Nóg ’n onwelkome invoerproduk
SO saam met die onwelkome hoendervleis en GM mielies wat na Suid-Afrika uitgevoer word en boere die josie in maak, het die wind nou ook ’n ander onwelkome invoerproduk gebring – herfs-kommandowurms.
Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het verlede week gesê die departement is deur kenners van klimaatsverandering gewaarsku dat die droogte gevolg kan word deur ander plae, en sy departement was gereed die oomblik toe die wurms opgemerk is. Dit is ’n nuwe soort in Suid-Afrika en die land sal vorentoe nog beter voorbereid wees, het hy bygevoeg. Daar is ook verlede week met die Tesourie vergader om geld te probeer kry vir die bestryding van dié dreigende ramp.
Manie wil geensins in hierdie vroeë stadium swartgallig wees nie, maar hoekom lyk dit so al soos ’n herhaling van die reaksie op die droogte? Geen vroegtydige voorbereiding nie en geen geld vir ’n ramp nie. Dan word daar, soos met die droogte, geskarrel om geld te kry. Teen die tyd dat dit beskikbaar is, is die ramp verby.
Manie meen ’n mens hoef nie ’n kernwetenskaplike te wees om te kon voorspel dat die plaag na Suid-Afrika op pad is nie. Dit het in ’n betreklik kort tyd versprei tot in onder meer Malawi, Zambië en Zimbabwe. Dit was net ’n kwessie van tyd.
Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister van landbou, het ook ’n opstopper daaroor ingekry toe sy gesê het die internasionale vereniging vir plantbeskermingswetenskappe het al in Oktober verlede jaar gewaarsku dat die plaag vinnig in Afrika versprei. Tóé moes daar al gewerk word aan die noodregistrasie van plaagdoders – nie eers einde Januarie nie. Sy wil hê Zokwana moet die rampbestuursplan in die Parlement kom verduidelik. Sy vra ook dat die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye ondersoek instel na die staat se stadige reaksie. Manie moes darem ook in sy mou lag toe sy die insekdoders in haar verklaring “entstowwe” genoem het!
Die minister sê hy wil die georganiseerde landbou en bedryfsorganisasies in die bestrydingspoging betrek. Manie hoop van harte dit gebeur wel. Niemand beter as die boere sal weet wat nodig is om hierdie dreigende ramp af te weer nie. In alle regverdigheid moet Manie darem noem dat die departement al op 25 Januarie met belanghebbendes uit die bedryf en navorsers oor ’n plan van optrede vergader het, en op 27 Januarie is ’n tussentydse bestrydingsprogram bekend gemaak. Doen so voort!
RUS IN VREDE, JOOST
Joost van der Westhuizen, voormalige Springbok-kaptein en -skrumskakel wat pas weens motorneuronsiekte gesterf het, het volksbesit geword, soos dit in ’n sport- en veral rugbymal land soos Suid-Afrika hoort. Hy was nie ’n boer van enige aard nie, maar almal was lief vir hom en het hom in hul hart gedra sedert dié ongeneeslike siekte sowat ses jaar gelede by hom gediagnoseer is.
Daarom het Manie vir Chris Rossouw, boer en een van Joost se spanmaats in daardie roemryke
Bokspan wat in 1995 die rugbywêreldbeker gewen het, gevra om ’n huldeblyk vir dié formidabele mens te skryf.
Chris skryf: “In beskeidenheid en opregtheid bring ek hulde aan ’n begaafde, briljante rugbyspeler, spanmaat en vriend wat op ’n betreklik vroeë ouderdom aan ’n seldsame siekte gesterf het. Hy was vir ons almal, maar veral vir baie jong manne, ’n voorbeeld en ’n rolmodel. As speler het hy beskik oor deursettingsvermoë, die wil om te wen, krag, spoed, goeie oordeel, lojaliteit, trots en ’n geloof in homself en sy spanmaats. Ander teenstanders het hierdie eienskappe gevrees wat kenmerkend van Suid-Afrikaners is.
“Net so moet ons as boere elke dag ook dieselfde geloof en deursettingsvermoë toon wanneer ons bedreig word deur uiterste weerstoestande en ander probleme. Hy was ’n vegter wat nie wou verloor nie en het sy doelwitte nagejaag.
“Joost was lief vir sy mense, sy provinsie, sy land en sy spanmaats. Joost het respek teenoor sy spanmaats, sy teenstanders, sy afrigter en sy kaptein gehad. Hy was ’n leier uit eie reg. Eienskappe wat Joost tydens sy siekte geopenbaar het, was sy liefde vir sy gesin, sy veggees en volharding, maar ook sy omgee vir ander mense. Sy menswees sal bly voortleef in die J9-stigting wat hy op die been gebring het om mense te ondersteun by wie soortgelyke siektes gediagnoseer word. In die geskiedenisboeke sal sy naam opgeteken word as Een Van Die Grotes in Suid-Afrikaanse rugby. In ons harte sal Joost van der Westhuizen bly voortleef.”
WYNBOERE VIER FEES
Suid-Afrika se wynboere kan die begin van die wynbedryf tot op die dag naspoor. Die 358ste pars aan die Kaap is op 2 Februarie op Groot-Constantia gevier. Dit is waar die eerste wyn in die land gemaak is. Jan van Riebeeck het op 2 Februarie 1659 in sy dagboek geskryf: “Prys die Heer, vandag is daar vir die eerste keer wyn gemaak van Kaapse druiwe.”
Sedert 1974 het dit ’n gebruik geraak om ’n erepenning te oorhandig aan iemand wat groot skoene in die bedryf volstaan. Dié eer het al onder meer oudpres. Nelson Mandela te beurt geval. Vanjaar het mnr. Charles Back, die vernuftige man agter Fairview en Spice Route in die Paarl, die medalje ontvang.
In sy aanvaardingstoespraak het hy die gehoor vermaak met stories oor sy pa, Cyril, wat onder meer die eerste ou in die wynbedryf was wat ’n stootskraper gegebruik het om kalk dieper in die grond in te werk. Cyril was egter ook ’n aarts-entrepreneur. Van sy meer vergesogte planne het wit kalfsvleis ingesluit, asook ’n soort munt-outomaat wat hardgekookte eiers aan werkers verkoop.
Die Backs het destyds ook met varke geboer. Dat ’n Joodse familie met varke boer, het natuurlik wenkbroue laat lig. Toe Cyril daaroor uitgevra is, het hy net droogweg geantwoord: “Man, ons vreet mos nie ons profyt op nie!”
TROTSE BEDRYF
Op dieselfde geleentheid op Groot-Constantia het dr. Ernest Messina, voorsitter van dié landgoed, die wynbedryf aangemoedig om ’n agent vir verandering te raak en die bedryf te help vorm tot iets waarop alle Suid-Afrikaners trots kan wees.
Een van die doelwitte is om die bedryf meer verteenwoordigend te maak sodat dit die demografie van Suid-Afrika weerspieël.
Messina meen landgenote buite die wynbedryf moet bewus gemaak word van die bedryf se enorme historiese, maatskaplike en ekonomiese invloed. Hy het vertel van ’n bottel 1821 Grand Constance – ’n wyn wat Napoleon en ander bekendes oor die heen wêreld geniet het – wat in September weer sy pad tot op Groot-Constantia gevind het. Die wyn is in die Cloete-kelder op die plaas gemaak.
PROBLEME
Suid-Afrika se probleme het daardie dag by Furniture City begin toe mev. Gupta aan mnr. Gupta gesê het: “Skat, ons moet ’n kabinet koop . . .”