DIE DILEMMA BY DIE PLAASHEK
Die verkoop van hoogs bederfbare kommoditeite, soos groente, word met sekere werklikhede geassosieer. Een daarvan is onbuigsame prysbepaling. Dit beteken die prys moet aansienlik meer wissel om die balans tussen vraag en aanbod in so ’n mark te herstel. In ’n tipiese jaarlikse siklus sal daar dus groot prysskommelings wees.
’n Reaksie daarop kan wees om onbuigsaamheid as nadelig vir die stabiliteit van die aanbodketting te beskou. Baie mense meen ’n boer sal bevoordeel word as hy sy produkte se pryse vasmaak en sy lojaliteit aan ’n koper toesê. Dit beteken die boer moet ’n termynkontrak met ’n verskaffer beding deur die prys én die volume vir die termyn te waarborg. Die ander standpunt is dat ’n boer in dié onbuigsame wêreld net op die kontantmark moet handel dryf. Dit wil sê hy verkoop elke dag ál sy produkte teen die heersende vryemarkprys.
PRYS X OPBRENGS = INKOMSTE
Wanneer ’n boer sy oes ingesamel het, moet hy ’n transaksie by die plaashek beklink. Hy benader dit met net een doel — om sy inkomste te optimaliseer. ’n Boer verstaan dat sy koste per hektaar voorspelbaar is, maar sy opbrengs nie. ’n Boer verdien dus inkomste per hektaar gegrond op die volgende: Prys x opbrengs = inkomste.
Indien die boer aan die prys vasklou en net die helfte van sy oes verkoop sodat die res teruggeploeg kan word, het ’n hoër prys teen hom gewerk in die optimalisering van sy inkomste. Sou sy opbrengs weens ongunstige weerstoestande laag wees, is sy enigste oplossing om dié krisis af te weer om sy produkte teen ’n hoër prys te verkoop.
In ’n vrye mark is prys en oesopbrengs natuurlike “skokbrekers” omdat die een altyd ’n teenwig vir die ander is. As die opbrengs swak is, is die prys hoog, en as die opbrengs goed is, is die prys laag.
Gegewe die omstandighede sal die vrye mark altyd die boer se inkomste optimaliseer. Die optimalisering van die boer se inkomste het egter niks met sy produksiekoste per hektaar te make nie.
Die boer verwag die koper sal dié bietjie logika verstaan wanneer hulle by die plaashek onderhandel. Die koper verwerp egter hierdie benadering. Die aanklag is dat wisselvallige pryse ontwrigtend en teenproduktief is om doeltreffendheid in die verskaffingsketting te verseker. Die koper verwag ’n termynkontrak, en die boer verwag hulle moet met kontantpryse handel dryf. Dit is ’n netelige kwessie.
WAT IS LOGIES?
Hoekom kan die koper nie hierdie eenvoudige logika insien nie? Die antwoord is ingewikkeld.
Eerstens, termynmarkte kan net in ’n kopersmark oorleef. (’n Kopersmark is wanneer die koper uit verskeie verskaffers kan kies en dus ’n voordeel het.) Sedert die Tweede Wêreldoorlog het voedselproduksie danksy die snelle vooruitgang in landbou tegnologie meestal die vraag na voedsel verbygesteek. Die wêreld het nou byna 70 jaar van goeie kos voorrade beleef. Die verskaffings ketting word ook deur ál minder rolspelers beheer. Dié twee faktore het die opvattings versterk van diegene wat aandring op termynmark kontrakte in die wêreld van onbuigsame, bederfbare kommoditeite.
Tweedens, die institusionele geheue van groot maatskappye in die verskaffings ketting is gevorm in’ n wêreld van kruideniersware en nie-bederfbare goedere. In dié wêreld funksioneer die verskaffer se produksiekoste per artikel en die prysmarge baie goed. Albei is prysgedrewe en dus marge-gedrewe. In dié wêreld skryf die institusionele geheue voor dat toekomstige kontraktuele verpligtinge goed vir die koper én die verkoper sal werk en dat hulle maklik raakpunte sal vind. Dit is dié institusionele geheue wat gewoon oorgeplaas is na die onbuigsame wêreld van vars produkte.
Derdens, in die veerkragtige wêreld van nie-bederfbare goedere kom die skokke van die vraagkant. Tydens ’n resessie koop mense minder en die verwagte verkoopsteikens word nie behaal nie. In die onelastiese wêreld van bederfbare produkte kom die skokke weer altyd van die aanbodkant. Dit is wanneer die weer ongunstig of gunstig is en die voorrade onderskeidelik opdroog of die mark oorstroom. Daar is ’n deurlopende vraag na kos, gegewe die feit dat ons elke dag moet eet. Die termynmarkmodel sal altyd misluk waar verskaffings kettings aan voorraad skokke onderwerp is. Aan die een kant sal daar geen produkte op die rakke wees nie, en aan die ander kant sal produkte op die rakke verrot omdat die prys te hoog is.
TEN SLOTTE
In ’n wêreld met onstabiele weer is dit dwaas om aan te neem ’n kopersmark vir vars produkte sal bly voortbestaan. Die terugkeer van ’n verkopersmark is waarskynliker. Dit beteken termynmarkte gaan hul glans vir sowel die boer as die koper verloor. Waar hierdie institusionele geheue verskans is, gaan maatskappye daaronder ly.
Boere wat in kontant handel dryf in die tye van onvoorspelbare weer, gaan die beste kans op oorlewing hê. — VITO RUGANI
Mnr. Vito Rugani van Greenway Farms by Tarlton is bekend as Suid-Afrika se wortelkoning. Sy boerdery lewer ongeveer 40% van ál die geelwortels op Suid-Afrikaanse varsproduktemarkte.
Chris Burgess is tans met sabbatsverlof en sal weer in Maart sy rubriek hervat.