SEE-YS WAPPER BLOEDROOI WEER-VLAG
“Dit lyk asof die Arktiese Oseaan vergeet het dit is veronderstel om nou toe te ys,” het die bekende klimaatskrywer Robert Henson begin November getwiet.
Dié oseaan se ysbedekking word as die “oupa van klimaat-aanwysers” beskryf, en vanjaar het die vreemde gedrag daarvan wetenskaplikes van voor af bekommerd gelaat oor die werklike omvang van aardverwarming. Pleks dat see-ys die wateroppervlak vervang en uitdy, soos jaarliks gebeur sodra die son vir die poolse winternag oor die Noordpool sak, het die toename in ys-groei van middel Oktober af skielik met ’n slakkegang begin verstadig, en die ysbedekking het in ’n stadium selfs ietwat ingekrimp, die donker nag ten spyt.
Teen einde Oktober was groot dele gebruiklike ys in seë noord van Alaska en bokant Rusland net eenvoudig weg.
Dít is nadat temperature in die Arktiese gebied verlede Desember reeds buitengewoon hoog vir dié tyd van die jaar was.
Wetenskaplikes skryf die verstadiging in ysgroei nou aan buitengewone hitte in sowel die oseane as die atmosfeer bo die wateroppervlak toe.
Teen einde Oktober het dit gelyk of die totale see-ysgebied in die Arktiese Oseaan ongeveer 965 000 vierkante myl minder as die Oktober-gemiddelde was, en 232 000 vierkante myl onder die vorige rekord-laagtepunt, het dr. Ted Scambos, ’n senior wetenskaplike van Amerika se nasionale datasentrum vir sneeu en ys (NSIDC), berig. Die 965 000 vierkante myl is soortgelyk aan ’n gebied effens groter as die hele oostelike helfte van Amerika, en die 232 000 vierkante myl rofweg so groot soos die deelstaat Texas.
Bekommerde klimaatkundiges waarsku dat hierdie vreemde traagheid in die jaarlikse herstel van die aarde se bevrore noordelike poolkap net nóg ’n bewysstuk is dat aardbewoners vanjaar ’n heel nuwe vlak bereik het