Op die volgende bladsye gee Landbouweekblad se verslagspan ’n oorsig oor die jaar se hoogte- en laagtepunte.
Die droogte wat Suider-Afrika die afgelope jare teister, het vanjaar só fel geraak dat die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap reeds voor die winter die hele streek tot ’n droogterampgebied verklaar het. Al is droogtenood in agt van Suid-Afrika se nege provinsies, sowel as in Lesotho en Swaziland verklaar, is die droogte nooit tot nasionale ramp in Suid-Afrika verklaar nie.
In Maart het ’n taakspan onder leiding van Agri SA aangedui watter hulp boere nodig het. Dit het ingesluit: R2,4 miljard se staatswaarborge om boere met oordragskuld te help; R6,3 miljard vir veevoersubsidies; R958 miljoen in subsidies aan plaaswerkers. Op ’n droogteberaad in September het Agri SA uiteengesit hoe die R18 miljoen uit sy droogterampfonds benut is om 13 000 kommersiële boere en 3 000 ontwikkelende boere te help.
Op dieselfde beraad het dr. Ikalafeng Kgakatsi, direkteur van klimaatsverandering en rampbestuur by die Departement van Landbou, gesê 246 425 boere is nadelig deur die droogte geraak en sowat 253 000 stuks vee het toe reeds gevrek.
Die Departement van Water en Sanitasie het gewaarsku dit kan drie tot vyf jaar duur vir damvlakke om ná die droogte weer normale vlakke te bereik. Die land se damvlakke het toe op gemiddeld 52,5% gestaan. Ná ’n droë winter was Wes-Kaapse damvlakke op 61,2% teenoor 90,75% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
Toe die Vaaldam in November ’n vlak van net 26,6% bereik het, is die sluise van die Sterkfonteindam oopgemaak om sowat 200 miljoen kubieke meter water aan die Vaaldam te lewer.
Die sentrale en oostelike dele