Onstabiliteit neem wêreldwyd toe
Die droogte en politieke probleme veroorsaak onstabiliteit in die SuidAfrikaanse ekonomie. Brexit, Donald Trump en die opkoms van regse nasionalisme veroorsaak egter ook elders probleme.
Suid-Afrikaners is geneig om te dink dat dit net in Suid-Afrika is waar daar onstabiliteit is. Die feit is egter dat die wêreldekonomie deur ’n redelik onstabiele fase gaan wat in 2008-’09 begin het toe die ineenstorting van die groot Amerikaanse bank Lehman Brothers die wêreld in ’n resessie gedompel het.
Die gevolge daarvan is nou nog ’n ernstige knelpunt in die wêreldekonomie. Staatskuld het skerp toegeneem en rentekoerse in Europa en Amerika is steeds by nul, iets wat vorentoe genormaliseer moet word.
Suid-Afrika het die vyf droogste opeenvolgende jare op rekord beleef, met 2015-’16 die droogste. Uit die aard van die saak is die landbou erg geknou, maar so ook die plattelandse ekonomie.
Die Suid-Afrikaanse ekonomie dobber rond op die rand van ’n resessie en sekere sektore in die ekonomie voldoen aan die vereistes van ’n resessie. Die aantygings van staatskaping en die hofuitsprake teen pres. Jacob Zuma en van sy ondersteuners dra beslis nie by tot stabiliteit nie en is een van die redes vir die wisselvalligheid van die randwisselkoers.
Intussen het mnr. Donald Trump, aangewese president van Amerika, nuwe onsekerheid gebring in die wêreldekonomie en in die politieke magspel tussen die groot moondhede. Daar is ook al hoe meer aanduidings dat die Europese Unie (EU) stadig maar seker begin krake toon sedert die Britte in ’n referendum gestem het om uit die EU te tree.
Die jongste is Italië wat polities en ekonomies in die moeilikheid is. Van die Italiaanse banke het in die eerste week van Desember aansoek gedoen om staatsbystand om nie bankrot te gaan nie.
As ’n mens teen die einde van die jaar bestek opneem, is baie van mense erg teleurgesteld. Die onstabiliteit in die wêreld het toegeneem en in Suid-Afrika is onstabiliteit aan die orde van die dag met die klimaat wat landbouproduksie in baie bedrywe erg gekniehalter het. KORTOM
■ Die risiko is dat mense hulle blind staar teen politieke onstabiliteit en dan nalaat om noodsaaklike langtermyninvestering te doen. ■ Die groeikoers in die landbou daal reeds vir sewe agtereenvolgende kwartale, wat beteken dit is in ’n diep resessie. ■ Die groeikoers van Suid-Afrika bly digby
nul omdat produksie nie toeneem nie. GRAFIEK 1: EKONOMIESE GROEIKOERS
In Suid-Afrika oorheers drie groot faktore alle aspekte van die samelewing. Eerstens trek die ekonomie noustrop en dit raak die landbou op vele vlakke. Tweedens is die politiek in ’n soort oorgangsfase wat baie ongemaklik is en volgens politieke kenners gaan voortduur tot met die verkiesing in 2019. Hulle meen dat dit eers slegter sal gaan voordat sake gaan verbeter. Die risiko wat ’n mens waarneem, is dat baie mense so vasgevang word in die politieke gemors dat hulle vergeet om op hul besigheid te fokus en langtermynplanne te maak. In die proses laat hulle na om langtermyninvestering te doen.
Let gerus op, in die onderhoude met die eienaars van suksesvolle besighede is dit duidelik dat hulle voortgaan om planne te beraam om hul besighede te laat groei deur te belê. Diegene wat gaan water trap, se pro- bleem wag in die toekoms. ’n Suksesvolle besigheid moet groei en voortdurend nuwe planne beraam.
Die derde faktor is die uitwerking van die groot droogte, wat in GRAFIEK 1 duidelik na vore kom. Die grafiek toon die landbou se ekonomiese groeikoers en die nasionale ekonomiese groeikoers.
Die laaste positiewe groeikoers in die landbou was in die vierde kwartaal van 2014 met 8,8%. Sedertdien daal dit reeds vir sewe agtereenvolgende kwartale, wat beteken die landbou is in ’n diep resessie. Dit is ’n diep inkrimping in die landbou se ekonomiese bydrae tot die ekonomie.
Die jongste kwartaal se syfer is -0,3% en na verwagting sal die groeikoers van die landbou eers teen die helfte van volgende jaar positief word.
Daarby moet ’n mens voeg dat in die derde kwartaal van verlede jaar (die jongste syfers) was die groeikoers in die fabriekswese en handel negatief. Dit is nie bemoedigend nie, want dit beteken dat produksie in die ekonomie nie groei nie.
EKONOMIESE KNYP
Die resultaat was dat Suid-Afrika se ekonomiese groeikoers in die derde kwartaal slegs 0,2% was, wat heelwat laer was as wat verwag is. Die grafieklyn toon ook dat die totale ekonomie op ’n kwartaalgrondslag sedert einde 2014 nie juis presteer nie, met die groeikoers wat net bo nul huiwer.
Dit is natuurlik een van die redes waarom werkloosheid toeneem. Dit is beslis ook een van die faktore wat kredietgraderingsagentskappe in ag neem met die beoordeling van die Suid-Afrikaanse ekonomie en veral of daar nuwe beleidsinisiatiewe is wat daartoe kan lei dat die ekonomie sal groei.
Hoewel produksie in die ekonomie nie juis groei nie, groei die verbruikskant van die ekonomie steeds, soos GRAFIEK 2 aantoon. Besteding deur die private sektor en die staat groei vinniger as inflasie en dit is wat eintlik die ekonomie aan die gang hou.
Dit beteken doodgewoon Suid-Afrikaners