Boere moet eie plek in waardeketting vind – Croucamp
BOERE moet ophou om, “soos myners”, net kommoditeite te lewer, maar eerder hul plek in die waardeketting behoorlik identifiseer en benut. Hulle moenie toelaat dat hul bemarkingsvermoë deur ’n kettingwinkelgroep of slagplaas bepaal word nie.
Dr. Piet Croucamp, politieke wetenskaplike en ook ’n Dormer-boer van Gauteng, het op die landboudag op die Hamlet-kuns-en-kultuurfees op Prince Alfred Hamlet boere aangeraai om doeltreffendheid hul wagwoord te maak.
“As ek net ’n stuk vleis produseer en vir die kettingwinkel gee om waarde daaraan toe te voeg, verloor ek die bemarking van my produk. Ek laat toe dat my produk ’n kommoditeit bly,” het hy gesê en Karoolam uitgesonder as ’n landbouproduk “met identiteit”.
Boere moet eerstens anders oor hulself begin dink en hulself eerder as primêre produsente sien as mense wat “genadegawes” uitdeel. Hulle moet ook verbruikers goed leer verstaan en gereed maak vir hul veranderende behoeftes.
“Hoekom moet ’n boer bedank word vir die kos wat hy lewer? Dit skep ’n wanindruk oor waar ’n boer in die ekonomie pas. Jy dink nie mededingend oor jou produk as jy die rol vervul van ’n moreel superieure wese wat genadegawes versprei nie. ’n Boer moet aanpasbaar wees en voorsien waarheen ’n verbruiker gaan en seker maak sy produk word gekoop.”
GEEN GOEDKOOP ARBEID
Volgens Croucamp geld dit ook vir ander verhoudings in die landbou. “Daar moenie ’n ding soos goedkoop arbeid wees nie. Jy moet net mense in diens neem wat waarde toevoeg. Jy moet die dag vrees wanneer hulle jou plaas gaan verlaat.”
Volgens hom is “megaboere” doeltreffende produsente wat ’n nisfunksie in die mark vervul. Hierdie doeltreffendheid gaan hand aan hand met tegnologie, wat uiteindelik produktiwiteit beïnvloed en waarde gee aan sosiale verhoudings op plase, sê Croucamp. Hy meen grond sal oor sowat 15 jaar nie meer ’n politieke speelbal kan wees nie. “Die prentjie is besig om te verander. Grond raak ’n kommoditeit wat hoogs verhandelbaar is. Baie boere besit net 30% tot 40% van die grond waarop hulle boer. Die res huur hulle.” –
BEESKENNERS PRAAT OP BRAFORD-DAG
SA Braford het ’n inligtingsdag op die plaas Ararat van mnre. Johan en Michael-John Greyling van Dordecht gehou. Links is mnr. Johan Greyling en regs is mnr. Van Aardt Greyling. Tussen hulle is die sprekers, van links, me. Charlotte Schutte, voorsitter van SA Braford, mnr. Gerrit van Zyl, ’n boer van Dewetsdorp en al drie keer ’n finalis in die Vleisbeesteler van die Jaar-kompetisie, en dr. Japie van der Westhuizen van SA Stamboek. Meer as 100 boere het die dag bygewoon. Die nuwe raad van SA Stamboek wat op die jaarvergadering in Bloemfontein aangewys is, is, van links, dr. Pierre van Rooyen (hoofbestuurder), mnre. Duncan Serapelwane, Whellan Simkin (ondervoorsitter), Michiel Burger, Freddie Wasserfall (voorsitter), P.W. van Heerden (nuut verkose lid in die plek van Wicus Kruger wat nie herverkiesbaar was nie), dr. Johan Jooste en mnr. Carel Nel (tesourier). Afwesig: Mnr. Christopher Melamu. TWEE leerders van landbouskole in die Wes-Kaap is die eerste ontvangers van beurse wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) aan akademiese uitblinkers van landbouskole beskikbaar gestel is. Matthys Basson van die Hoër Landbouskool Boland naby die Paarl en Nicolaas Basson van die Hoër Landbouskool Oakdale by Riversdal is die topstudente van hul onderskeie skole wat aanstaande jaar ’n landbouverwante studierigting aan die US gaan volg. Die beurse van sowat R40 000 elk sal hul klasgeld dek. “Ons wens hulle sterkte toe met hul studies en hoop dat hulle in die toekoms ook binne die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap hul stempel sal afdruk,” sê prof. Danie Brink, waarnemende dekaan van die fakulteit agriwetenskappe. Die beurse is moontlik gemaak deur die dekaanfonds wat sowat sewe jaar gelede gestig is om ekstra finansiële ondersteuning aan studente en voornemende studente te gee.