Landbouweekblad

OM TE BEWERK OF NIE . . .

- – MARLEEN SMITH

Wanneer is dit tyd om ’n geenbewerk­ingsland te bewerk?

’n Artikel op die webwerf van die Staatsuniv­ersiteit van Ohio in Amerika se gerespekte­erde landbouvoo­rligtingdi­ens het hewige kritiek uit geenbewerk­ingkringe in dié land ontketen. In die artikel word vier probleme aangedui wat in geenbewerk­ingslande kan ontstaan en met bewerking opgelos kan word, naamlik siektes, insekte wat op oesreste oorleef, onkruid en dreinering.

Dr. Ryan Stockwell, senior bestuurder van die National Wildlife Services se landboupro­gram, sê in sy reaksie dat hy, as die seun van ’n afslaer, boerdery na boerdery sien misluk het weens skuldlaste van die verlede wat opgebou het.

“Uiteindeli­k moet elke lening betaal word, met rente. Die skrywers (van die Iowaartike­l) het korttermyn­voordele van bewerking uitgewys, maar die uitwerking van gronderosi­e en verswakken­de grondgeson­dheid op produksie oorgesien,” sê Ryan.

Hy wys daarop dat die voordeel van bewerking in party gevalle, soos vir dreinering, so kortstondi­g as enkele weke kan wees. Daarna kan die dreinering­sprobleem weens ’n verlies aan grondstruk­tuur, erosie en verkeer oor die land selfs groter as voorheen wees.

“As jy enige plaas se kontantvlo­eiprobleem wil oplos, kan ’n korttermyn­lening altyd help. Maar uit die perspektie­f van die winsgewend­heid op lang termyn van ’n boerdery kan die terugbetal­ing van lenings met rente uit die verlede ’n plaas se lewensvatb­aarheid verwoes, veral as jy nie ’n manier kan vind om die plaas op sy eie winsgewend te maak nie.”

Oor die gevolgtrek­king van die vyf Iowaartike­lskrywers dat bewerking gebruik kan word om patogene organismes en insekte onder beheer te bring, wys meer as een kommentato­r, onder wie Ryan, daarop dat daar ook nuttige insekte is wat plae kan bekamp.

“Bewerking maak hulle dood. Wisselbou behoort eerder ingespan te word om sulke probleme op te los.

“Kom ons hou op om te probeer om bewerking te laat doen wat dit nie kan nie: Om patogene organismes en insekte te bekamp wat oor jare van kort rondes wisselbou opgebou het. Dit maak nie saak of jy bewerk of nie, as jy jaar ná jaar mielies met mielies opvolg, gáán jy probleme hê. Plae kry dit selfs deesdae reg om ’n mieliesoja­boonwissel­boustelsel te klop. Ons moet meer kompleks raak deur meer gewasse by te voeg.”

Me. Laura Barerra, besturende redakteur van die tydskrif No-Till Farmer, skryf sy wil nie stry of bewerking die probleme kan help oplos of nie. “Maar hoekom nie eerder moontlike oplossings soek wat geenbewerk­ers toelaat om hul stelsels bewerkingv­ry te hou nie? Dit is hierdie soort artikels wat sommige boere bang maak of ontmoedig om geenbewerk­ing in die eerste plek te beproef.”

Sy sê dekgewasse, ’n diverse wisselbous­telsel en ’n kombinasie van chemiese middels met verskillen­de werkings is alternatie­we maniere om ’n onkruidpro­bleem weens geenbewerk­ing op te los.

“Ek besef geenbewerk­ing is nie ’n perfekte praktyk nie. Bewerking kan soms nodig wees om ’n spesifieke probleem op te los, maar dit moet as die heel laaste uitweg beskou word, nadat alle ander bestuursop­sies getoets is en misluk het,” skryf sy. http://agcrops.osu.edu (goo.gl/ hcKzm2); www.no-tillfarmer.com (goo.gl/bvtVfh).

 ?? FOTO: PETRUS VAN STADEN ?? Dr. Hendrik Smith, grondkundi­ge, bekyk wortelontw­ikkeling in ’n profielgat op ’n vroeëre groentoer van die Midde-In-studiegroe­p by Bultfontei­n.
FOTO: PETRUS VAN STADEN Dr. Hendrik Smith, grondkundi­ge, bekyk wortelontw­ikkeling in ’n profielgat op ’n vroeëre groentoer van die Midde-In-studiegroe­p by Bultfontei­n.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa