DAAR KOM ’NTYD...
’n Liefde vir my land en landgenote en wat ek hoop as ’n sin vir menslikheid beskryf kan word, motiveer en inspireer my om die suiwelsektor te transformeer en te hervorm. Vanuit hierdie posisie kyk ek na die donkerte anderkant die afgrond. Die gebrek aan leierskap, optrede en begrip waarmee ons samelewing deurtrek is, walg my.
Verder word ek ook verontrus wanneer ek die toksiese narsissisme sien wat klaarblyklik van so ’n breë spektrum mense besit geneem het. Ek noem dit die wat-kan-ek-daaruit-kry?-sindroom. Dit is ’n siekte wat die hart van Suid-Afrika binnegedring het en waarmee ’n mens gekonfontreer word as jy ernstige sake probeer oplos.
Ons het ’n Regering wat blykbaar toenemend onontvanklik is vir die behoeftes van die mense wat hy veronderstel is om te dien. Maar ons woon ook in ’n land met hope krag in sy mensekapitaal.
Suid-Afrika het enorme intellektuele kapitaal. Ons het begaafde, pragmatiese akademici met die nodige talente en bevoegdhede om volhoubare ekonomiese geleenthede te skep. Dit is ’n hulpbron wat wag, eintlik smeek, om ontsluit te word om hierdie proses te begin. Maar gekniehalter deur selfbelang, selfbeheptheid en pure hebsug, ignoreer baie van ons die oproep om tot aksie oor te gaan.
Die Nasionale Ontwikkelingsplan is wyd aanvaar as die bloudruk vir doeltreffende hervorming en oorgang op die gebied van landboutransformasie, die gebied waarop ek werk. Hierdie meesterplan vir Suid-Afrika is geskep deur toegewyde, bevoegde mense wat ekonomiese groei, praktiese grondhervorming, werkskepping en ’n inklusiewe landelike ekonomie as grondslag gebruik het vir ’n suksesvolle, beduidende verandering.
Maar pleks daarvan om ’n daadwerklike veldtog te voer om die Ontwikkelingsplan toe te pas, het die Regering aanhou uitstel. Nog erger, hy het ’n paar uitsluitende, ideologiese projekte van stapel gestuur wat net kon misluk, soos ons inderdaad gesien het. Die Regering se patetiese mislukking om die Ontwikkelingsplan doeltreffend toe pas, is simptomaties van ons land se tragiese toestand.
HONGER VIR GROND Die staat se obsessie om tot elke prys grond te bekom, het SuidAfrika beroof van ’n geleentheid om ’n welvarende klas swart boere te skep. Dit is niks nuuts nie; dit het ook tydens apartheid gebeur. Terwyl die geskiedenis homself dus herhaal met ’n ietwat groteske bespotting van die reg, is dit steeds nie vir jong swart boere moontlik om grond te besit nie.
Dit is ’n onvervreembare waarheid dat landelike gemeenskappe grond nodig het. Ons kan en behoort nie van daardie waarheid te probeer ontsnap nie. Maar ons moet bevraagteken hoe daardie grond gebruik, bestuur, bewaar en bewerk word.
Dit is ook waar dat daar duisende hektaar grond met ’n baie hoë besproeiingspotensiaal in die voormalige tuislandgebiede van die Oos-Kaap in onbruik lê en net wag om herontwikkel te word vir produktiewe boerdery. Die voormalige Transkei kry van Suid-Afrika se hoogste reënval, het van die grootste volumes onontginde water en van die beste landbougrond. Hierdie grond is egter vinnig besig om ongeskik vir die landbou te raak, met onbeplande nedersettings wat al hoe meer in die gebied tot stand kom.
Die beloftes om wetgewing te verander om die potensiaal van kommunale grond te ontsluit, moet nog ’n werklikheid word. Teen hierdie agtergrond raak die bedreiging van onteiening ál groter.
Betekenislose beloftes en ’n bietjie retoriek, ongeag hoe opruiend, sal nooit armoede stuit of werk skep nie. Ons het nóú ernstige voornemens nodig wat deur ernstige dade gevolg word. Wanneer die mense in Suid-Afrika saamstaan en wegbeweeg van ’n pratery en eerder begin doen en optree, kan ons begin om ’n inklusiewe ekonomie te bou, een waarin die moontlikheid om ’n werk te kry, nie net ’n onbereikbare droom is nie.
Die huidige ekonomie in die Oos-Kaap moet verdubbel om voorsiening te maak vir die werkloses. Dit beteken daar moet ’n 100% styging in elke sektor wees. Teen die huidige pas sal ons egter die ekonomie moet verdrievoudig om ’n verskil te maak.
Hoe hoog en sterk moet die mure en veiligheidsheinings om die bevoorregtes nóg word? Mure en heinings is geen gewaarborgde buffer teen die desperaatheid van mense wat honger en kwaad is nie. En dit kan gevaarlik wees om te kyk hoe ver mense wat geen toekoms het nie en niks het om te verloor nie, gedryf kan word.
Suid-Afrika het ’n veranderende tsoenami nodig, ’n golf wat deur die wurggreep kan breek en beter houdings, sterk en doeltreffende leiers en hernude ekonomiese aktiwiteit na die oppervlak kan bring. Gemeenskappe, die sakewêreld, akademici en die Regering moet ook op produktiwiteit begin klem lê. Dit is nie iemand anders se probleem nie. Dit is jóú probleem. Ek doen ’n beroep op elke SuidAfrikaner om nou op te tree en daadwerklik moue op te rol om ’n doeltreffender, ekonomies sterk samelewing te help bou; ’n samelewing wat goed sal wees vir ál sy mense. — JEFF EVERY
Mnr. Jeff Every is ’n landboukundige van die Oos-Kaap en uitvoerende hoof van die konsultantonderneming Amadlelo Agri.
Chris Burgess is tans met sabbatsverlof en sal weer in Maart sy rubriek hervat.