SA SKOP VAS OOR SWARTVLEK
HOEWEL daar wetenskaplike bewyse is dat die swartvlek nie deur sitrusuitvoer van Suid-Afrika na Europese boorde oorgedra kan word nie, beperk plaaslike sitruskwekers die risiko van ’n denkbeeldige besmetting met groot sukses, maar teen enorme koste. Dit kan egter nie so aangaan nie, sê mnr. Deon Joubert, die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging se spesiale gesant vir markaangeleenthede in Europa.
Hy beveel aan dat Suid-Afrika hom tot die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) wend vir uitsluitsel oor die saak.
Joubert sê vanjaar is net vier besendings sitrus van Suid-Afrika deur lidlande van die Europese Unie (EU) onderskep nadat tekens van die swartvlekswam op vrugte gevind is. Dit is byna weglaatbaar min teenoor 15 verlede jaar, 72 onderskeppings in 2014 en 35 in 2013.
POLITIEKE HEFBOOM
Joubert sê Suid-Afrikaanse boere se prestasie in dié verband oorskadu powere pogings van ander uitvoerlande na die EU verreweg. Tog kry Suid-Afrika nie eens ’n klop op die skouer nie. Hy is bekommerd dat lidlande gaan aanhou om swartvlek as ’n politieke hefboom te gebruik om Suid-Afrikaanse sitrus uit die mark te probeer hou.
“Om hierdie skuiwergat toe te maak moet die swartvlekkwessie permanent uit die weg geruim word deur die manier te verander waarop die EU swartvlek meet en beskou.
“As ons dit nie doen nie, gaan die goeie werk van die sitrusbedryf, die Departement van Landbou en die Raad van Toesig op die Uitvoer van Bederfbare Produkte tot niks kom nie,” waarsku hy.
Hy sê dit kos Suid-Afrika omtrent R1 miljard per jaar om seker te maak daar is geen swartvlek op vrugte wat na die EU uitgevoer word nie.
“Dit het tyd geword dat ’n onafhanklike WHO-paneel hierdie kwessie afsluit.”