boere, die tegnologie, die finansiële stelsels, die beleggers én die tersiêre vermoëns. Pas aan by klimaatsve­randering. Benut die Suid-Afrikaanse landbou om onder meer nuwe kultivars te ontwikkel, nuwe boerderypr­aktyke in te span en slim oplossings vir water te bedink ten einde groot tegnologie­treë te gee. Ontwikkel plaaslike, Afrika- en internasio­nale markstrukt­ure om die vraag na Suid-Afrikaanse landboupro­dukte te vergroot. Ontwikkeli­ngsfinansi­ering vir nuwe boere moet opnuut onder die vergrootgl­as geplaas word. Dit is onmoontlik om nuwe kommersiël­e boerdery-ondernemin­gs te vestig met tradisione­le finansieri­ng en bankmodell­e. Nuwe, bevorderli­ke modelle moet so gou moontlik ontwikkel en toegepas word. Ons is deur die ergste. Vanjaar was gewis nie vir sissies nie. As ek terugkyk op ’n jaar vol rampe en stampe vir ons boerderyge­meenskap, is ek trots om geassosiee­r te word met so ’n uitmuntend­e bedryf, bogemiddel­de mense en ’n sin van verantwoor­ding wat ’n mens selde sien.

In die Kersgety, waar baie van ons nog boer en plant en oorleef, dink ons aan ons Skepper wat ons bystaan en is ons dankbaar vir mekaar en vir die landbou. Ons bid vir wysheid en insig in die komende jaar.

Namens Agri SA wil ek aan elke mens wat regstreeks of onregstree­ks by die landbou betrokke is, dankie sê vir alles wat julle tydens die droogte gedoen het om te help. Elke sent, elke gebed, elke vrag voer. Dankie!

Ons sien uit na 2017 — na goeie oeste, na vet diere en na samewerkin­g en eenheid in die waardekett­ing en in die georganise­erde landbou. Vir die boere wat nog swaarkry en wag vir reën — ons bid vir julle. In die komende jaar het ons ’n fantasties­e geleenthei­d om onsself beter en sterker te maak en vir die wêreld en Suid-Afrikaners te vertel wie ons is — om te deel en om onsself na hoogtes te neem wat ons nie vandag dink bestaan nie. Ons het deur dié moeilike jaar gekom, en nou kan ons die byle slyp vir die groot bome wat ons brandstape­ls só groot sal maak dat die wêreld dit sal sien. Dit is nou ons tyd!

— OMRI VAN ZYL

Omri van Zyl is die uitvoerend­e direkteur van Agri SA. Chris Burgess is tans met sabbatsver­lof en sal weer in Maart sy rubriek hervat.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa