‘VLIEËNDE’ RUITER DAREM TÉ WAAGHALSIG
Landbouweekblad se voorbladfoto( van 23-30 Desember 2016 het betrekking.
Wie was die trotsste? Annelize Breed, die “vlieënde ruiter”, of haar ma (en die fotograaf), mev. Adri Breed?
My kennis van fotografie is nul. Miskien verdien hierdie aksiefoto spesiale vermelding.
Ek sidder egter as ek dink aan die gevolge as die “vlieënde-ruiter” se perd sou struikel (die bande, soos op die foto gesien kan word, lê baie onstabiel op mekaar).
Dié prentjie het my laat terugdink aan ’n damestudent wat maar net veld toe gery het op haar geliefde perd. Niemand het daaraan gedink dat dit haar laaste perderit sou wees nie.
Alle veiligheidsreëls het een gemeenskaplike doel: Beveiliging. Kom ons gehoorsaam dit as ons in ’n voertuig ry, fietsry, op die water gaan, perdry of wat ook al. Dit is in elkeen se eie belang om hul veiligheid te respekteer, want slegte goed gebeur nie net met ander mense nie.
Daar sal sekerlik uiteenlopende kommentaar op die betrokke foto wees, maar kom ons kry ons perspektief reg en bly deurlopend realisties.
Prestasie, vertoon, roem en gewildheid is maar kortstondig en verdwyn soos mis voor die son. Daarteenoor het ’n trauma ’n onvoorspelbare rimpeleffek wat onder ons klere nesskrop en bly sit. Daarom het ek sommer saggies met myself gepraat en onder meer dankie gesê dat die jong meisie die fotosessie ongeskonde oorleef het. Maar hoe sal ons weet wanneer ons “beskermengel” nie aan diens is nie?
Party meisies is avontuurlik en/of waaghalsig en is in my kinderjare ’n tomboy of ’n wildewragtig genoem. Dit lyk of Annelize in dié kategorie val.
Geniet gerus jul perde, maar speel die spel volgens die reëls, asseblief. HERBIE MARAIS