Kultivarnorme kos koringboere R920m. per jaar
Navorsing toon streng vereistes vir die beskikbaarstelling van nuwe koringkultivars veroorsaak dat boere se graanopbrengs 12,8% tot 19% laer is. Dit kan boerdery-inkomste met R600 miljoen tot R920 miljoen per jaar benadeel.
Die gestelde vereistes vir plaaslike koringkultivars is hoër as die gehalte wat in die mark gebruik word, wat beteken dat boere onnodig gepenaliseer word met laer pryse en opbrengste. Koringkopers word egter bevoordeel deurdat die hoër gehalte teen die laagste internasionale pryse (invoerpariteitsprys) beskikbaar is, het dr. Johnny van der Merwe, ’n dosent in landbou-ekonomie aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, in sy doktorale studie oor koringgehalte bevind.
Ingevoerde koring, wat die plaaslike graad B1-prys bepaal, hoef nie aan die streng gehaltevereistes te voldoen wat deur die tegniese navorsingskomitee van die Wintergraantrust aan plaaslike koringkultivars voorgeskryf word nie.
Aangesien daar ’n negatiewe korrelasie tussen koringgehalte en die opbrengspotensiaal van koring is, beteken dit dat die hoë gehaltevereistes wat vir plaaslike koring gestel word, die opbrengs van plaaslike boere nadelig raak.
Hy het ook bevestig dat daar tans kultivars bestaan wat aan die verbruiker se gehaltevereistes voldoen, maar opbrengste van 12,8% tot 19% hoër kan behaal. Dis ongelukkig nie op die goedgekeurde lys wat deur bakkers en meulenaars aanvaar word nie. As ’n boer nie ’n goedgekeurde kultivar verbou nie, kry hy nie ’n mark vir sy produk nie. Mnre. André Brink (links) en sy seun Rennie glo daaraan om net soveel kanola te plant as wat hulle in sewe dae kan platsny.