My onpaar velskoene
Meesterlik het sy vlymskerp mes egalig en ewe breed die riempies gesny. Ek het my neus opgetrek toe hy die stink rieme tussen sy lippe deurtrek om dit effe klam te maak vir die strykslag.
Hy het die een punt vasgebyt en tussen sy tande deur gepraat. “Trek die punt styf!” Hy het ’n afvalriempie twee maal om die naairiem gesit en toe heen-en-weergetrek tot hulle almal mooi rond was.
Ek moes eers vir hom ’n bietjie hand gee, want as hy gaan sit het, het hy almal om hom ge-order. Ek het hom met arendsoë dopgehou toe hy die sagte bokoorleer volgens skatting sny om op die sool vas te werk. Hy het die sool in die tuiebank se skroef vasgeknyp en toe die eerste gaatjie met die els deurgesteek. Dit was asof hy met homself praat toe hy die naairiempie se punt weer tussen sy lippe natmaak en tussen sy duim en voorvinger rol om deur die gaatjie te steek.
“Man, ek moet julle se voetgoed self maak, want kyk wat kos ou Apie se nuwe skoene – amper twee pond . . . My magtig, dis meer as ’n uitgegroeide kapater. Dis mos ’n gruwelike klomp geld.”
Tussen die werkery deur het hy vervolg:
“Ek wil hê, my kjind, julle moet julle se voetgoed oppas en hulle gereeld ’n vetjie smeer solat hulle langer vir jou hou. Ek sal hulle vir jou ’n bietjie ruim maak, want tjyk hoe het ek mit Sarel oorgekom? Lyk my hy groei net in sy twee voete, want sy voetgoed was binne ’n paar maande te klein.”
Ek is opgewonde met die lammers veld toe, want nou kon ek ook by die skool gaan spog met my nuwe skoene. Met my kierie het ek bedags uintjies gegrawe en al my voëlneste nageloop om te kyk hoe die kuikentjies gegroei het. In my sak het ek soggens broodkrummeltjies saamgedra en die groter kuikentjies gevoer as hulle hul geel bekkies wyd oopmaak. Soms het ek die fiskaal se groter eier in ’n nes ontdek en dit uitgehaal, want as hy uitbroei, is hy ’n bedreiging vir die kleiner kuikens. Ek het versigtig my hand in die klapklappienes gesteek om hul mooi, wit, gespikkelde eiertjies in my hand te bewonder.
Ek was altyd op soek na die suikerbekkie se nes, want dit is kunstig met die kapokbos se saad geweef. Dit het ’n klein ingang gehad en ook ’n plekkie waar die mannetjie snags waggehou het, terwyl sy wyfie hul pragtige, groen eiertjies uitgebroei het.
Die middag toe ek by die huis kom, moes ek kom aanpas. Die voorste gedeelte was klaar en Pa het tevrede my toontjies gevoel-voel en toe die agterste oorleer om my hakskene gevou en gesny. Hy het opgekyk en selfvoldaan gesê: “Vanaand ná bokwerktyd