HONDSDOLHEID TREF NOORDWES-BEESKUDDES
’N UITBREKING van hondsdolheid het al minstens 21 beeskalwers in die gebied tussen Bloemhof en Schweizer-Reneke in Noordwes geëis.
Hulle is nou in die proses om al hul beeste teen die siekte in te ent, sê mnr. Cassie Maree van die plaas London.
Hy het tien kalwers verloor. Sy buurman het elf verloor. Hulle vermoed die virus is deur ’n jakkals of ’n rooimeerkat oorgedra.
Die vrektes by Maree het sowat drie weke gelede begin. Longontsteking is aanvanklik vermoed, maar die vrektes het aangehou. Hy het toe self met ’n kalf se kop na die Onderstepoort-instituut vir Veeartsenykunde gery om die siekte te laat identifiseer.
Hy sê die siek kalwers het almal die eerste dag ophou suip. Die tweede dag het hulle begin bulk en skuim om die bekke gekry. Hulle was ook half verlam in die agterlyf. Binne drie tot vier dae sedert hy dié simptome gesien het, het die diere gevrek.
Enige soogdier kan hondsdolheid opdoen.
Dr. Jan van Wyk van die fakulteit veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria skryf op die Vra vir Faffa-blad op landbou.com dat enige bees wat besonder hard en abnormaal kras bulk, uiters verdag en gevaarlik is totdat die moontlikheid van hondsdolheid uitgeskakel kan word. Dieselfde
geld gevalle met abnormale speekselloop, veral wanneer dit gepaardgaan met onvastheid op die voete, veral in die agterlyf.
Simptome van hondsdolheid by beeste stem dikwels baie ooreen met díe wat te siene is wanneer ’n vreemde voorwerp in die dier se keel of slukderm vassit.
Ná blootstelling aan die hondsdolheid-virus kan dit tot twee jaar duur voor die siekte opgemerk word. Moderne entstowwe is baie doeltreffend, maar wanneer die eerste simptome voorkom, is dit reeds te laat en is die dood onafwendbaar.