Wurms en tee ’n wenkombinasie
Die Oos-Vrystaatse Sesesonki-boerdery buite Harrismith kikker sy landbougrond en kontantgewasse op met duisende liter vermikompostee wat op die plaas gebrou word.
Mnr. David Leslie en sy seun, James, het ver gevorder sedert David jare gelede met erdwurmboerdery en die brou van kompostee begin eksperimenteer het. Hulle brou jaarliks sowat 300 000 liter vermitee met 1 000 ton erdwurmmis.
Gewasse, soos aartappels, koring, mielies, sojabone, droëbone en sonneblomme, op sowat 3 000 ha vind baat by die spuittoedienings. ’n Lappie aartappels, wat per ongeluk ’n lae dosis glifosaat gekry het, is van ’n klaarblyklike misoes gered. Ná ’n vyf week lange toediening het die plante herstel. Uiteindelik was dié stuk se opbrengs hoër as die omliggende dele van die land.
VERSKANS JOU TEEN BOERDERY-RISIKO’S
Dis egter veral die plante se Brix-tellings wat die hoogte inskiet ná ’n teetoediening, waarskynlik die rede waarom beeste en skape in een van hul proefnemings op ’n groenvoerland merkbaar eerder die stroke afgewei het wat met wurmtee bespuit was.
David meen sy groot deurbraak met die erdwurmboerdery (met Eisenia fetida), was toe hy in kompos-windrye met die wurms begin teel het, en nie meer in bakke nie. Nou kan die wurms ondergronds beweeg as toestande in die bolaag nie gunstig is nie, soos as dit te warm of te droog raak. “Dit maak die bestuursproses soveel meer prakties. In bakke herstel die wurms nie as jy ’n fout maak nie.” Mnr. David Leslie met die kompos wat hulle op die plaas vir hul erdwurmboerdery en vermitee-brouery maak.