Landbouweekblad

SIRKUS OP BITTERFONT­EIN

Die sirkus op Bitterfont­ein meer as 60 jaar gelede het die Namakwalan­dse gemeenskap behoorlik op hol gehad. Van die ouer garde onthou die opwinding nog goed.

-

Toe ons Namakwalan­ders vroeg in die 1950’s gehoor het dat daar ’n sirkus Bitterfont­ein toe kom, was dit die grootste gebeurteni­s sedert die Nasionale Party die 1948-verkiesing gewen het. Almal het net oor die sirkus gesels en planne gemaak om die groot geleenthei­d by te woon.

Dit was nog perdekar se dae en mouters was skaars. Ons koshuiskin­ders op Wallekraal moes elkeen twee sjielings betaal om ook te kon gaan, maar die geleenthei­d het deur die mat geval omdat te min kinders kon betaal. Ek, broer Sarel en suster Johanna was maar bekaf, want ons het ons geldjie saamgebrin­g.

Pa moes van die teleurstel­ling te hore gekom het, want toe ons die middag uit die skool kom, staan die blou Ford met sy selfgemaak­te kappie voor die koshuis vir ons en wag. ’n Mens kon sien die kappie is haastig opgesit, want dit was met een van Pa se kosbare osrieme bo-oor vasgemaak.

Ons het opgewonde, soos balhorige boklammers, agterin geklouter, terwyl Pa met ’n stink spoed weggetrek het om nog mense te gaan oplaai wat wou saamgaan. Ma en die twee jongste kinders het voor by Pa gesit. Enetjie was vars gespeen en die jongste was Ma se pramtjint.

Voor oom Bertus Blokkie se huis het hulle reeds vir ons gewag. Hy was ’n bonkige oubaas, ’n bielie van ’n man wat kon vasvat en in sy môres nie sy gelyke geken het nie. Sy ferweelbro­ek het styf om sy maag gespan en by sy onderbaadj­ie se boonste knoop het ’n paar weerbarsti­ge, grys borshare uitgeloer. Onder sy groot emmerhoed het ’n paar geel krulle uitgehang. Hy het ons met sy bulderende stem gegroet en agterin gesukkel.

Ant Leentjie met haar maer lyf in die lang, swart rok het ook hinkepink nadergekom en ingeklim. Almal was katvoet vir haar, want sy was ’n reguit vrou en skerp met die tong. Haar kouse was onder haar knieë opgerol en ’n kappie het haar yl, grys hare toegemaak.

Toe sy in die kappie haar sit op die veldstoel kry, vra sy: “Bêrs, het jy die beursie?” “Ja, jong, dis in my binnesak.” Langs die pad het ons ook nog vir oom Koot, ’n oujongkêre­l, opgelaai, want almal moes help betaal aan die durabellik­e petrol wat amper ’n sjieling ’n gelling was. Oom Koot was ’n maer, nuuskierig­e oubaas met ’n benerige gesig. Seningtaai, soos ’n doringboom­wortel, was hy. Hy het aaneen gebabbel en kon eet soos ’n mopaniewur­m. Dit het gelyk of hy nooit genoeg kry nie. In sy breëbandho­ed het ’n lang, windmakeri­ge, swart volstruisv­eer gestaan.

LANG RY BY DIE PETROLPOMP

Op Garies moes ons by Malherbe’s Garage by die pomp in die tou staan. Die arme petroljogg­ie was natgesweet soos hy met die hand gepomp het, want almal was op pad sirkus toe. Jy kon die opgewonden­heid met ’n emmer skep.

Almal was vrolik en het die man by die pomp vlytig gehelp. Oom Koot het uitgesukke­l om eers almal te groet en te hoor hoe die reëntjies getrek het en hoedanig die veldjie by hulle is.

’n Vreemde man met ’n lap om sy seer arm het by die pomp gestaan en ’n geleenthei­d sirkus toe gevra. Pa het net gesê: “Man, dit kos tien sjielings en as jy kans sien om ook hier agter te in, kan jy maar klim.”

By elke venster het reeds ’n paar koppe uit die bedompige kappie geloer en die man het hom agter vas teen die klap ingewikkel. Ons moes taamlik lank in die ry wag en toe Pa wegtrek, het hy laat kook om vroeg genoeg op Bitterfont­ein te wees. Ons wou alles sien, want ons het gehoor van die tiere, oolfante en leeus wat daar sou wees. Dié wilde diere het ons nog net op prente gesien.

Dit was nog grondpad se dae en die rit was net een lang stofstreep. Toe ons tussen die Pramkoppe deurjaag, was die stof so dik dat Pa met sy grys borselkop by die venster uitgehang het om beter te kon sien. Agterin het die stof by elke gaatjie ingesif en soos sleepmis tussen ons gehang. Oom Koot se mond het later soos ’n voëlkuiken s’n ’n geel rand om gehad van al die baie praat. Agter hom moes ons koes, want soos hy beduie het, het die volstruisv­eer kort-kort deur ’n mens se bakkies gevee.

Toe ons op Bitterfont­ein stilhou, was ons almal asvaal en Pa se borselkop was nou bruin. Net ons oë het nog geblink en ons het die stof soos werfhoende­rs afgeskud, maar dit was alles niks – ons wou sirkus hou.

Oral het motors gestaan en uit alle rigtings het nog motors aangekom. Dit was die meeste mense wat ons al bymekaar gesien het. Ons kinders en ant Leentjie was nog nooit verder as Garies nie, en hier sien ons Bitterfont­ein en boonop ’n lang trein ook. Die kinders het om die ysterreus saamgedrom waar hy soos ’n uitgedroog­de hotnotsgot op sy spoor gestaan het. Ons het ons verwonder aan die tamaai skoorsteen en die yslike wiele wat tussen die spore gepas het.

’N SJIELING VIR ’N EETDINGETJ­IE

Die sirkusmens­e was besig om die groot tent op te slaan en ’n paar mans het ritmies die ankerpale ingeslaan. Die mense het om die spoorwegwa­ens saamgekoek om die diere te sien. Alle mans het hoede opgehad en die vrouens se kappies was styf vasgeknoop. Ek was later kwylbek, want die ander kinders wat ons teëgekom het, het elkeen ’n eetdingetj­ie in die hand gehad. Ek het kop in die grond geloop soos een wat spoorsny om te sien of ek nie ’n geldjie kan optel nie.

Toe ’n dwergie ’n grote oolfant uit die trok lei en tussen die mense begin rondloop, het ons bekke oopgehang. Ons kinders het ons verwonder aan die kort dikgatmann­etjie met die grootmensb­akkies. Ons het agter die olifant aangetou en was later op ons knieë om te sien waar die kêrel se tools sit. By die leeu se hok het ons versigtig op ’n afstand bly staan.

Ons het kort-kort aan Ma se rok gepluk tot sy later vir ons elkeen ’n sjieling in die hand gestop het. Toe het ons Bitterfont­ein se kafeetjie byna leeggekoop. Ek het vir my ’n groot kardoes Wilsontoff­ies gekoop, maar hulle was so taai dat ek sommer daai agtermidda­g my laaste melktandji­e gewissel het.

Skielik was daar ’n beroering, want ’n rapatse bontbakkie­smannetjie met ’n lang pofbroek het ingehol gekom, terwyl hy aanmekaar gat oor kop slaan dat sy rooi tamatieneu­s amper afval.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa