70 JAAR GELEDE
Uit: Die Landbouweekblad, 5 Februarie 1947
BOERDERYPROBLEME IN BETSJOEANALAND
Wat boerdery in Betsjoeanaland (nou Botswana) betref, is die groot vraag watter rigting ingeslaan moet word.
Só sê mnr. K.E.W. Penzhorn, hoofstreekbeampte van die afdeling grond- en veldbewaring in die Vrystaat, wat onlangs van ’n inspeksietoer in dié Britse protektoraat teruggekeer het.
Wolskape is aan die verdwyn in Betsjoeanaland, terwyl vleis- en Karakoelskape veld wen. Kommer heers oor Karakoelboerdery, aangesien dié skape ontsaglike skade aan die weiveld in die aanliggende Suidwes (Namibië) aangerig het.
Boere in Betsjoeanaland is geheel en al van die natuurlike weiveld afhanklik. Goeie veldbestuur is dus van die uiterste belang.
Die meeste plase in die gebied is nie met jakkalswerende draad toegekamp nie. Skaapboere op onomheinde plase moet noodwendig hul vee laat oppas, wat veroorsaak dat die veld uitgetrap en verniel word.
Daar moet ook gekies word tussen vleisbeesboerdery en groot melkbeesboerdery. Daar is baie te sê vir albei vorms van beesboerdery, meen Penzhorn, en ’n proefneming sal binnekort gedoen word om die twee stelsels met mekaar te vergelyk.
’n Belangrike vraag wat in so ’n proefneming beantwoord moet word, is of die kalf van ’n koei wat een keer per dag gemelk word, baie stadiger uitgroei as ’n kalf wie se moeder nie gemelk word nie.
’n Demonstrasieplaas, soortgelyk aan dié in Suid-Afrika, word ook in die vooruitsig gestel. Vir boere in Betsjoeanaland sal so ’n plaas welkom wees, want daar is nog baie probleme wat opgelos moet word, sê Penzhorn.