Planne om Nguni in Karoo te red
Vir boere rondom Graaff-Reinet is die vrugbare Nguni die beste aangepas vir hul marginale gebied. Eintlik is dit kleinveegebied, maar roofdiere het die boere in die gebied met geen keuse gelaat as om deels na beeste oor te slaan nie.
Weens prysdiskriminasie lyk die toekoms egter duister: Party boere meen daar sal binnekort net 10% van die ras in die distrik oor wees. Die vrugbaarheid van die beeste kan net tot op ’n punt vergoed vir die laer pryse.
Nguni’s aard die beste in die Voor-Sneeuberg waar die weiveld suur en die terrein steil en rof is, sê mnr. Julian Murray van die plaas Bloemhof naby Graaff-Reinet. “Die Nguni pas uitstekend aan en ons het nog nooit ervaar dat ’n bul te sag vir die omgewing is nie.”
Ook mnr. Kevin Watermeyer, ’n vyfdegeslag-Karooboer van die plaas Zuurplaats naby Nieu-Bethesda, glo in die Nguni vanweë die ras se vrugbaarheid. “Vrugbaarheid tel ‘vyf keer meer’ om winsgewendheid te bepaal as enige ander kenmerk.”
Prysdiskriminasie teen Nguni-voerkraalkalwers vreet egter boere se wins – in party gevalle tot R5/kg minder vir Nguni-speenkalwers as vir dié van Europese rasse.
Julian erken dis absurd, maar in ’n poging om winsgewend te bly, het hy ingegee oor “onredelike seleksiekriteria” en twee swart Angusbulle aangeskaf om meer eenvormige swart poenskopkalwers te probeer teel. “Ons vermom net die Nguni! Ons selekteer derhalwe nou vir kleur, wat teen alle logika indruis.”
Julian is bekommerd dat kruisteling weens ingewikkelde kuddebestuur ’n verlies aan genetiese eienskappe gaan meeis