BOERE DIE HOENDERS IN OOR DUUR MIS
DIE penarie waarin die plaaslike hoenderbedryf hom tans weens goedkoop ingevoerde produkte bevind, het ook verreikende gevolge vir die vrugte- en wynbedryf. Dit is aangesien hoendermis, ’n organiese bemestingstof, byna onbekombaar en onbekostigbaar geraak het.
Pryse het binne tien maande met meer as 50% gestyg.
Mnr. Kobus Swart, tegniese raadgewer by Eco Pellets, die Wes-Kaapse vervaardiger van hoendermiskorrels, sê die probleem is so groot dat hulle hul produksie-aanleg na Namibië moes skuif.
“Dis ’n kettingreaksie as gevolg van die invoer van goedkoop hoendervleis. Die plase maak toe en daar is nie meer hoendermis in die Kaap nie. Dis ’n baie ernstige probleem. Ons organiese bemesting gaan verdwyn weens die invoer.”
’n Druiweboer van die Breedekloof, wat anoniem wil bly, sê hy het verlede jaar R130 per m3 vir hoendermis betaal, maar vanjaar kos dit R220 per m3. Hy koop 2 000 m3 hoendermis per jaar.
“Dis ’n klomp geld! Ek kan die anorganiese roete volg, maar dis nie goed vir die grond nie. Dis ook nogal duur. Op my klip- en sandgrond werk hoendermis in elk geval beter as kunsmis.”
LANDWYE PROBLEEM
Volgens Swart is die tekort landwyd ’n probleem. Hy kry selfs navrae van boere uit KwaZuluNatal. “Hoendermis het onbekombaar geraak.”
Mnr. Boetie Danger van Vallei Organics op Worcester sê Rainbow Chickens, wat onlangs meer as duisend werknemers moes aflê, moes verskeie planne beraam om kostedoeltreffender te wees. Een daarvan is om nie meer sy eie hokke te bou nie, maar aan boere uit te kontrakteer. “Die volumes het dus minder geraak, maar die vraag net meer.”
Mnr. Alex Conradie van JP Conradie-boerdery in die distrik Bronkhorstspruit sê tydens die droogte kon hulle nie voorbly om droë, gesifte hoendermis te verskaf aan veeboere wat dit as beesvoer benut het nie. Hulle het dit tot so ver as Upington versprei. “Ons koop baie braaihoendermis – dis die een met baie stikstof – en die prys wat ons betaal, is R65-R80 per m3. Voor die reën het ons te min hoendermis gehad om kompos te maak, maar hoendermis raak nou weer meer beskikbaar in ons gebied.”
MARK DEURMEKAAR
Bydraend tot die probleme in die Wes-Kaap, sê Danger, is nuwe toetreders wat “die mark deurmekaar gemaak het”.
“Sedert 2015 het ander mense ’n swak produk teen lae pryse aan die boere gebied. Nou kom boere agter die gehalte is nie wat dit moet wees nie, maar intussen het die nuwe maatskappye ook hul pryse verdubbel. Dit het die mark deurmekaar gemaak.”
‘Ons organiese bemesting gaan verdwyn weens die invoer.’