Vernuwing nodig vir rooivleisbedryf
’n Nuwe, gesamentlike benadering is nodig om rooivleis se status as topproduk te herstel. ’n Beter gradering vir Suid-Afrika se gesondheidstatus is nodig, maar ook beter bemarking en navorsing om ’n uitvoermark vir hoëwaardesnitte te vestig.
Suid-Afrika se beesvleispryse vergelyk goed met dié in Indië en Pakistan, wat geen klassifikasie- of graderingstelsel het nie. Amerikaanse, Britse en Australiese vleisbeesboere kry egter dubbel die prys wat Suid-Afrikaanse boere kry, hoewel Suid-Afrika ’n goeie, bemarkbare en higiëniese produk het wat toppryse behoort te behaal.
Die waarde van Suid-Afrikaanse rooivleis kan verhoog word deur ’n uitvoermark vir hoëwaardesnitte te vestig, die land se gesondheidstatus te verbeter en ’n naspeurbaarheidstelsel in te stel, en om genoeg in navorsing en ontwikkeling te belê.
Suid-Afrikaners koop meer hoendervleis as bees-, skaap- en varkvleis tesame. In Australië het Meat Standard Australia (MSA) dit reggekry om die afname in beesvleisverbruik om te keer met ’n graderingstelsel wat aan plaaslike en internasionale verbruikers ’n sagte, sappige en geurige produk gewaarborg het. Dit het beesvleis uit die kommoditeitsmark gehaal en na ’n nismark met ’n hoër waarde laat beweeg.
Vir toegang tot die hoëwaarde-uitvoermarkte sal Suid-Afrika onder meer ’n erkende en internasionaal geloofwaardige naspeurstelsel moet instel.
Dis belangrik om as bedryf saam te werk en Suid-Afrika se rooivleis kollektief te bemark. Namibië en Botswana bemark byvoorbeeld hul rooivleis as “skoon” en omgewingsvriendelik, Amerika plaas die klem op marmering en Australië bemark sy MSA-stelsel.
Suid-Afrikaanse rooivleis kan op dieselfde manier bemark word as wyn – ’n produk met ’n hoë waarde wat net so goed is soos enigiets ter wêreld, en boonop teen ’n mededingende prys.