Die Suid-Afrikaanse Regering se voorgestelde grondplafonne is in stryd met die internasionale neiging van groter wordende plase.
Die beleidsdebat oor plaasgroottes en grondplafonne gaan vanjaar voortduur, terwyl baie boere hulself afvra waar om hulself te posisioneer, veral ná die impak van die groot droogte van die afgelope paar jaar. Die droogte het baie middelslag- en kleiner boerderye finansieel erg geknou, en die nadelige uitwerking daarvan gaan nog in die volgende paar jaar op die platteland gesien word. Talle boere het doodgewoon ál hul reserwes uitgeput om aan die gang te bly, en die finansiële herstelproses gaan moeilik en lank wees.
Daar is moeilike opsies wat oorweeg moet word vir die pad vorentoe. Die besluit oor om die boerdery te verander of selfs die grond te verkoop, word bemoeilik deur die uitwerking van kapitaalwinsbelasting. Vir baie boere is die las van kapitaalwinsbelasting net te groot. Indien ’n mens die algemene reël sou volg wat tans vir baie boere geld, naamlik dat kapitaalwinsbelsting sowat ’n derde van die grond se waarde gaan wegvat, laat dit bitter min kapitaal oor as die skuldlas 30% tot 40% is. Dan moet jy nog vee en werktuie vir inkomstebelasting byvoeg. Baie boere se skuldlas het heelwat gestyg in die afgelope paar jaar.
In Amerika en Australië is dié debat ook aan die gang. Daar is ook kommer daaroor dat die meeste boere ouer as 60 jaar is. Heelwat word gedoen om maniere te vind om familieboerderye te laat voortbestaan en hoe die oorgang van die ouer geslag na die nuwe geslag toetreders gedoen moet word. Daar word egter aanvaar dat kommersiële boerderye al hoe groter gaan word om die voordele van skaalekonomie te benut. Dáár is nie juis ’n debat oor hoe groot boerderye moet wees en dat groter boerderye kwansuis sleg is nie.
’n Neiging in dié lande is ook dat beleggers van buite die landbou in boerderye belê, want dit gee hulle ’n goeie opbrengs op hul kapitaal. In dié lande is die rente-opbrengs op geld in die bank sowat 1% tot 2%. In groot kommersiële boerderye kan beleggers dus ’n beter opbrengs op hul belegging kry, veral waar hulle ook voordeel trek uit die styging in grondwaarde. Meestal beteken dit ook dat die skuldlas en rentebetalings van die boerdery heelwat daal. KORTOM
■ Boere sal moeilike besluite oor die struktuur van hul boerdery moet neem, veral in die lig van die debat oor grondplafonne. ■ Daar is ander suksesvolle boerderymodelle wat behels dat die boer nie noodwendig die (alleen)eienaar van die grond hoef te wees nie. ■ Dit is ’n wêreldwye neiging dat boerderye al hoe groter word. Daarom maak beperkings op plaasgroottes nie sin nie.
In Suid-Afrika begin dié neiging ook by groter boerdery-eenhede posvat. Daar is voorbeelde in die melkbedryf waar drie partye betrokke raak by uitbreidings. Een voorsien die grond, die tweede een die koeie en die derde een die kapitaalbelegging en kontant vir likiditeit. Skynbaar werk dié model heel goed. Natuurlik is die voorwaarde dat skaalekonomie die opbrengs gee.
Ook in die uitvoervrugte- en wynbedryf is daar al hoe meer gevalle waar selfs meer as een belegger deel van die boerdery word, met ’n boer, wat een van die grondeienaars kan wees, wat dan die boerdery volgens begrotings bestuur. Dit bring ook ander dissiplines in, soos goeie oorsig oor die bestuur van die onderneming.
Een van die groot voordele is dat daar kapitaal is om in nuwe tegnologie te belê en dat die skuldlas van die boerdery heelwat laer is, wat winsgewendheid verhoog. Jy vind selfs
PLAASGROOTTES EN HUL BYDRAE TOT TOTALE LANDBOUPRODUKSIE IN AMERIKA dat waar boere ’n nuwe gesamentlike eenheid vorm, hulle die bestuurstake verdeel tussen dié wat betrokke wil bly. Dit is egter ’n moeilike model as daar nie goeie samewerking is en by begrotings gehou word nie.
Bogenoemde model is ook stadig maar seker besig om na die saaigebiede te versprei, waar buitebeleggers of bestuursmaatskappye die grond by die boer huur en dit dan bedryf met moderne toerusting en die regte tegnologie en produksie- en bemestingspraktyke om die opbrengs en winsgewendheid te verhoog. Die dilemma vir baie boere is dat hulle nie kapitaal het om te belê nie en dat hul skuldlas reeds hoog is. Met dié model word die grondeienaar dikwels ingespan om die boerdery te bestuur. Sy risiko’s is baie minder en hy ontvang huurgeld op sy grond. Dikwels is daar ook winsdeling ter sprake. Daarby strek die kontrakte gewoonlik oor ’n langer termyn.
Volgens boere verlig dié benadering hul finansiële posisie aansienlik, maar die grootste probleem is om te aanvaar dat jy ’n “bestuurder” op jou eie grond is en binne begrotings die onderneming moet bestuur en dat oorsigvergaderings gehou moet word. Die voordeel is egter dat jy jou grond behou en dit later weer self kan bedryf.
VSA-BOERDERYPROFIEL
Bogenoemde neiging is nie uniek aan Suid-Afrika nie. Die siening van kundiges is dat Suid-Afrika Amerikaanse neigings sowat 10 jaar later navolg. Amerika het baie statistieke oor die landbou en boerderye wat
Die beleid moet eerder wees om boerderye in die onderste kategorieë met ondersteunende beleid te help om na die boonste kategorieë op te beweeg.