‘Kyk objektief na hoenderkrisis’
’N OBJEKTIEWE ontleding van die faktore wat tot die krisis in die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf bydra, is noodsaaklik om ’n oorhoofse strategie te kan opstel om die bedryf te red, sê me. Willemien Viljoen, navorser by die handelsregsentrum Tralac.
Daar was al soveel beskuldigings oor en weer tussen al die belanghebbendes in die bedryf dat daar volgens haar groot onsekerheid en verskille is oor die ware probleme in die bedryf en wat die oplossing vir ’n volhoubare toekoms op langer termyn is.
Die bedryf het al verskeie kere by die Kommissie vir Internasio- nale Handelsadministrasie (Itac) aansoek gedoen om beskerming teen die invoer van hoendervleis van oor die hele wêreld, hetsy vir invoer-, teenstortings- of beskermingstariewe.
“Die groeiende versoek om beskerming deur plaaslike produsente, die Suid-Afrikaanse Pluimveeprodusentevereniging en vakbonde het gelei tot bitter mededinging in die groter plaaslike bedryf.
“Dit het onenigheid veroorsaak tussen die Suid-Afrikaanse Departement van Handel en Nywerheid, en hoenderprodusente, vakbonde, verbruikers, invoer- en uitvoerorganisasies en handelsvennote, veral Amerika en die Europese Unie (EU).”
ANDER FAKTORE
Viljoen sê die redenasies wat gebruik word, dui aan dat die probleme in die bedryf dieper as bloot invoer lê. Verder is die jongste voorlopige beskermingstarief van 13,9% teen EU-invoer baie laer as die 37% waarvoor die bedryf gevra het.
“Wat benadruk moet word, is dat handelsregstellings net gebruik kan word tot die mate wat nodig is om die skade reg te stel wat veroorsaak is deur storting, subsidies of ’n styging in invoer, gegrond op getuienis voor Itac.
“Ander faktore wat skade veroorsaak het, kan nie toegeskryf word aan die aksie waarvoor ’n regstelling gevra word nie.”
Die Regering het ’n taakspan aangestel om ’n langtermynstrategie, binne die reëls van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO), op te stel om die bedryf te help.
“Daar is verskeie beleidsmoontlikhede wat gebruik kan word, soos plaaslike ondersteuningsmaatreëls, handelsregstellings, strukturele hervorming, steun aan nuwe toetreders, regeringsverkryging, bemarking en uitvoerbevordering, asook aandag aan nie-tariefversperrings,” sê Viljoen.
“Dit kan almal strook met die reëls van die WHO en ander bestaande handelsooreenkomste.”