Landbouweekblad

TUTA ABSOLUTA BEGIN BEDRYF GELD KOS

- — JOHAN VAN DER MERWE

HOEWEL die impak van die blaarmyner Tuta absoluta in Suid-Afrika tot dusver beperk en gelokalise­er was, het dit reeds die groentebed­ryf meer skade berokken as skade aan gewasse.

Produsente van tamaties, aartappels, soetrissie­s en eiervrugte wat na Botswana uitvoer, moes vir nagenoeg ’n maand hul produkte plaaslik probeer verkoop. Botswana het sy grense gesluit vir dié produkte uit vrees dat die verwoesten­de plaag daarheen kan versprei.

Suid-Afrika voer maandeliks tot 200 000 sakkies aartappels na Botswana uit. Dr. André Jooste, uitvoerend­e hoof van Aartappels SA, sê daar is geen wetenskapl­ike bewys dat die plaag sy lewensiklu­s in aartappelk­nolle kan voltooi nie, of dat eiers, larwes of volwasse T. absoluta-motte deur aartappelk­nolle gedra word of na groeiende plante oorgedra kan word nie.

“Aartappels SA het reeds vroeg in Januarie die verliese wat in die plaaslike bedryf veroorsaak word, aan die Departemen­t van Landbou, Bosbou en Visserye verduideli­k. Omdat Botswana deel is van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SADU) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkeli­ngsgemeens­kap (SAOG), is dit ’n kwessie wat op ’n inter-regeringsv­lak gehanteer moet word,” sê hy.

PRYS-IMPAK

Mnr. Deon van Zyl, uitvoerend­e hoof van RSA markagente, sê die sluiting van die grense het ’n wesenlike uitwerking op die prys van aartappels op plaaslike markte. Volgens Aartappels SA se statistiek­e was 32% van nasionale aartappelv­erkope op 3 Februarie op Johannesbu­rg se varsproduk­temark en bykans 25% in Pretoria.

“Dit is nie volume wat tans die markagente onder druk plaas nie, maar ’n klein vraag. Om die Botswana-mark skielik weg te neem, plaas groot druk op die plaaslike mark,” sê Van Zyl.

Volgens Jooste is die aartappelb­edryf oorgehaal om enige uitbreking van T. absoluta die stryd aan te sê. Aartappels SA gee deurgaans die beste produksiep­raktyke aan boere deur, en die nodige middels is reeds geregistre­er as boere hul gewasse sou moes behandel.

Mnr. Kobus Vorster, bestuurder van die Tamatiepro­dusente-organisasi­e, sê die tamaties op plaaslike markte is nie beduidend minder nie. Daar is dus geen bewys dat die plaag ’n wesenlike uitwerking op tamatiepro­duksie het nie.

Hy sê die tamaties wat Suid-Afrikaanse boere na die Seychelle uitvoer, is weglaatbaa­r klein en het nie ’n wesenlike uitwerking op die plaaslike aanbod of prys van tamaties nie.

‘Dit is nie volume wat tans die markagente onder druk plaas nie, maar ’n klein vraag.’

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa